Ds. A.E van den Berg
“En hy maak dat almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe ʼn merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word” (Openb.13:16).
God openbaar Hom in die Bybel as ʼn heilige Drie-eenheid. Satan boots dit met ʼn onheilige drie-eenheid na; die Satan, Antichris (eerste dier) en valse profeet (tweede dier). Net soos wat Christus as ʼn mens uit ʼn vrou gebore na die aarde gekom het, word die Antichris ook uit ʼn vrou gebore.
Die valse profeet is die hoof beliggaming van die valse kerk wat aan die einde van die tyd die wêreldgodsdiens gaan beheer. Sy optrede sal deur ʼn magdom van wondertekens gekenmerk word. Hy sal selfs soos Elia vuur uit die hemel laat neerdaal en maak dat mense die Antichris aanbid:
“Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thess.2:3,4).
Almal wat aan die Antichris onderdanig word, ontvang ʼn merk op die voorkop en regterhand waarsonder niemand sal kan koop of verkoop nie. Die veelbesproke 666-teken is die seël van die Antichris nadat die valse profeet sy werk gedoen het.
Oor wat hierdie teken gaan wees, kan net oor bespiegel word. Die onlangse tegnologiese deurbraak van mediese skyf-inplantings prikkel baie mense se belangstelling. Kan dit moontlik die begin-stappe wees van dit wat uiteindelik op die merk van die dier gaan uitloop? Dwaalleraars jaag allerlei spoke rondom hierdie merk op en verkondig dat mense binnekort mikroskyfies onder hul velle sal ontvang waarmee die Antichris die wêreld se handel sal beheer. Skrywers in Charismatiese kringe teer veral roekeloos op foutiewe eindtyd-spekulasies en maak baie geld daaruit maak!
Dit kan dalk eendag letterlik gebeur dat ʼn wêreldleier deur middel van moderne elektronika massas kan beheer. Dis egter nie waaroor Openb.13 gaan nie want van watter belang sou dit vir die eerste lesers van Openbaring hê om te weet dat mense 2000 jaar later mikroskyfies op hulle voorkoppe en regterhande sou hê? Net mooi niks nie!
Hierdie merk moet reg verstaan word. Let daarop dat die woord op ook in kan beteken. Die Antichris sal aan die einde van die tyd die mensdom se denk- en werksvermoë so aantas asof hulle op die voorkop en regterhand gemerk is. Die uitverkorenes van God sal dit nie hê nie en baie van hulle hul lewens weens hul getuienis vir Christus verloor. Martelaarskap is ʼn onmisbare deel van die eindtyd se geloofslewe en deel van die aftel van die dae na die einde toe.
Die 666 merk het alles met die wêreld waarin die kerk vandag sowel as 2000 jaar gelede geleef het te doen. Satan se twee handlangers sorg dat ongelowiges dit ontvang en vervolg hulle wat weier; die ware gelowiges. Hierdie merk is ʼn eindtyd-vorm van mense se vereenselwiging met die bose. Dis simbolies en nie letterlik nie. Om ʼn mediese of finansiële mikroskyfie in die regterhand of voorkop te laat insit, is nie die merk van die dier nie.
Die merk van die dier is slegs op diegene wat bewustelik aan die Antichris onderdanig word. Of dit ʼn inplanting-skyf, vereenselwiging-dokument of ʼn strepieskode is wat getatoeëer gaan word kan met geen sekerheid gesê word nie. Enige van hierdie dinge is moontlik. Desondanks bly alles net spekulasie.
Gelowiges moenie onnodige tyd aan die besonderhede daarvan spandeer nie. As die tyd aanbreek, sal die Heilige Gees hul van reg of verkeerd oortuig:
“...en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel” (Joh.16:8).
Die getal 666 wat met hierdie seël verbind word, lok al baie jare bespiegeling uit. Bybelverklaarders probeer al eeue lank om sekere mense met hierdie 666 te verbind sonder afdoende bewys, miskien omdat hulle die klem verkeerdelik op wie hierdie persoon is plaas in plaas van wat hy gaan doen.
Sommige van die oud kerkvaders het verkeerdelik geglo dat dit die woord lateinos uitspel en na Rome verwys. Hierdie getal is nie bedoel om soos ʼn raaisel uitgewerk en aan ʼn spesifieke persoon verbind te word nie. Dit dui eerder op die Antichris se handelsmag wat gelowiges gaan uitsluit.
Die 666 getal gaan nie oor werklike merktekens nie, maar oor baie dieper dinge soos die ontsettende houvas wat die Satan op die mensdom van die eindtyd gaan hê. Daarom sê Openb. 13:18 dat wysheid benodig word. Wanneer die Antichris openbaar word, sal dit duidelik wees wie hy is en hoe die 666 hom kenteken.
Al wat werklik saak maak, is dat gelowiges die geloof moet behou totdat Jesus weer kom om die boek van die lewe (burgerskapregister) te open. Diegene sonder die 666-merk gaan hemel toe. Wie dit het, gaan hel toe:
“En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp” (Openb.20:15).
Intussen verwag Christus van gelowiges om in die geloof te volhard, die laaste swaarkry te aanvaar en Jesus getrou te bly volg. God sal aan die einde teen Satan en sy magte oorlog voer en oorwin. Dis nie gelowiges se taak nie!