NA GOD SE BEELD

Ds A.E. van den Berg

“En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis..... En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape” (Gen1:26,27).

Die Bybel leer ons dat God Adam en Eva na sy Beeld geskep het. Wat beteken dit?   Voordat God hulle op die sesde skeppingsdag gemaak het, het Hy eers die aarde vir hul woonplek voorberei. Al sy skeppings het direk deur sy bevel geskied. So ook die mens. “En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis.... En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape” (Gen1:26,27).

Let op die woord ‘Ons’ wat klink asof God met iemand by Hom praat. Was dit miskien met 'n hemelse raad? Nee, God het geen raad nodig om sy besluite deur te voer nie. Hierdie ‘Ons’ was 'n gesprek binne die Drie-eenheid: Vader, Seun en Heilige Gees.

Die Bybel bevestig dit. Die Hebreër briefskrywer skryf:“Nadat God baie keer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het” (Hebr.1:1,2).

God het die mens vir Homself gemaak. Die mens is nie 'n verlangse afstammeling van enige dier soos wat die evolusioniste leer nie maar 'n duidelik onderskeie skepping met 'n goddelike natuur: U het hom 'n weinig minder gemaak as 'n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon” (Ps.8:6).

Gevolglik het die mens nie uit een of ander oerdier ontwikkel nie, maar was 'n gawe van God met 'n verstand bo 'n dier. Lukas begin sy geslagsregister by Adam: “die seun van Enos, die seun van Set, die seun van Adam, die seun van God” (Luk.3:38).

Toe God die mens na sy Beeld geskep het, het die mens (man/vrou) op 'n sekere manier met God ooreengestem en in sekere goddelike voorregte gedeel.   Dit beteken nie dat ons fisies soos God lyk nie want Hy is gees. Die kere dat God, soos by Abraham, aan 'n mens verskyn het was dit in die vorm van 'n mens“Daarna het die Here aan hom verskyn by die terpentynbome van Mamre terwyl hy by die ingang van die tent sit ....” (Gen.18:1).

God het die mens volgens sy eie unieke plan ontwerp en geskep. Dawid sê: “My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie.... U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe...” (Ps.139:15,16).

God het die mens anders as diere geskep. Die mens loop regop en op twee bene, het gesigsuitdrukkings, emosionele gevoelens, 'n brein en spraak. So het God dan ook in hierdie vorm in Jesus aarde toe gekom. “Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van 'n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword” (Fil. 2:6,7).

God het die mens as beeld van Hom met verstandelike vermoëns ver bo enige dier bedeel wat hom in staat stel om te hoor as God, hetsy hoorbaar of deur die geskrewe Woord met hom praat en hy daarop kan reageer hetsy positief of negatief.

Die mens moes ook in samewerking met sy Skepper oor die hele skepping heers. En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip” (Gen.1:26).

Die mens is die enigste van God se skeppings wat van God bewus is. Hy weet dat daar 'n God is en dat hy deur gebed, verheerliking en aanbidding met Hom kan verkeer. Die sondeval het egter gemaak dat die mens 'n bewussyn van goed en kwaad deelagtig geword het. Daarna was die mens nie net inherent sleg nie maar ook goed anders sou Adam nie verder met God kon praat nie.

God het die mens ook met 'n behoefte aan geslagtelike liefde geskep. “Toe het die Here God 'n diepe slaap op die mens laat val; en terwyl hy slaap, het Hy een van sy ribbebene geneem en die plek daarvan met vlees toegemaak. En die Here God bou die rib wat Hy van die mens geneem het, tot 'n vrou en bring haar na die mens. Toe sê die mens: Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem. Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees” (Gen.2:21-24).

Toe God plante en diere gemaak het, was dit volgens sy eie soort. Die woorde sy eie soort is 'n frase wat 10 keer in Gen.1 voor kom. Toe Hy vir Adam geskape het, het Hy hom na sy Beeld geskape. “...want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons, soos sommige van julle digters ook gesê het: Want ons is ook sy geslag” (Hand.17:28).

Na die sondeval het die mens steeds God se beeld vertoon. Paulus sê: Want 'n man moet die hoof nie bedek nie, omdat hy die beeld en heerlikheid van God is...” (1 Kor 11:7). Jakobus skryf oor die tong: “Daarmee loof ons God en die Vader, en daarmee vervloek ons die mense wat na die gelykenis van God gemaak is” (Jak.3:9).

God se beeld is deur die sondeval geskend maar nie vernietig nie. Paulus sê dat dié beeld deur bekering vernuwe is: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword. En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus...” ( 2 Kor.5:17,18).

Hy skryf aan die Kolossense: “Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper” (Kol.3:10).

Hy skryf ook oor die vernuwing van God se beeld aan die Efesiërs: “...en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.” (Efes.4:23.24).

Hierdie vernuwing het nie sy oorsprong in die mens nie maar word deur die Heilige Gees gedoen wat mense daartoe beweeg om deur die wedergeboorte Jesus as Verlosser te aanvaar en kind van God te te word: Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo” (Joh.1:12).

Paulus skryf aan die Galasiërs: Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Gal.2:20).

Sonder die herstel van God se beeld kan geen mens gered word nie. Ons kan die lewe nie van vooraf begin nie, maar slegs deur bekering 'n ander eindbestemming bereik. Wie eenmaal gebore word, sterf twee maal. Wie twee maal gebore word, sterf net een maal. Dit verdeel dit die mensdom in twee groepe – diegene met die herstelde beeld van God en die res daarsonder – gered of verlore. By watter een van hierdie twee groepe bevind jy jou op hierdie oomblik?