Ds A.E. van den Berg
“En toe Hy in Jerusalem inkom, het die hele stad in opskudding geraak en gesê: Wie is hierdie man? (Mat 21:10).
Beroemdes ontvang dikwels met hul aankoms in 'n land of stad groot verwelkominge. Dit het selfs 2000 jaar gelede ook in Jerusalem gebeur toe Jesus vanaf Jerigo in die stad van Dawid aangekom het. Dit was die einde van Jesus se aardse bediening. Hy sou Jerusalem nie voor sy kruisiging weer verlaat nie. Net voordat Hy die stad ingegaan het, het Hy eers op die Olyfberg verpoos en na die stad gekyk waar sy inhegtenisneming, kruisiging en opstanding sou plaasvind en het alles vooraf geweet.
Een van die dissipels het vir Jesus 'n jong esel gebring om die stad binne te ry omdat 'n koning nie 'n stad binnegestap het nie maar binnegery het. En tereg so want Hy was immers die Koning van alle konings!
Hy is dan ook soos 'n koning ingewag. Die skare wat Hom ontmoet het, was van Jesus se grootheid bewus – sy wonders, genesings, prediking en vele meer. Vandaar die hosannas, palmtakke en klere – die ekwivalent van die latere rooi tapyt. Die klem het op Jesus se koningskap geval en is Hy derhalwe as 'n koning verwelkom. Vyf dae later sou daar 'n opskrif bokant sy gebroke liggaam aan 'n kruis pryk: DIT IS JESUS DIE KONING VAN DIE JODE.
Wat het gebeur?! Waar het die gesindheidsverandering vandaan gekom? Die hosannas het in kruisig Hom verander en bewondering in haat en palmtakke in 'n kruishout. Waar mense eers hul klere voor Jesus gewerp het, is Jesus aan die kruis van sy klere ontneem. Die lot is daaroor gewerp.
Die kern van die verhaal is die beroering wat Jesus met sy opwagting in Jerusalem gemaak het, byna soos in Jerigo waar Saggeus selfs in 'n boom moes klim om Jesus te sien. Dan die mense se groot vraag: “Wie is hierdie man?” Hierdie vraag is 'n vraag vir alle mense van alle tye: wie is Jesus vir jou?
In Gen.3 vra God vir Adam: “Waar is jy?” In die volgende hoofstuk vra Hy vir Kain: “Waar is jou broer?” en in Mat 16 vra Jesus sy dissipels: “Wie sê julle is Ek?” Toe Jesus Jerusalem binnekom, vra die skare:”Wie is hierdie man?” en die antwoord: “Dit is Jesus die profeet”. En jy? Wie is Jesus vir jou?
Universele vrae kan nie ontduik word en geen mens neutraal teenoor hierdie vraag staan nie. Elke ontmoeting met Jesus dwing 'n beslissing af. Mense moet 'n standpunt inneem. Dink aan Nikodemus die teoloog, Saggeus die ryk man en Paulus die vervolger. Hulle het besef dat hul lewe leeg was en slegs met Jesus gevul kon word. Derhalwe moes hulle standpunt inneem vír of téén Jesus. En die regte besluit neem.
Dan is daar ook lafaards soos die klompie inwoners van Jerusalem wat Jesus eers met hosannas begroet en binne die bestek van vyf dae gekruisig wou hê – mense wat hul seile na die wind draai. Dis soos mense wat Sondae baie vroom en godsdienstig voorkom maar in die week vloek, skel en bedrieg.
Die vraag na Jesus is ten diepte 'n vraag na God. Die mense van Jerusalem het Jesus hoogstens as 'n profeet beskou; belangrik en eerwaardig maar nie God wat vlees geword het nie. Dieselfde het destyds in Cesaréa-Filíppi gebeur: “En toe Jesus in die streke van Cesaréa-Filíppi kom, vra Hy sy dissipels en sê: Wie sê die mense dat Ek, die Seun van die mens, is? En hulle antwoord: Sommige Johannes die Doper, en sommige Elía, en ander Jeremia of een van die profete” (Mt16).
Hierdie tendens duur vandag nog voort – mense het agting vir Jesus maar nie die saligmakende geloof nie. Kerkmense sal Hom soos diegene destyds in Jerusalem geesdriftig vereer, maar dis al. Hulle name staan in lidmaat-registers aangeteken, maar nie in die boek van die lewe nie. “En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp” (Open.20:15).
So is baie mense in die kerk maar nie in Christus nie.
Wie is Jesus vir jou? Dis 'n belangrike vraag omdat dit bepaal wat elke mens vir die koninkryk van God op aarde beteken. Kom ons verfris ons geheue oor Wie Jesus is. Hy het nooit 'n kerk gebou nie tog is daar geen land ter wêreld wat nie plekke van aanbidding het nie. Jesus het nooit 'n boek geskryf nie, nogtans word sy woorde en dade deur miljoene mense in honderde tale wêreldwyd gelees.
Jesus het geen boedel nagelaat nie, nogtans is daar miljoene erfgename van sy geestelike rykdom. Jesus het baie siekes sonder 'n konsultasiefooi genees. Hy het geen kollege of universiteit laat oprig nie, nogtans het daar daar duisende teologiese skole wêreldwyd ontstaan waar mense vir die bediening opgelei is. Jesus het nooit sielkunde bestudeer nie. Sy leer het egter meer gebroke verhouding en stukkende harte as al die sielkundiges saam genees.
Toe Jesus 'n baba was, het Hy selfs 'n koning ontstel. Toe Hy 'n jong seun was, het Hy teoloë verstom. Toe Hy 'n man was, het Hy die natuur getem en by geleentheid selfs op water geloop. Hy het siekes genees, dowes laat hoor, blindes laat sien en siele van die ewige dood gered. Nadat Hy gekruisig is en gesterf het, het Hy uit die dood opgestaan om gelowiges van die vrees vir die dood te bevry. Hy het mos nie gekom om slegte mense goed te maak nie, maar om geestelike dooies lewend te maak.
Wie is Jesus vir jou? Is Hy werklik jou Verlosser? Moenie aan die einde van die tyd soos die vyf dwase maagde wees wat tevergeefs aan die deur van die feesmaal geklop het nie. Jesus maak nie vir mense wat Hom net as 'n goeie voorbeeld geag het oop nie. Aan daardie tafel is daar net plek vir elkeen wat Hom as Verlosser aangeneem het..
Laat ons geen ander lewenspad as die een na Jesus toe neem nie. Om Hom lief te hê, is die grootste liefde. Hierdie liefde sit met onsigbare klinknaels aan ons siel vas. Om Jesus te soek is een van die grootste ervarings en om Hom te vind een van die grootste geskenke denkbaar. En so het die Seun van God mens geword sodat mense kinders van God kon word.
Wat vind jy as jy Jesus verloor? Die ewige dood. Wat verloor jy as jy Christus vind? Niks wat die moeite werd is nie. Wie besittings verloor, verloor baie. Wie Jesus verloor, verloor alles. Niemand is 'n verloorder tensy hy sy geloof in Jesus prysgee nie. Wat is geloof? Laat jou lewe daarop antwoord. Bely in hierdie Lydenstyd saam met my: Jesus langs my. Jesus voor my. Jesus agter my. Jesus onder my en Jesus bokant my.