Ds A.E. van den Berg
“Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee” (Mt.11:28).
Geen grafskrif is so geyk as rus in vrede nie. Grafsteenmakers bring dit al vir baie eeue op grafstene aan. Dit pryk selfs op grafte van vroeë Christene in katakombes meer as 1500 jaar oud. Wat is die oorsprong daarvan? Dit kom van die Latyn en is ʼn biddende versoek dat die liggaam tot die oordeelsdag toe vreedsaam in die graf sal rus om daarna op te staan en met die siel herenig te word en in ʼn ewige, vreugdevolle heerlikheid tegemoet te gaan.
Die probleem is dat hierdie grafskrif geensins Protestants is nie maar eerder diep in ʼn Roomse tradisie ingeburger is. Dis deel van die Roomse dwaling om vir dooies te bid. Die oomblik as ʼn mens sterf, is sy lot verseël en kan geen gebede iets aan sy ewige lot verander nie.
Daarbenewens is rus in vrede nie Skriftuurlik korrek nie. Die naaste wat die Bybel daaraan kom, is aan die einde van die boek Daniel waar ʼn engel sê:
“En jy, gaan heen na die einde; en jy sal rus en weer opstaan tot jou bestemming aan die einde van die dae” (Dan.12:13).
Dis egter nie ʼn bewysplaas nie.
Rus in vredeword gebruik om die gedagte aan die dood te versag. Uitsprake soos: “Hy is nou ʼn engel”, “God het nog ʼn engel in die hemel nodig gehad” of “hy is nou in ʼn baie beter plek”, is onsinnig. Baie oorledenes op wie se grafte hierdie grafskrif pryk, is op ʼn baie slegter plek!
Ironies genoeg raak mense wat nie godsdienstig is nie soms baie godsdienstig tydens begrafnisse. Luister veral na huldeblyke! Hulle glo dat hulle self nie te sleg leef nie en ook hemel toe sal gaan. Dit wat Jesus by geleentheid vir die Skrifgeleerdes gesê het, geld ook vir hulle:
“Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie” (Mt.22:29).
Die Bybel sê dat die fisiese dood nie die einde van die mens is nie: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê..... maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.” (Joh.3:16-18).
Daar is twee eindbestemmings - hemel en hel.
“En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel” (Mt.10:28).
In sy profetiese rede sê Jesus:
“En hulle sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe” (Mt.25:46).
Daar is geen duideliker voorbeeld van wat na die dood met ʼn mens gebeur as in Luk.16 nie. Jesus vertel van ʼn onverskillige ryk man en ʼn gelowige bedelaar. Die ryk man het tydens sy lewe nie aan God gedink nie en is na sy dood na die doderyk toe. Lasarus het weer niks anders as die redding van sy siel gehad nie en is na sy dood na ʼn ewige heerlikheid.
Die Bybel sê dat mense wat sonder die bekering tot Jesus sterf, geen rusplek vir hul siel vind nie:
“Geen vrede, sê my God, vir die goddelose nie” (Jes.57:21).
Hoe anders is die dood nie vir hulle wat in Christus sterf nie!
“Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees” (Rom.8:1).
Paulus skryf aan die Tessalonisense:
“Maar broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie” (1 Thess.4:13).
Desondanks al die hartseer en verdriet van die dood is daar hoop vir gelowiges!
Die Bybel verwys soms na die dood as ʼn slaap:
“Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het” (1 Kor.15:20). “wat vir ons gesterf het, sodat ons, of ons waak en of ons slaap, saam met Hom kan lewe” (1 Thess.5:10).
Hierdie slaap is ʼn metafoor om aan te toon dat die dood vir ʼn gelowige tydelik is.
Paulus skryf aan die Korintiërs dat om uit die liggaam te wees (dood), is om by Jesus in te wees:
“Maar ons het goeie moed en verkies om liewer uit die liggaam uit te woon en by die Here in te woon” (2 Kor.5:8).
Wie Jesus Christus as Verlosser aangeneem het, is na hul dood by Hom in die paradys. Luister wat sê Jesus vir die bekeerde misdadiger op Golgota :
“ En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees” (Luk.23:43).
Daar is egter wel rus en vrede na die dood te vind. Wie deur die bekering in ʼn persoonlike verhouding met Jesus Christus verkeer, stap na sy dood die ewige rus in. Sielerus begin by die bekering: “want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne. Laat ons ons dan beywer om in te gaan in dié rus, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoorsaamheid mag val nie” (Hebr.4:10,11).
Wie hom egter nie bekeer nie, mis dit vir ewig.
Hierdie rus baar ʼn vrede wat alle verstand te bowe gaan:
“Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie...” (Joh.14:27).
Paulus skryf: “En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus” (Fil.4:7).
Paulus sê vir gelowiges van Filippi:
“Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God” (Fil.4:6).
Besorgwees en kommer oor die lewe dui op wantroue in God se leiding. Dit pas nie by gelowiges nie. Ps.1 sê hoe die gelowige wat sy rus in God gevind het optree:
“... maar sy behae is in die wet van die Here, en hy oordink sy wet dag en nag”(:2).
Innerlike rus en vrede kom van Jesus wat ʼn kalmte aan elke gelowige wat daarna smag, beloof.
“Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee” (Mt.11:28).
God wil net die beste vir sy kinders hê.
“En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is” (Rom.8:28).
Dit is die ware rus in vrede wat God vir sy kinders bestem het, nie eers na hulle dood nie, maar terwyl hulle leef. Daardie Rus in vrede van grafskrifte is ʼn afgesaagde, niksseggende meegevoelbetuiging en niks meer nie. Om dooies na hul dood met geykte sinlose grafskrifte te vereer, is sinloos en verander niks aan hul ewige eindbestemming nie. Die enigste rus in vrede is in die bekering voor die dood te vind en nie daarna nie!