WIE IS KONING IN JOU LEWE ?

Ds A.E. van den Berg

“En toe Jesus te Betlehem gebore is... het daar wyse manne uit die Ooste in Jerusalem aangekom en gesê: Waar is die Koning van die Jode wat gebore is?...”(Mt.2:1,2).

Met Jesus se geboorte was Herodes die koning. Hy was nie ʼn Jood nie maar ʼn Edomiet (Esau se nageslag) wat vier jaar later in Jerigo oorlede is - 69 jaar oud. Omdat Herodes net op eie eer ingestel was, het hy verskeie groot bouprojekte soos die vergroting van die tempel geloods sodat mense hom nie sou vergeet nie. Ironies genoeg word hy eerder vir sy wreedheid met die slagting van seuntjies net ná Jesus se geboorte onthou.

Dit was alles te wyte aan ʼn besoek van drie wyse manne uit die Ooste se vraag na waar die koning van die Jode gebore is. Was Herodes dan nie die koning nie? Hy was ontsteld omdat niemand hom oor so ʼn geboorte ingelig het nie. Niemand van die godsdiensleiers het iets geweet nie, slegs heidense sterrekykers.

Jesus se opwagting is met smart begroet. Herodes het, om sy eie koningskap te beskerm, alle seuntjie twee jaar en jonger in sy omgewing laat doodmaak. Die vyandigheid teen Jesus sou vir die volgende 30 jaar wyd uitkring. Oral waar Jesus gegaan het, is hy vyandig behandel.

In Nasaret wou hulle Hom selfs stenig. Ook sy broers was nie ingenome met Hom nie. By geleentheid wou hulle Hom gaan haal en huistoe bring. Jesus moes stilgemaak word. Hulle het nie daarin geslaag nie.

Na verwagting moes Jesus na drie jaar duisende dissipels gehad het. Hy het toe nié; slegs 70. Nie een van hulle het Jesus tydens sy verhoor kom ondersteun nie. Het Hy dan nie genesingswonders gedoen nie? Dink aan die genesing van die 10 melaatses waarvan net een Hom kom dank het.

Jesus het talle siekes, blindes en dowes genees. Hoeveel het Hom in sy nood bygestaan? Niemand nie! Waarom nie? Omdat die meerderheid Jode Hom so gehaat het, dat hulle eerder Barabbas se vrylating geëis het.

Jesus het drie keer sy dood en opstanding voorspel. Nogtans was nie een van die dissipels daardie Sondagoggend van die opstanding by sy graf om hulle van die werklikheid van sy woorde te vergewis nie. Waarom nie? Hulle het nie geglo dat Jesus uit die dood sou opstaan nie.

Nie een van Jesus se volgelinge sou met sy kruisiging kon glo dat Jesus se naam na 2000 jaar bekend sou wees nie; selfs wêreldwyd! Desondanks was hierdie opstanding uit die dode die begin van die beweging wat spoedig as Christendom bekend geword het.

In Hand.6:7 lees ons iets merkwaardig nl. dat ʼn aantal Jode en priesters gelowig geword het: En die woord van God het toegeneem, en die getal van die dissipels het in Jerusalem baie vermeerder, en 'n groot menigte van priesters het gehoorsaam geword aan die geloof”.

Hoor wat sê Gamaliël vir die Joodse Raad: “En nou sê ek vir julle, bly van hierdie manne af, want as hierdie voorneme of hierdie werk uit mense is, sal dit vernietig word; maar as dit uit God is, kan julle dit nie vernietig nie – dat dit nie miskien bevind word dat julle selfs teen God stry nie” (Hand.5:38,39). En so is die volgelinge van Jesus in Antiochië vir die eerste keer Christene genoem.

Koning Herodes se optrede teen Jesus het deur die eeue tiperend van die haat van die godvyandige wêreld geword.   Voltaire, die Franse ateïs-filosoof het in die 18de eeu voorspel dat die Bybel en Christendom binne 100 jaar tot niet sou wees. Hy is in 1778 dood en die Christendom bestaan nog steeds.

Die huis waarin Voltaire sy geskrifte teen die Christendom gedruk het, behoort vandag aan die Franse Bybelgenootskap waar duisende Bybels jaarliks gedruk word!   In 1882 het Nietzsche sy berugte God is dood uitspraak gemaak en voorspel dat soos wat die wetenskap ontwikkel, die Christendom sou verdwyn. Dit het nie.

Jare gelede het ʼn kommunistiese woordeboek die Christengeloof as volg omskryf: A collection of fantasticlegends without anyscientific support. Ironies genoeg bestaan kommunisme feitlik nie meer nie maar die Christendom gaan steeds voort. “Hou Christus self sy kerk in stand, vergeefs die hel se woede”!

Hoe is dit dat die Christendom teen alle verwagtinge in nooit uitgedelg kon word soos wat Herodes in Betlehem wou doen nie?   Jesus was tog in die oë van die mense van sy tyd ʼn agterlike plattelander uit Galilea. Hy het nooit ʼn boek geskryf wat Hom beroemd kon maak nie. Jesus het nooit ʼn openbare pos beklee dat Hy openbare aansien sou hê nie.

Daarbenewens het Hy nooit aan enige politieke party behoort of propaganda daarvoor gemaak nie.   Hy het nooit verder as 150 km van sy tuisdorp gereis nie. Boonop het sy volgelinge Hom in sy uur van nood verlaat. Een het Hom vir geld verraai en ʼn ander een Hom verloën sodat Hy alleen gesterf het.

Waarom het Jesus hulle nie verstoot nie? Omdat God nooit sy kinders verlaat nie. Hy het in Jesus Christus eerste by ons kom bly. Nadat Jesus uit die dode opgestaan het, het Hy ʼn groot belofte gemaak: “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld”(Mt.28:20).

Die volgende op Jesus se agenda is sy wederkoms waar gelowiges vir ewig by Hom sal wees. Verstaan jy nou wat Immanuel beteken? God met ons. En dis waaraan ons aan hierdie Kerstyd moet dink. Hy sorg vir ons soos geen ander koning nie.

Herodes was tot ʼn mate reg – daar kan net een koning in ʼn mens se lewe wees. Wie is joune? Is Jesus werklik koning in jou lewe? Laat al die mense waarmee jy te doen kry dit hierdie Kersfees baie duidelik sien!