MOENIE MY VREDE VERSTEUR NIE!

Ds. A.E van den Berg

Inleiding

ʼn Mens is wat hy dink en moet bewustelik oor sy gedagtes waak omdat Satan dit onophoudelik teiken. Daarom bepaal die gehalte van denke grootliks die gehalte van lewe. Wie reg dink, dwaal nie. Verkeerde gedagtes laat mense egter gereeld in die pekel beland; selfs goeie mense met verkeerde oordeel.

Ongelukkig het ons volk toegelaat dat politici en kerklui met verkeerde oordele ons hand en voet aan die vrysinnigheid van die wêreld bind - slagoffers van die omstandighede wat onsself geskep het. Gevolglik kan ons in werklikheid geen vinger van beskuldiging na iemand anders as onsself wys nie!

1.   Onverskillig

Om die waarheid te misken, doof die lig van die lewe uit. Die Donker Eeue is juis so genoem,nie omdat lig destyds ontbreek het nie, maar omdat mense dit nie wou raaksien nie. Die geskiedenis leer dat mense nie uit die geskiedenis leer nie. Foute word telkens herhaal en dwase deur die stormwind van hul eie toedoen weggewaai.

Mense is van nature gemakliker met die leuen as met die waarheid. Van hulle raak dikwels so verstrengel in hul eie onwerklike verwagtinge dat die waarheid hulle hinder. Mense word so deur die gifgasse van vrysinnigheid bedwelm,dat hulle die hel vir die hemel aansien soos hier plaaslik gebeur het.

2. Gesonde verstand

Mense met baie verstand maar swak oordeel, raak gou ontnugter. Waarhede wat met die verstand opgeklaar is, bring rustigheid vir die gemoed. Talle groot waarhede is al eers bespot, daarna heftig teengestaan en in sekere gevalle lateras vanselfsprekend aanvaar.

As feite met verbeelding vermeng word, word verkeerde afleidings gemaak wat chaos veroorsaak. So ook waar mense verbeelding met feite probeer staaf. Verkeerde menings kan nog verskoon word, maar nie verkeerde feite wat vir die waarheid aangebied word nie!

3.   Denkers of volgelinge?

Mense is geneig om eerder te volg as om vir hulself te dink en sodra dinge skeef loop, pas hulle maar by die omstandighede aan asof daar geen ander keuse is nie. Sommige mense keer die waarheid om met leuens, terwyl ander ʼn blinde oog draai net om nie die kokon van kunsmatige vrede waarin hulle hulself toegespin het, te versteur nie.

Sulke mense verkrag hul eie gewete net om by die openbare mening aan te pas. Hulle gaan eerder ten gronde om as om foute te erken en reg te stel. Nogtans verwag hulle telkens ’n ander uitslag!

Dis moeilik om mense wat hulself met kettings van onkunde vasbind te bevry.   Hulle word nie deur die verstand nie, maar deur gevoelens gelei.   In baie gevalle weet hulle wat die waarheid is, maar glo nogtans die leuen omdat dit in ʼn polities-korrek vertrapte land soos Suid-Afrika van hulle verwag word.

Die ergste is dat mense maklik met leuens wat in godsdienstige taal geklee is mislei word, veral as dit as nuwe Bybelse insig aangebied word. Vrysinnigheid saai groot ongeloof onder ons volk sonder dat hulle dit altyd besef.   Hierdie kokon van valse vrede is ʼn lugspieëling in die woestyn van onkunde wat by volksgenote die drang om beproefde volkswaardes af te takel, aanwakker.

4. Teenvoeter

Die liefde vir die waarheid is ʼn teenvoeter vir vrysinnigheid. Niks onderskei mense van mekaar soos ʼn liefde vir die waarheid nie. Om die waarheid lief te hê, moet mense eers deur die bekering God leer liefkry. ʼn Liefde vir die waarheid getuig van God se beeld in ʼn mens.

Hierdie liefde gaan met stryd en opoffering gepaard. Dit maak mense egter vry en bly en soos snykunde – eers maak seer en daarna gesond. Die liefde vir die waarheid weerhou mense van sonde. Gevolglik is daar geen beter ding om te doen as om die waarheid te praat nie al klink dit vir sommige selfs na haatspraak.

Slot

Om die waarheid te verdedig, is vir gelowiges ʼn lewenslange verpligting. Waar hulle ophou om vir die waarheid te stry, neem booswigte oor.En al wat hulle nodig het om te floreer, is mense wat, soos diegene in die kokon,niks doen om dit te stop nie.

Al kom daar tye dat dit voel asof ons magteloos teen die onreg staan, mag ons nooit ophou om kapsie daarteen te maak en kokonne te versteur nie. Die stryd om die waarheid is die gom wat ons stukkende volk aan mekaar gaan heg!