Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Pyn en eensaamheid dryf my na gebed, en wanneer ek bid, verdryf dit my pyn en eensaamheid.
TUSSEN DIE TWEE TESTAMENTE
Ds A.E. van den Berg
“Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ’n vrou, gebore onder die wet” (Gal.4:4).
Het jy al gewonder wat in die tyd tussen die Ou- en Nuwe Testament in Israel gebeur het? Die OT eindig met Maleagi 4 en die daaropvolgende hoofstuk (Mt.1) . Dit plaas ons onmiddellik in die NT met ʼn tydsgaping van 400 jaar. Wat het in hierdie tyd in Palestina, soos Israel toe bekend gestaan het, gebeur?
Toe Maleagi geskryf is, was Israel ʼn verenigde volk en terug op eie bodem. Die Tienstammeryk van Israel is in 732vC na Assirië en die Tweestamme ryk van Juda in 607vC na Babel weggevoer. Toe die Perse later wêreldheersers geword het, is die Bondsvolk teen ongeveer 537vC toegelaat om na Palestina terug te keer en die tempel en stadsmure van Jerusalem te herbou.
Alhoewel hierdie tempel kleiner as die vorige een was, kon priesters weer diens daarin verrig. Hulle was die direkte nasate van Aaron en sy seuns en kon dus op Bybelse wyse voortgaan. Daar was egter geen regmatige koning in Israel nie. Israel was ʼn marionet aan ʼn Persiese toutjie, sonder strydende partye.
Die afsluiting van die OT was die einde van die OT profete waarna 400 jaar van profetiese stilte aangebreek het. In hierdie tyd het die wêreldtoneel ingrypend verander amper soos dekorwerkers wat ʼn verhoog verander nadat die gordyn gesak het en voordat dit weer oopgaan. Die wêreldmag het van die Ooste na die Weste met Rome as hoofkwartier verskuif. Die Jode het na die ballingskappe nooit hul staatkundige onafhanklikheid herwin nie en was altyd onderhorig.
Toe Assirië die Tienstammeryk van Israel destyds in ballingskap geneem het, is die ballinge oor die hele Assiriese ryk verstrooi. Die Babiloniërs het anders te werk gegaan en van die Joodse ballinge Babiloniërs probeer maak. Daarom het Daniel en sy vriende Babiloniese name ontvang.
Toe die Perse die Babiloniërs later oorwin het, is alle ballinge toegelaat om na Palestina terug te keer, ook dié in Assirië omdat dit Persiese ryksgebied geword het. Gevolglik is die sg. “tien verlore stamme van Israel” ʼn klug!
Toe Alexander die Grote die Persiese mag in 330vC gebreek het, het die Griekse ryk tot stand gekom. ʼn Jaar later het Alexander met sy leërs deur Sirië op Egipte afmarsjeer en was van plan om Jerusalem op pad daarheen te verower. ʼn Joodse hoëpriester met ʼn gesantskap het Alexander ʼn ent buite die stad ontmoet en hom oorreed om van sy plan af te sien.
Alexander is in 323vC op slegs 33 jaar oud vergiftig. Omdat hy geen opvolger gehad het nie, het sy vier generaals die ryk onder hulle verdeel. Ptolemeus het Egipte en die Noord-Afrika kolonies en Seleucus vir Sirië en die noorde van Palestina verkry. Die res van Palestina was toe alreeds by Egipte ingelyf.
In 203vC het Antiochus die Grote in Sirië aan bewind gekom, Jerusalem verower en oor Palestina regeer. Hy is kort hierna deur ʼn seun, Antiochus Epiphanus, opgevolg, wat die Jode vervolg het. Terwyl hy in Egipte geveg het, is ʼn gerug versprei dat hy gedood is. Toe Antiochus daarvan te hore kom, het hy na Jerusalem teruggekeer, 40,000 Jode laat vermoor en selfs ʼn vark op die altaar in die tempel laat offer!
