KERSBOODSKAP

Is jy skoon?

Ds A.E. van den Berg

“Toe sê die Here vir Samuel: Luister na die volk in alles wat hulle aan jou sê, want nie jou het hulle verwerp nie, maar My het hulle verwerp om nie koning oor hulle te wees nie” (1 Sam.8:7).                                    

Kerstyd is ’n tyd van blydskap en vreugde want ons herdenk God se koms na die aarde in Christus Jesus, onse Here. Dis egter geen ydele blydskap nie, maar iets anders; ’n blydskap wat ’n mens nederig maak, want dis die verhaal van ’n Koning wat teruggestaan het. God het in Christus vir ons teruggestaan.  

In die Ou Testament sien ons iets hiervan in 1 Sam.8 toe Israel God as koning verwerp en soos die heidenvolke ’n aardse koning bo Hom verlang het. God het hulle hul sin gegee en letterlik vir ’n aardse koning teruggestaan.   Dit was ’n hartseer stuk geskiedenis in Israel se volkslewe met bittere gevolge vir die volk.  

Israel wou nie verder onder God vry wees nie, maar eerder slawe wees. Ons ken die verhaal hoe God hulle na 400 jaar van slawerny uit Egipte verlos en vry gemaak het deur aan hulle die beloofde land te gee. Dit was egter katastrofies want i.p.v. voor God te buig, het hulle voor afgode gebuig soos aan die voet van Horeb met die goue kalf gebeur het toe Moses te lank weggebly het.

Na die dood van Josua het Israel verskeie rigters gehad; ’n skandalige tydperk in hul geskiedenis.   Dink net aan Simson se eskapades!   Samuel was die laaste rigter en het goed regeer. Toe hy egter oud begin word, was Israel bekommerd dat daar nie ’n geskikte opvolger sou wees nie en by hom vir ’n koning gepleit.

Israel wou ’n koning hê wat oorloë voer en vyande onderwerp.   Hulle wou nie anders as die nasies rondom hulle wees nie, maar soos hulle.   Paulus skryf aan die Romeine om nie aan die wêreld gelykvormig te word nie, maar anders te wees. Israel wou nie anders wees nie en het as’t ware vir God as koning afgedank.   Samuel was platgeslaan met hulle versoek; nie oor sy amp as rigter nie, maar oor God wat afgedank is!   God praat met hom:

“... Luister na die volk in alles wat hulle aan jou sê, want nie jou het hulle verwerp nie, maar My het hulle verwerp om nie koning oor hulle te wees nie”.

Hy moes aan hulle eis toegee; God sou abdikeer en terugstaan.

God loop nie soos ’n stootskraper oor mense wat nie in hul spoor trap nie.   In sy liefde om sondaars van ’n ewige dood te red, staan Hy selfs terug soos eeue later weer gebeur het toe Hy weereens teruggestaan het sodat Jesus mens kon word, nie net om verwerp nie, maar ook gekruisig te word.   In ons geestesoor hoor ons: “Ons wil nie ’n hemelse koning hê nie. Kruisig Jesus, laat Barabbas los!”

Israel wou ’n koning soos die heidene hê. Hulle wou nie vry wees nie, maar eerder slawe.   Hulle wou nie gered word nie, maar verlore gaan.   En wat maak die hemelse Koning?   Hy staan terug soos eeue later weer in Betlehem gebeur het.   Daarom is die Kersvreugde ook ’n skaamvreugde, want die hemelse Koning het teruggestaan.  

In Betlehem sien ons hoe die hart van ’n genadige God klop en hoe Hy in Christus Jesus agteroor buig sodat sondaars gered kon word.   Ons sien hoe Hy deur sy eie vernedering die sonde-puin in ons lewens opruim en vuil lewens skoon maak.   Dit laat ons die Kersgebeure in ’n ander lig sien.

Nou maak dit sin dat Jesus in ’n arm familie gebore is, in ’n krip moes lê, twee jaar lank in ’n gehuggie in Betlehem moes woon en daarna in ’n veragte Nasaret moes grootword, ’n dorpie 100 km noord van Jerusalem en so onbeduidend dat dit nie eens in die OT genoem word nie.   Dit was ’n swak woongebied met baie arm, dom en sedelose mense.   Daarom vra Nataniël vir Filippus:

“… Kan daar uit Nasaret iets goeds wees?...” (Joh.1:47).

