DINK REG, LEEF REG

Ds A.E. van den Berg

“… en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus”

(2 Kor.10:5).

Die lewe is wat ons gedagtes daarvan maak. Dis belangrik om te weet wat gedagtes is en hoe dit werk want dan dink ʼn mens baie anders oor die lewe. Geleerdes het vasgestel dat gedagtes meer as net blote breinflitse is. Gedagtes het ʼn fisiese struktuur met ʼn chemiese uitwerking op die liggaam.

Meer as 90% van alle sielkundige probleme ontstaan in die gedagtewêreld. Ons geestelike gesondheid word deur hoe ons dink bepaal. As ons die aard van ons gedagtes verstaan, kan ons ʼn greep daarop kry en die Heilige Gees toelaat om dit ten volle te beheer.

Geleerdes sê dat die mens se brein soos ʼn woud met baie bome lyk waarop ʼn sagte chemiese reën neersif. Hierdie bome word senuselle genoem en staan dig op mekaar; 100 biljoen in elke brein! Elkeen van hulle het ongeveer 100 triljoen verbindingsrade. Indien dit losgemaak en ʼn tou daarvan gemaak kon word, sou dit maan toe en terug gespan kon word. En dit in elke brein!

Daarbenewens het elke senusel tot 70,000 takke. Indien die menslike brein maksimaal benut kon word, sou dit die water van die Victoriawatervalle neem om dit koud te hou. En ons dink dat die rekenaar wonderlik is? Ons brein is baie wonderliker as die wêreld se meesgevorderde rekenaar!

Wie maak rekenaars? Verskeie elektroniese instansies. En die brein? God maak dit. Die rekenaar is nou wel ʼn elektro-tegniese wonder maar die brein is ʼn Godswonder!   Genesis sê dat die mens na God se beeld en gelykenis gemaak is. Die mens is die enigste van God se skeppings met so ʼn brein. ʼn Hond, bok en ʼn vis het ook ʼn brein, maar hulle reageer instinktief. Daar is geen denke of nadenke soos by mense nie. God het ons intelligent gemaak.

As ons hieroor nadink, wil ons soos Dawid verwonderd oor God se handewerk uitroep: “Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: Ek kan daar nie by nie” (139:6). “Ek loof U omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit al te goed” (:14).Paulus roep uit: O, diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë” (Rom.11:33).

Neuroloë sê hoe meer ons dink, hoe meer takke groei daar uit hierdie bome. As ons goeie dinge dink, groei daar gesonde bome. As ons bose dinge dink, groei daar doringbosse. Daar is dus goeie en slegte bome in ons gedagtewêreld. Sonde laat slegtes opkom. Indien dit nie uitgeroei word nie, groei dit so welig, dat dit die goeies verdring en doodmaak.

Wat laat goeie bome opkom en toeneem? Dankbaarheid, goedheid en vergifnis. Dis die onkruiddoder wat die tuin van ons lewe skoonhou. Ondankbaarheid, kwadegevoelens en onvergewensgesindheid laat dit vervuil.

Neuroloë sê dat daar ʼn ooreenstemmende elektrochemiese reaksie vir elke gedagte is. Elke keer as ons dink, vloei sekere chemikalieë in reaksie daarop deur ons liggaam. Dit veroorsaak elektromagnetiese golwe wat, as ons dit kon hoor, soos ʼn simfonie-orkes sou klink. As ons gelukkig voel, word sekere chemikalieë vrygelaat en as ons ongelukkig voel, ander. Daar is ʼn chemikalie vir elke soort emosie wat ons ervaar. Geleerdes kon dit na deeglike navorsing selfs namaak. Dis waar antidepressante vandaan kom.

Dit bring ons by die belangrikste aspek van die brein; die elektromagnetiese aard daarvan. God het ons gedagtewêreld so geskep. Hy beheer dit egter nie. Hy het iets in die frontale lob van ons brein geplaas wat ons in staat stel om ons gedagtewêreld te beheer. Daardie iets is die vrye wil. En dis die sterkste deel van die mens se breinsamestelling.

