PASOP VIR ‘N GEES VAN VREESAGTIGHEID!

Ds A.E. van den Berg

Want God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing” (2 Tim.1:7).                                  

Wanneer jy in die bosveld is en dit donker word, hoor jy naggeluide waarvan sommige jou selfs onrustig kan maak. As jy egter by ʼn kampvuur sit en die vuur brand hoog, hoor jy amper niks daarvan nie. As die vuur begin uitbrand, word jy al hoe meer van die naggeluide en moontlike gevare wat dit inhou bewus. Hoe kleiner die vuur, hoe swarter en gevaarliker word die nag.

Dis ook van die geestelike lewe waar. Vrees groei die weligste in beproewing en as dit donker in jou lewe word. Hoe sterker die vuur van die Heilige Gees in ons lewe brand, hoe minder vrees is daar.   Hoe flouer dit brand, hoe banger word ons vir die lewe en ontwikkel makliker ’n gees van vreesagtigheid.  

Paulus skryf aan Timoteus, ’n jongman wat die Evangelie verkondig en die wind van die heidene sterk van voor gekry het.   Dit het hom soms so bang laat word, dat hy wou ophou preek.   Paulus skryf in ’n tweede brief aan hom:

Want God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.   Skaam jou dan nie oor die getuienis van onse Here….maar ly saam verdrukkinge vir die evangelie…” (2 Tim.1:7,8).

Fotograwe gebruik ’n donkerkamer om negatiewe te ontwikkel en foto’s te maak. Dit klink teenstrydig dat ’n positiewe handeling in ʼn donker kamer uitgevoer word. Daar is egter ook ’n donkerkamer van die lewe waarin geen positiewe ontwikkeling plaasvind nie – die donkerkamer van vrees. Talle groot dinge kon al plaasgevind het as die kiem van vrees dit nie reg aan die begin gesmoor het nie!

Vrees is ʼn verskriklike ding. Dis soos ʼn siekte wat jou lamlê en magteloos maak. Dis egter nie ʼn moderne verskynsel nie, maar so oud soos die mensdom self.   Leesgerus Gen.3. Die eerste reaksie van die gevalle mens was vrees. Voor die sondeval het die mens met God gewandel. Na die val kruip hy vir God weg:

Ek het U geruis in die tuin gehoor en gevrees…” (vers 9).  

Vrees sou voortaan almal wat hul rug op God keer se lot word. Vrees beheer mense. Kyk hoe leef heidene in gedurige vrees vir bose geeste! Daar word aan geeste geoffer om hulle te paai. Ja, vir vreesagtiges sal die wêreld altyd gevaarlik lyk – die vrees vir die onsigbare.

So ook leef mense wat Jesus nie as Verlosser ken nie en gedurig bang vir die toekoms is en wat die noodlot met hulle kan aanvang. Dis die gees van die wêreld – vrees, vrees en nogmaals vrees!

Hoe anders is dit nie met gelowiges gesteld nie!   By hulle is daar ʼn ander gees te bespeur – die Heilige Gees wat die vuur van krag, liefde en selfbeheersing hoog in hul lewe laat brand.

Want julle het nie ontvang ’n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders deur wie ons roep: Abba, Vader!” (Rom.8:15).      

Ons leef tans in moeilike tye. Dit het nog nooit so sleg met ons land as tans gegaan nie. Wat het gebeur? Ons het Jesus verlaat! Die eertydse Christelike grondwet is met ’n wêreldse een vervang wat twee sterk geesteswêrelde met mekaar in botsing laat kom en ongekende ontwrigting gesaai het. Luister maar net na die skokkende misdaadsyfers – moord, verkragting, korrupsie ens. Vrees is die moeder van wreedheid. Gevare bring vrese en vrese net meer gevare.

Suid-Afrika het een van die gevaarlikste lande ter wêreld geword. Daar is bv. sedert 1994 meer as 40 nuwe soorte misdade aangeteken wat voorheen nooit bekend was nie. En so het ʼn gees van vreesagtigheid ons volk beetgepak soos nog nooit tevore in ons volksgeskiedenis nie!