Toe Jesus gebore is, het vooraanstaande Jode nie eerste van sy geboorte verneem nie, maar eenvoudige herders wat as die vodde van die samelewing verag is.   Selfs die spesiale ster wat verskyn het, is nie deur Jode gevolg nie, maar deur heidense sterrekykers.   Heidene het meer van Hom geweet! Die Evangelie sou later met krag en goeie gevolge aan heidene verkondig word.

Jesus het Hom met die menslike vlees besoedel om die puin in ons lewe op te ruim.

“Hy tog het soos ’n loot voor sy aangesig opgespruit en soos ’n wortel uit droë grond.   Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie en geen voorkoms dat ons Hom sou begeer nie” (Jes.53:2).

Middeleeuse skilderye beeld Jesus as ’n super heilige met ’n stralekrans om die kop uit.   Dis onwaar!   Jesus was eenvoudig:

“Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart en julle sal rus vind vir julle siele” (Mt.11:29).

Jesus was ’n eenvoudige mens sonder aansien.

“Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte as ’n dienskneg aan te neem en aan mense gelyk te word; en in die gedaante gevind as ’n mens, het hy homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe…” (Fil.2:6-8).  

Weens sy eenvoud het groot skares mense graag na Hom geluister.

“… En die groot menigte het graag na Hom geluister” (Mark.12:37).

Jesus het tussen baie eenvoudige mense grootgeword en nie soos ’n geprogrammeerde supermens uit die hemel geval nie. Hy het nie eens ’n besondere naam gehad nie.   Jesus was ’n baie algemene naam in daardie dae. Mense is ook gesteld op hul stamboom. Jesus s’n het ’n paar twyfelagtige karakters gehad!  

Jare gelede het ’n ryk Amerikaanse vrou ’n skrywer gehuur om haar biografie te skryf.   Tydens die navorsing het hy gevind dat ’n oupa van haar ter dood veroordeel en in die elektriese stoel tereggestel is.   Sy was ontsteld en hom gevra om hierdie inligting op so ’n wyse te weergee dat dit geen klad op haar familie sou laat nie.   Hy skryf toe as volg: “Haar oupa het ’n baie warm posisie in een van Amerika se bekendste instellings beklee. Hy was baie geheg daaraan en het letterlik in die tuig gesterf”.

Wanneer ons na Jesus kyk en ’n God van liefde raaksien, word ons opnuut bewus van ons eie bedorwenheid. Dat dit die Skepper gekos het om mens onder ons te word sodat ons die ewige lewe kan verkry, gaan ons verstand te bowe! God kon ons aan ons eie rampsalige lot oorgelaat het, maar Hy het nie en uit liefde teruggestaan sodat ons deur die bekering in die hemel kom.

Daar was geen ander manier wat ons van die hel kon bevry nie. Geen mens kan vir sy redding werk nie.   As daar vir verlossing gewerk kon word, sou donkies en perde ook hemel toe kon gaan.   Geen mens verdien sy verlossing nie.   Daarvoor moes God in Jesus terugstaan deur ’n mens te word.  

Hy moes tot die vlak van ’n nederige dienskneg wat selfs sy dissipels se voete gewas het, verlaag word om ons as kinders van die ewige Koning te verhoog.

“Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy die mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy naam glo” (Joh.1:12).  

God se Kind het mens geword sodat mense God se kinders kon word.

Jesus het vuil geword sodat ons skoon kon word.   Dis liefde! Daarom is Paulus se beskrywing van die liefde in 1 Kor.13 as’t ware ’n portret waarvoor Jesus self geposeer het.   God het in Jesus vir elkeen van ons ’n paar treë terug gegee. Soos in die tyd van Samuel het die hemelse Koning teruggestaan.

Dit wat op Kersdag gebeur het, was nie maar net ’n mooi gebaar van God nie, maar om die puin van sonde in ons lewens op te ruim sodat ons waarlik vry kan wees.

As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees” (Joh.8:36).  

’n Mens is of vry of gebind. Hoe lyk jou lewe?   Is jy vry of is daar iets wat jou bind; iets waaraan jy verslaaf is?  

Met Kerstyd maak ons graag huise skoon want familie of vriende kom kuier, maar hoe lyk ons lewens?   Is dit vuil of skoon?   ’n Koning het vir jou teruggestaan sodat jy deur die bekering skoon kan word:

“... en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde” (1 Joh.1:7).  

Is jy skoon en vry of het die hemelse Koning tevergeefs vir jou teruggestaan?