Sy optrede was ʼn voorafskaduwing van wat aan die einde van die tyd in die laaste tempel gaan gebeur: “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom — laat hy wat lees, oplet” (Mt.24:15).
Die ontheiliging van die tempel het presies 2,300 dae geduur voordat dit onder leiding van Judas Makkabeus herower en gereinig is. “En hy het vir my gesê: Tweeduisend-driehonderd aande en môres, dan sal die heiligdom in sy regte staat herstel word” (Dan.8:14).
Die Makkabeërs het daarna ʼn lyn van priesters gevorm wat Jerusalem vier geslagte lank regeer het. Gedurende dié tyd het een van die priesters ʼn verbond met die opkomende Romeinse mag gesluit om hulle teen ʼn dreigende Siriese aanval te beskerm. Na etlike botsings met Siriese magte het Palestina in 63vC onder Romeinse gesag gekom en is Antipater as prokurator van Judea aangestel. Hy het twee van sy seuns konings van Galilea en Judea gemaak. Die een in Judea was Herodes die Grote (Mt.2:1,2).
Die Romeine het die Jode wel toegelaat om ʼn marionetkoning te hê. Herodes was ʼn afstammeling van Esau in plaas van Jakob soos dit na reg moes wees. Daarbenewens was die hoëpriesters nie meer afstammelinge van Aaron nie, maar amptenare wat die Romeinse owerheid goedgesind was en hul amp as politieke guns ontvang het.
Alhoewel die tempel steeds die middelpunt van die Joodse godsdiens was, het sinagoges oral in Palestina opgeskiet; kleiner gebedehuise was baie gewild. Ons lees dat Jesus op die Sabbat die gewoonte gehad het om na ʼn sinagoge te gaan.
Die Griekse invloed het so sterk in Palestina toegeneem, dat dit ʼn nuwe Joodse party laat ontstaan het – die Helleniste. Hierdie Jode was gretig om hul met die Griekse kultuur en gedagtegang te vereenselwig en die eng Joodse wette af te water. Hul verraad het ʼn breuk in volksgeledere veroorsaak.
Die Fariseërs wou die Mosaïese wette en tradisies behou en het vreemde invloede hewig teengestaan. Hulle was eng wetties en huigelagtig. Daarom het Jesus hulle dikwels sterk aangespreek.
Die Helleniste het al hoe meer politieke invloed verkry en ʼn eie party gevorm; die Sadduseërs. Hulle was vrysinnig en het van die streng vertolking van die Wet afgesien. In hierdie tyd het die heidenryke rondom Palestina begin verkrummel. Mense was keelvol vir veelgodedom en die leegheid van die heidense gelowe. Die Jode het self ʼn rowwe tyd beleef en kon net nie hulle voete vind nie. Hul enigste hoop was die belofte van die Messias wat sou kom.
Toe die ster oor Betlehem verskyn, het die wyse manne uit die Ooste wat ook oplossings vir hul probleme gesoek het, moed geskep en na die Een kom soek na wie die ster gewys het – Jesus Christus, die beloofde Messias.
Die begin van Jesus se bediening is deur ʼn man ingelei wat in die woestyn gepreek het – Johannes die Doper. Hy het 400 jaar se profetiese stilte met ʼn aankondiging verbreek: “In daardie dae het Johannes die Doper opgetree en in die woestyn van Judea gepreek en gesê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Mt.3:1,2).
Die berig dat daar weer ʼn profeet is, het die ore van die Jode in Jerusalem bereik en mense na die woestyn laat stroom. Dis die volheid van die tyd waarvan Paulus in die teksvers skryf. “Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ’n vrou, gebore onder die wet” (Gal.4:4).
En so is die 400 jaar van profetiese stilte verbreek en het mense tot bekering begin kom. God se plan met die mensdom was aan die ontvou wat in Luk.19:10 opgesom word: “Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was”. Wat ʼn omwenteling het Jesus nie in lewens gebring nie! Ek hoop in jou en jou familie se lewens ook!