Hoe raak ons volk van so ʼn gees ontslae? Is daar enige werkbare ontvlugtingsmeganismes?   Baie mense probeer dit in genot vind. Tydens die Tweede Wêreld-oorlog was daar in Brittanje gereeld sg. Black outs. Dan mag daar saans uit vrees vir vyandige aanvalle geen lig geskyn het nie. Bioskope is ook gesluit.   Mense het byna mal van spanning geword totdat die teaters weer oopgemaak is. Genot en plesier was ʼn ontvlugtingsmeganisme.

Ander soek ontvlugting in drank- en dwelmmisbruik. Hulle is bang vir die lewe en probeer die werklikheid ontsnap, al is dit net tydelik. Sommige beland in ’n doodloopstraat waaruit hulle nie kan ontsnap nie en pleeg dikwels selfmoord.

Watter raad is daar vir iemand wat deur hierdie gees van vreesagtigheid lamgelê is?   Moet hy homself maar net regruk soos die sielkundiges sê?   Dit gaan niks help nie! Dis soos om vir ’n drenkeling wat nie kan swem nie te sê dat hy maar net moet probeer swem. Hy moet sy eie lewensredder wees. Nee, as jy nie jou toevlug na Jesus, die enigste Lewensredder, neem nie, gaan jy beslis verdrink!  

Let weer op die teksvers:

Want God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing”.

Sien ’n ruiltransaksie hierin raak? Ruil jou vrees vir God se vrede in.

“Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en sinne bewaar in Christus Jesus” (Fil.4:6,7).  

Daar is geen ander reddingsboei in die stormsee van die lewe nie – as jy nie gaan ruil nie, gaan jy vir seker verdrink! God het vir jou die teenmiddel vir vrees: Sy vrede. Op die vooraand van Jesus se lydensweg sê Hy:

Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie” (Joh.14:27).

Wat ’n wonderlike getuienis lewer gelowiges nie as hulle te midde van gevaar nie bang is nie!  

Dit word vertel van ’n skilderkompetisie wat jare gelede in Europa gehou is en baie skilders gelok het. Die tema was vrede. Die meeste skilders het rustige natuurtonele geskilder. Die wenner het egter iets anders geskilder; ’n voëltjie op haar nessie in ’n boomwat enige tyd in ’n siedende waterval kon afval. Sy het vreesloos op haar nes gesit. So ook met die vrede van God – rustigheid te midde van ’n wêreld wat kook. Dis die vrede waarvan Paulus melding maak.  

Paulus berispe Timoteus op ʼn mooi manier. Hy was ‘n jongman en gespanne oor die toekoms. Paulus skryf dat God nie ’n gees van vreesagtigheid by gelowiges wil sien nie, maar ’n gees ”… van krag en liefde en selfbeheersing”.

Krag wanneer die gelowige sterk staan en ongelowiges in swakheid versink.   Liefde wanneer haat ’n deug in ’n onreg-bedeling geword het. Selfbeheersing wanneer mense van spanning oorboord wil gaan.   Hiervoor is die krag van die Heilige Gees nodig. Hy laat ons lewensvuur so hoog brand dat ons die onheilsgeluide nie hoor nie.

Dis tragies om ʼn paar dinge in die lewe te begeer, maar ʼn magdom te vrees. Die grootste vrees is in ons gedagtewêreld. In tyd van vrees dink geen mens normaal nie. Vrees is ʼn kiem wat die verstand aantas en die vernietigende element in baie mense se gedagtegang

Moenie jouself in jou vrese verloor nie. Laat jou geloof groot en jou vrese klein wees. Gevaar is ʼn werklikheid; dis ʼn feit. Vrees is egter ʼn keuse. Moenie vrees nie staan 365 keer in die Bybel; God se daaglikse herinnering dat gelowiges vreesloos moet leef. Jy het een van twee keuses - voed jou vrese en jou geloof lei honger of voed jou geloof en jou vrese sterf. Kies reg!