...Die wedergeboorte en die mieliepit
Ds A.E. van den Berg
“Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Joh.3:3).
Ons het almal al gesien hoe springmielies skiet. Dis ʼn tipe mielie wat geoes, gedroog en die pitte van gestroop word. Om springmielies te verkry, word dit in olie van tot 230 C verhit waarna dit in geheel van voorkoms verander.
Wat gebeur is dat die druk in die pit weens die verhitting verhoog en die water in die kern van die mielie uitsit. Die stysel in die binnekant vorm dan wit borrels wat solied word; reg om te eet. ʼn Springmielie is ongeveer 50 keer groter as die oorspronklike pit en heerlik om te eet.
Met die wedergeboorte werk dit net so. Sonder die Heilige Gees is jy ʼn droë mieliepit. Al die elemente is daar om ʼn springmielie te word, Dit kort net hitte waarna die mielie ontpop en bruikbaar word. Die Heilige Gees verskaf die nodige hitte.
Vir ongelowiges lyk die wedergeboorte onnodig te wees. Hulle glo dat ʼn mens maar net mooi moet leef om hemel toe te gaan. Dis nie wat Bybel sê nie. ʼn Mooi lewe sonder die bekering bring jou geen sentimeter nader aan die hemel nie. Miljoene goeie mense het dit al te laat besef. Die Bybel sê dat die wedergeboorte onontbeerlik vir ʼn geluksalige hiernamaals is.
Baie mense glo dit nie en glo maar dat mieliepitte maar net mieliepitte is. As hulle mense sien wat deur die Gees ontpop het, reken hulle dis gekheid. So ʼn opmerking is niks nuuts nie. Met die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag het die dissipels in 14 verstaanbare tale van die groot dinge van God getuig. Ongeveer 3000 mense het daar en dan tot bekering gekom. Ander het gespot en gesê dat hulle vol soetwyn is!
Al sien die wêreld nie die sin van die wedergeboorte in nie, het die mensdom ʼn groot behoefte daaraan. Hoe meer wedergebore mense, hoe gesonder word die wêreld. Daarenteen is verlorenes soos mieliepitte wat nooit verder as die oes kom nie. Hulle verstaan nie die andersheid van die springmielies nie want springmielies praat, doen en dink anders as die droë pitte.
Nikodemus het dit aanvanklik ook nie verstaan nie. Hy was ʼn gesiene man in Jerusalem en baie godsdienstig. Nogtans het hy besef dat godsdienstigheid hom nie in die hemel sal bring nie. Daar moet iets meer as dit wees. Nikodemus was in ʼn doodloopstraat en ‘n doodloopstraat is die beste plek vir omdraai. God laat U-draaie in die lewe toe.
Maar hoe het Nikodemus by Jesus uitgekom? Hy moes al die wonderlike dinge wat Jesus gedoen het, gehoor het. Daarom het hy een nag na Jesus gegaan om ʼn antwoord op ʼn sekere vraag te kry: Hoe kan ek van die redding van my siel baie seker wees? Dis die belangrikste vraag wat enige mens homself kan afvra!
Kan ʼn mens werklik 100% seker wees? Die meeste mense glo dat jy maar net mooi moet leef en hoop vir die beste; amper soos ʼn eksamen – leer hard en hoop vir die beste. Dis geen sekerheid nie maar eerder onsekerheid! Jy kan 100% geloofsekerheid hê. Jesus sê self:
“Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie” (Joh.6:37).
Daarvoor moet jy wedergebore wees.
Jesus sê daardie nag vir Nikodemus dat hy geestelik weer gebore moet word. Niemand gaan die ewige heerlikheid sonder die wedergeboorte in nie. Nie kerkgang, dankoffer, Bybellees of gemeentelike betrokkenheid of wat ook al kan jou siel red nie; slegs die wedergeboorte. Dis ʼn nuut word in Christus.
Die wedergeboorte lyk vir ongelowiges sinneloos.
“Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word. Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie. Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus” (1 Kor.2:14-16).
Al lyk die wedergeboorte vir ongelowiges onsinnig, gebeur dit nogtans. Kyk wat met Paulus gebeur het! Toe hierdie klipharde Fariseër met die vuur van die Heilige Gees in aanraking kom, het die buitengewone gebeur – die klipharde mieliepit het ontspring! Die klipharde lagie wat sy trots en eiewaan bymekaar gehou het, het onder die druk van die Heilige Gees ʼn nuwe gestalte aangeneem en ʼn wonderlike werktuig in die koninkryk van God geword!
Daardie sonde-laag wat verhoed dat jy ʼn kragtige werktuig vir God word, gee met die wedergeboorte mee waarna ʼn spierwit springmielie te voorskyn kom; wit en sonder smet soos ʼn pasgebore baba. Jou sonde is vergewe en jou siel het nuut geword. Daardie harde lagie is weg. Al wat oorbly is klein stukkies geel aan die binnekant om jou daaraan te herinner dat jy steeds ʼn sondaar bly. Maar ʼn anders soort sondaar; ʼn begenadigde sondaar met sekerheid van verlossing.
Die wedergeboorte maak van jou ʼn nuwe mens:
“Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword” (2 Kor.5:17).
Die wedergeboorte is nie by almal dieselfde nie. By sommige mense vat dit ʼn geestelike lang tyd en by ander is dit weer vinnig soos met Paulus. Toe hy op pad na Damaskus was en ʼn lig uit die hemel op hom skyn en Jesus met hom praat, word hy weer gebore, nuut en bruikbaar vir die Here.
Voordat die springmielie ontpop, is dit basies niks werd nie. As dit deur die verhittingproses gaan, kry dit ʼn nuwe voorkoms; dit lyk anders, smaak anders en is van nut. As jy nie vir Jesus in jou lewe oopmaak nie, bly jy ʼn droë, harde mieliepit met al jou geestelike moontlikhede in jou harde sonde doppie toegevou – nutteloos vir God.
Springmielies spring teen ongeveer 230 C. Soms moet God ons warm maak voordat ons vir Hom diensbaar is. So ʼn warmmaak proses is soms baie onaangenaam, maar dit wat daaruit vloei, is wonderlik. Vra maar vir Jona!
Het Jesus lig in Nikodemus se geestelike duister gebring? Onthou, Jesus dwing geen besluit op ʼn mens af nie. Hy gee slegs raad. Mense moet self besluit. En een enkele besluit maak die verskil tussen hemel en hel. Ons kan nie die lewe van vooraf begin soos Nikodemus aanvanklik verstaan het nie. Ons kan wel deur die wedergeboorte ʼn ander eindbestemming bereik. Wie eenmaal gebore word, sterf twee maal. Wie twee maal gebore word, sterf net een maal!
Ons kan met redelike sekerheid aanvaar dat Nikodemus Jesus se saligmakende raad aanvaar het. In Joh.19 lees ons dat hy saam met Josef van Arimathéa die liggaam van Christus na sy dood by die kruis gaan haal het waarna hulle dit met olie behandel, in doeke toegedraai en in Josef se eie graf geplaas het. Daar was ʼn ommekeer. Nikodemus het kind van God geword.
Dit gaan in hierdie preek egter nie oor Nikodemus nie maar oor jou. Het jy al die wedergeboorte gesmaak? Is jy bruikbaar vir God? Is jy ʼn harde pit of ʼn springmielie? Moenie uitstel nie!