Ds AE van den Berg
AS GIF VIR MEDISYNE AANGESIEN WORD
Politieke katastrofes het gewoonlik 'n sekere aanloop waarna die gevolge chaos en ellende veroorsaak. Die Dakar-beraad van Julie 1987 in Senegal is 'n sprekende voorbeeld hiervan. Hierdie beraad was 'n kommunisties georkestreerde gekonkel wat die lont aangesteek en Suid-Afrika kort daarna staatkundig laat ontplof het.
'n Groep liberale Afrikaanse skrywers, joernaliste, sakelui, politici en kerklui het in Dakar met leiers van die ANC in ballingskap vergader. Die liberale nuusmedia het dit as 'n sleutelgebeurtenis in samesprekings met die ANC beskou en voorsien dat dit tot 'n vreedsame verkryging van demokrasie in Suid-Afrika sou lei.
Met die tema “Hoe gaan oorgang plaasvind?” is sake soos die gewapende stryd teen Apartheid bespreek. Die beraad is met 'n verklaring afgesluit waarin almal ten gunste van voortgesette beraadslaging met die ANC in die soeke na 'n oorgang tot ‘n vreedsame toekoms in die land was. Daarvoor moes 'n politieke verandering binne die parlementêre stelsel afgedwing word.
Net voor die aanvang van die beraad het die Suid-Afrikaanse pers daarvan te hore gekom en verskeie berigte oor 'n groep Suid-Afrikaners wat die vergadering met die ANC gaan hou, geplaas. Die afgevaardigdes het in hul voorlegging hul kommer oor die omvang van die geweld op burgerlikes en die impak daarvan in Suid-Afrika, uitgespreek.
Die ANC-lede het tydens die beraad hul gewapende stryd geregverdig omdat alle ander strategieë om 'n verandering van die rassebeleid in Suid-Afrika te bewerkstellig misluk het. Hul aanvalle op sagte teikens was glo onvermydelik omdat hulle nie altyd beheer oor hul gewapende kaders gehad het nie.
Die ANC was bereid om met die Suid-Afrikaanse regering onder sekere voorwaardes soos die vrylating van politieke gevangenes en die ontbanning van verbode organisasies te onderhandel Laasgenoemdes het almal vir die beëindiging van Apartheid en 'n veranderde politieke stelsel in Suid-Afrika geveg. Wat die ekonomie betref, was een of ander vorm van nasionalisering nodig om sogenaamde ekonomiese en rykdom se wanbalanse reg te stel.
Aan die einde van die beraad is 'n verklaring vrygestel dat 'n onderhandeling-skikking in Suid-Afrika begin moet word. Die grootste struikelblok tot onderhandeling was egter die blanke regering se onwilligheid om saam met die vyand te blêr.
Om dié probleem die hoof te bied is die NG Kerk as die “gewete” van die volk ingespan. Verraad kom selde uit 'n vyandige oord. Niks skaad 'n volk soos verraderlike kerklui nie. Geen burg of maagd bly ongeskonde as daar eers met onderhandelings begin is nie!
Net na die beëindiging van die beraad het prof. Johan Heyns wat dit bygewoon het, 'n opskudding tydens 'n Sinode veroorsaak toe hy en 'n meerderheid van die aanwesiges Apartheid openlik tot sonde verklaar het. Dit was die bres in die muur waarop die vyand gewag het. Toe die NG Kerk swig, was die dood in die pot. 'n Volk kan nog dwase politici oorleef maar nie kerklike verraaiers nie.
Woorde ontbreek om die omvang van die skade wat die land daarna aangedoen is te beskryf. Die ANC het aan bewind gekom, die hel aan die voete van wetsgehoorsame burgers laat oopbars en Suid-Afrika van 'n Eerste- na 'n Derde-Wêreld laat tuimel.
Die Dakar beraad se besorgdheid oor geweld in Suid-Afrika was 'n vulletjie in vergelyking met wat daarna gebeur het. Misdaadstatistiek vertel die droewige verhaal van volksgenote wat medisyne vir gif en gif vir medisyne aangesien het. Ons nageslag betaal tot vandag toe nog 'n verskriklike prys vir die vereffening van die rekening van daardie verraad!