Ds A.E. van den Berg
“...naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie” (2 Kor.4:4).
Sedert die sondeval lei Satan gedurig mense van God af weg, veral op godsdienstige gebied. Dit laat mense die sentrale Bybelse waarhede versaak en van ‘n randsteen-saak, ‘n hoofpad-geloofsaak maak. Dis hoe sektarisme asook kultusse ontstaan. Kultusse wentel om die as van mensebeheer en is 'n dodelike vorm van breinspoeling.
Kultuslede dink basies eenders soos wat die kultus wil hê. Wie logies met hul wil redeneer, loop hul keer op keer teen ʼn denk-blok vas. Dis asof kultuslede nie die waarheid kan insien nie. Satan blokkeer hulle verstand.
In 1978 is die wêreld deur die selfmoord van meer as 900 lede van Jim Jones se kultiese Peoples Temple geruk. Beeldmateriaal van hierdie kultiese gedragsbeheer het mense oor die wêreld heen geskok. Dit was ʼn mosaïek van gekweekte abnormale gedragspatrone wat met dodelike gevolge in ʼn teologiese raamwerk ingebed was.
Kultusse kweek 'n kunsmatige eenheidsgevoel onder hul lede om beheer oor hul persoonlike gedrag uit te oefen. Kultuslede sal bv. anders binne die organisasie as daarbuite optree en sien hulself as deel van 'n groep uitverkorenes. Hierdie binding kan selfs so sterk wees, dat hulle hul lewe vir die groep sal aflê soos Jim Jones se volgelinge gedoen het. Hy het sy groep oortuig dat die dood die enigste uitweg was om aan die bose wêreld te ontkom en daarna 'n ewige heerlikheid te geniet.
Kultusse beheer ook hul lede met 'n ongekende vrees vir die toekoms. Hul literatuur is gewoonlik deurspek van alle naderende onheile en hou kultus-lidmaatskap as die enigste uitweg daarvan voor. Hierdie vrees word so aangedik dat hul lede alles sal doen om die naderende onheil te ontsnap. Die leier moet net sê wat hulle moet doen!
Elke mens wil iets in die lewe wees. Kultusleiers buit hierdie behoefte uit deur mense te oortuig dat 'n betekenisvolle lewe slegs binne die parameters van hul kultus bestaan. Hulle huiwer nie om vrees vir rampspoed by almal wat die groep verlaat, aan te wakker nie. Deur altyd donker prentjies van die bose wêreld daar buite te skets, maak van lede slagoffers van 'n gevoel van kultiese geborgenheid.
Kultiese lidmaatskap bied vir hul lede die geleentheid om basies 'n nuwe begin in die lewe te maak. Dis asof hulle 'n stukkie hemel omring deur mense wat vir hulle omgee, betree. Hierdie groepsgevoel hang van deelname en werwingsresultate af.
Kultusse waak selfs oor dit wat hul lede sien, hoor, lees en skryf. Hulle het selfs 'n eie woordeskat. Dis gewoonlik bekende woorde waaraan hulle 'n eie betekenis gee. En so word 'n onsigbare muur tussen lede en buitestaanders gevorm wat lede beter ingelig as ander laat voel.
Kultiese taalgebruik en denkpatrone breinspoel lede om nie vir hulself te dink nie. Dis duidelik in hul hervertolking van die Bybel se woordeskat. Om op hierdie wyse met die Bybel om te gaan, slaag nie die toets van die verband waarin dit geskryf is nie. Die Israel Visie is 'n jammerlike voorbeeld hiervan wat die Bybel verdraai om te bewys dat slegs blankes hemel toe gaan.
Kultusleiers maak daarop aanspraak dat hulle met goddelike gesag optree. Gevolglik matig hulle hul die reg aan om oor reg en verkeerd te besluit en laat lede weinig ruimte vir persoonlike besluitneming. Kultuslede skep altyd die indruk van 'n heiliger lewenswandel as mense daarbuite en hamer daarop om te verseker dat geen lid sal wil wegbreek nie. Hulle leesmateriaal is deurspek van voorbeelde van hoe sleg dit met mense buite die groep en hoe goed met diegene daar binne gaan.
Kultusse glo dat hulle die enigste ware kerk op aarde is. Gevolglik het daar eeue lank geen ware kerk bestaan nie. Satan het al die kerke afvallig laat word. God het egter met die stigting van die betrokke kultus die kerk herstel. Derhalwe bely hulle dat God in beheer van hul organisasie is en deur hulle sy doel met die mens op aarde wil bereik. Dis in werklikheid anders om; hulle “beheer” God en laat hulle wil geskied.
Die groot verskil tussen kerk en kultus is die gesagsbron wat gebruik word. Vir kerke is die Bybel die hoogste gesag en word hul leer daaraan gemeet. By kultusse is dit anders om; Skrif-gesag is aan die sg. nuwe lig wat die leiers ontvang, ondergeskik. Lede bevraagteken dit nie omdat God dit glo so aan die nuwe profete openbaar het.
Kultusse meet hul sukses altyd aan ‘n stygende ledetal. Hoe meer lede, hoe beter. Hulle doen hulle as ywerige gelowiges voor net om buitestaanders te beïndruk. Namate die geteikende persoon belangstelling in die kultus toon, lei hulle hul in die betrokke dwaalleer in.
Kultusse het altyd streng standaarde vir lidmaatskap waaraan 'n persoon moet voldoen om 'n lid te word. Daar word ook teen lede wat van die kultusleer afwyk, opgetree. Indien so ʼn persoon nie tot besinning kom nie, word hy met al die sielswroeging wat daarmee gepaard geskors. Dis makliker om by ʼn kultus aan te sluit as om dit te verlaat. In is makliker as uit. Sommige mense het selfs met hul lewens daarvoor geboet!
Paulus sê in die teksvers wie agter misleiding sit: " ...in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus....op hulle nie sou skyn nie”. Oral waar die tempel van Christus verrys, rig Satan sy kapel van misleiding op.
Kultuslede se geesdriftige toewyding aan dwaalleer is tragies. Hulle ontsien geen tyd of moeite om hul leuens te verkondig nie. Hoe beskaam dit nie gelowiges wat versuim om 'n deeglike studie van basiese Bybelse waarhede te maak nie.
'n Deeglike studie van die basiese waarhede van die Bybel is die enigste teenvoeter vir dwaalleer: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Tim.3:16,17).
Petrus beklemtoon dit ook: "Maar heilig die Here God in julle harte en wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is.....” (1 Pet.3:15).
Pas dus op vir misleidende godsdiensforums hetsy kultusse of kerke wat klubs met blind-lojale lede geword het. Baie van hulle het dikwels meer in hul uitstalvensters as op hulle geestelike rakke. En so word die pad na die ewige verderf met die skedels van duisende dwaalleraars geplavei.
Johannes skryf aan die begin van die Christendom: “Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan” (1 Joh.4:1).
Jesus waarsku aan die einde van die Christendom:“En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei” (Mat 24:11). Petrus rig 'n ernstige vermaning aan gelowiges: “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof....” (1 Pet 5:8),