DIE OPGEVOUDE GRAFDOEKE

Ds A.E. van den Berg

“En terwyl hy neerbuk, sien hy die doeke lê….” (Joh.20:5)                          

Ek het 'n paar jaar gelede op TV gesien hoe die lyk van ‘n gebalsemde man na 20 jaar opgegrawe is. Die liggaam het met klere en al goed bewaar. Dit laat my toe aan ’n ander graf dink wat nie deur mense oopgemaak is nie, maar deur God. In hierdie graf was daar geen liggaam nie, slegs grafklere; dié van Jesus wat Hy doelbewus as ’n getuienis van sy opstanding agtergelaat het.

Nadat Hy gesterf het, het Josef van Arimathéa en Nikodemus toestemming verkry om sy liggaam vir die graf wat aan Josef behoort het, voor te berei. Nadat Hy daarin neergelê is, het die Joodse leiers Pilatus gevra om dit te verseël en soldate rondom te plaas sodat die dissipels dit nie kon wegneem nie.

Vroeg daardie Sondagoggend het vreemde dinge rondom die graf gebeur. “En daar kom ’n groot aardbewing, want ’n engel van die Here het uit die hemel neergedaal en gekom en die steen van die opening weggerol en daarop gaan sit. En sy gedaante was soos weerlig en sy kleding wit soos sneeu. En uit vrees vir hom het die wagte gebewe en soos dooies geword” (Mat.28:2-4).  

Op daardie tydstip het die dissipels uit vrees vir vervolging weggekruip. Toe Maria later die oggend die graf oop vind en die dissipels daarvan gaan vertel, kon hulle hul ore nie glo nie. Toe hulle daar kom, het hulle gesien dat al wat daarin was, grafdoeke was – ’n toneel van volmaakte orde.

Toe die nuus almal se ore bereik, het die Joodse kerklui met die Romeinse owerheid gaan praat en ’n verhaal opgedis dat Jesus se liggaam wel gesteel en na ’n onbekende bestemming geneem is.

Die inhoud van die graf het daarvan getuig dat hulle gelieg het. As die dissipels wel die liggaam gesteel het; waarom is die grafklere agtergelaat? Diewe gee mos dadelik pad van 'n misdaadtoneel af. Die klere het van ’n verrese Heiland getuig. Alles waarop Jesus aanspraak gemaak het, alles wat Hy gepreek het en alles wat Hy beloof het, is bewaarheid!

Net drie dae tevore het die dissipels gesien hoe Hy in hegtenis geneem, vervolg is en aan ’n kruis gesterf het.   Nou het hulle sigbare bewys gehad dat Hy lewend was! Die feit van sy opstanding het krag aan sy beloftes gegee. Dit het sy aanspraak bekragtig dat Hy die enigste weg na God is.   Daar is geen ander brug tussen God en mens nie.   “… Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh.14:6).    

Jesus se opstanding gee krag en hoop vir almal wat vir verlossing na Hom kom: “Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree” (Hebr.7:25).   Jesus se opstanding gee moed vir almal wat in sonde verlore is. Dit vertel dat hulle hul toevlug na Jesus kan neem en in Hom ’n lewende God vind wat ’n Verlosser van sonde is.  

Die oop graf vertel ook van God wat die dood van sy Seun as volle betaling vir die sondeskuld van die mensdom aanvaar het.   Niemand anders as Jesus kon dit delg nie; nie ons trane nie, maar sy bloed; nie ons droefheid nie, maar sy lyde.   As Hy nie alles ten volle betaal het nie, was die ewige dood ons voorland.  

In die NT word 35 keer gemeld dat Jesus uit die dood opgewek is. As Hy ’n sondaar was, sou Hy in die graf ontbind het, maar omdat Hy sondeloos was, kon die dood niks aan Hom doen nie. “Hom het God opgewek, nadat Hy die smarte van die dood ontbind het, omdat dit onmoontlik was dat Hy daardeur vasgehou sou word” (Hand.2:24).

God beloof in die Bybel dat elkeen wat Jesus as Verlosser leer ken en sterf, met die laaste oordeel soos Jesus sal opstaan, nie om geoordeel te word nie, maar om die ewige heerlikheid te ontvang. “Want ons weet dat Hy wat die Here Jesus opgewek het, ons ook deur Jesus sal opwek en saam met julle voor Hom sal stel” (2 Kor.4:14).