Die DNS verskil hier van die res van die brein. Dit het die vermoë om te kan kies. God het dus ʼn vrye wil in ons brein ingebou waarmee ons besluite neem. Soms wyse besluite soos die Verlore Seun wat na sy vader teruggekeer het en soms besluite soos Simson wat as Nasireër vir God afgesonderd moes leef, maar onsedelik geleef en jonk gesterf het.

Ons moet oor ons ons denke waak. Negatiewe gedagtes werk nie net op die gees in nie, maar ook op die liggaam. ʼn Siek gees veroorsaak ʼn siek liggaam. Daarenteen kan net een positiewe gedagte jou hele lewe verander. Dink maar net aan die bekering.

Waarom verkwis mense soveel tyd op negatiewe dinge? Daar is nie genoeg ruimte vir geloof en kommer in jou gedagtewêreld nie. Jy besluit watter een gaan en watter een bly. Salomo sê: “... want soos hy in sy siel bereken, so is hy…” (Spr.23:7). Paulus sê: “Verder broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit” (Fil.4:8).

Vat jou gedagtewêreld vas, anders neem Satan daarvan besit. “..en gee aan die duiwel geen plek nie” (Efes.4:27). Satan geniet dit om die natuurlike vloei van chemikalieë in jou brein te belemmer. Hy kan dit egter nie sonder jou toestemming doen nie. Moet dit nie toelaat nie; ou Niek het planne met jou! “… sodat ons nie deur die Satan bedrieg sou word nie; want ons is nie onbekend met sy planne nie” (2 Kor.2:10,11).

As jy Satan toelaat om met jou brein te peuter, veroorsaak dit ʼn emosionele stoornis met ʼn negatiewe invloed op jou liggaam. Dan ontstaan emosies soos vrees, kwaad, aggressie en neerslagtigheid waaruit niemand voordeel trek nie; nie God nie, nie jy nie en ook nie ander mense nie.

Wat help dan; nog ʼn pil? Nee, ʼn ander voorskrif – rein gedagtes. Rein gedagtes is soos blomme vir die siel. Dit neem alle negatiewe gedagtes gevange: “...en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus” (2 Kor.10:5).

Die Griekse werkwoord wat hier gebruik word, is ʼn sterk werkwoord. Dit beteken letterlik slaan sulke gedagtes in boeie deur dit aan Jesus te onderwerp. Ons grootste stryd lê in ons kop. Daar is soms groter stryd in mense se koppe as in hul lewens. Paulus pleit – laat Jesus oor elke gedagte heers!  

Om ʼn oorlog te wen, moet ʼn duidelike, doelgerigte strategie gevolg word. Geen militêre leier dons blindelings in ʼn oorlog in nie. Daar moet vooraf beplanning wees. En dis ook wat ons met ons gedagtewêreld moet doen.

Die vyand is geïdentifiseer – Satan. Jy moet besluit hoe jy hom gaan aandurf. As jy wil wen, moet jy weier dat Satan jou gedagtewêreld besmet. Jy is nie ʼn gevangene van jou lot nie. Jy is hoogstens ʼn gevangene van jou verkeerde gedagtes. Die wolf in jou kop verhoed dat jy die skaap in jou siel raaksien.

As jy in die lewe wil vlieg, moet jy van alles wat jou kan aftrek, ontslae raak. Begin by jou kop. Hou op om jouself in stukkies op te breek net om mense ter wille te wees. Bly heel en laat hulle aan jou verstik as dit dan moet. Wees net jou oorspronklike self; dis beter as ʼn kopie.

Laat jou lewe soos ʼn sonneblom wees; gesig na die lig toe. As jy net na die son kyk, sal die skadu’s van die lewe altyd agter jou wees. Wees so positief dat negatiewe mense dit nie met jou kan uithou nie. En dis net moontlik deur jou gedagtewêreld skoon te hou deur elke gedagte aan Christus te onderwerp soos wat Paulus aan die Korintiërs skryf: “… en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus”(2 Kor.10:5). Dink reg, leef reg!