Johannes vestig die aandag daarop dat die doek wat op Jesus se hoof was eenkant apart opgevou gelê het.   Ook met ’n doel. In die Bybelse tyd het ’n welgestelde man deur 'n servet sekere tafeltekens aan sy bediendes gegee. As hy klaar geëet het, het hy sy servet gekreukel laat lê. Dit het beteken dat hy klaar was en nie sou terug kom nie. Indien dit opgevou was, was dit ’n teken dat hy die tafel tydelik verlaat het om weer terug te keer. Wat Jesus met die opgevoude gesigsdoek by die dissipels wou tuisbring, was dat Hy net vir ’n wyle weg sou wees en dan weer kom.

Toe Petrus en Johannes by die graf kom, het hulle die ergste gevrees. Miskien het rowers, Jode of selfs die Romeine die liggaam weggeneem. Johannes wat volgens Mark.1:20 saam met bediendes grootgeword het, het die boodskap van die opgevoude gesigsdoek duidelik verstaan.

Alle gelowiges aanvaar dat Jesus uit die dood opgestaan het. Ons het Hom nie sien leef, sterf of ’n leë graf aanskou nie. Nogtans het die opgevoude gesigsdoek ’n verdere boodskap – al is Jesus nie nou te sien nie, is Hy binnekort terug! “Kyk, Hy kom met die wolke en elke oog sal Hom sien….” (Open.1:7). Dit gee nuwe moed.   Hy het ons met die belofte gelaat dat Hy gaan terugkom en ons na die Vaderhuis neem (Joh 14:1-3).

In Joh 20: 5-8 vind ons vier keer die werkwoord ‘sien’. “En terwyl hy neerbuk, sien hy die doeke lê…” (:5).   Hierdie sien beteken “om vlugtig te kyk” (Engels: glance). Johannes het vlugtig gekyk en gesien dat Jesus nie daar was nie, slegs die grafdoeke.   Petrus betree ook die graf en sien ook die grafdoeke. Hierdie sien beteken “om met ’n opmerksame oog rond te kyk” soos wat ondersoekers doen. In vers 8 kyk Johannes “met begrip” .   Hy het geweet Jesus lewe!

Ongelowiges kyk anders na Jesus se leë graf. As mense sterf, is hulle nie meer hier nie. Hulle staan nie na ’n tyd weer op nie. En al kon hulle, doen hulle dit nie dwarsdeur hul grafklere nie!   Hulle sou, soos wat met Lasarus gebeur het, iemand nodig hê om hul los te maak.

Die Jode glo steeds dat die dissipels Jesus se liggaam gesteel het. Dit maak glad nie sin nie. Waarom het al Jesus se dissipels met die uitsondering van Johannes ’n martelaarsdood gesterf? Omdat hulle Jesus se opstanding verkondig het!   ’n Mens sterf nie vir iets wat jy weet ’n leuen is nie.   Die wil om te leef, is so sterk dat die dissipels, soos enige ander, dit onder druk as ’n leuen sou erken het.

Daar is net twee maniere om op die boodskap van die leë graf te reageer; aanvaar of verwerp dit.   Waar staan jy in hierdie teologies waansinnige wêreld met sy geleerdes wat die opstanding van Jesus as simbolies en ’n storie afmaak? En wat word van hulle studente?   Is dit wat vandag vanaf kansels verkondig word nie die rede waarom so baie mense kerke van Gereformeerde belydenis vir sektes verlaat nie?  

Geen deel van die Christelike leer word so aangeval soos Jesus se opstanding nie. Waarom? Omdat die opstanding die pen is wat ons geloof vashou. As daardie pen uitgetrek word, stort die Christenleer soos ’n kaartehuis in duie!

Geen grafklere het ooit in die geskiedenis soveel betekenis soos Jesus s’n gehad nie.   Gelowiges is dankbaar dat Hy opgestaan en opgevaar het. Hy het hierdie getuienis onweerlegbaar in ’n leë graf agtergelaat.   Sy opstanding gee ons die krag om vastigheid in ’n verwarde kerklike wêreld te vind. Paulus praat van die krag van Jesus se opstanding wat na gelowiges deurwerk: “...sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding…” (Fil.3:10).   Ervaar jy dit?

Laat ons geen pad neem wat nie van ons geloof in ’n verrese Jesus getuig nie.   Die geskiedenis leer ons ’n belangrike les: Al lyk dit asof die Christendom sterf, herleef dit telkens deur die genade van God omdat Jesus aan sy regterhand sit vanwaar Hy sy kerk regeer.