Ds A.E. van den Berg
“Maar die engel antwoord en sê vir die vroue: Moenie vrees nie, want ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. Hy is nie hier nie, want Hy het opgestaan soos Hy gesê het.” (Mat 28:6),
Ons dink vanoggend terug aan Jesus se opstanding uit die dood. Maar het hy werklik uit die dood opgestaan? Sommige ongelowiges maak dit af as 'n skokkende leuen wat aan die mensdom afgesmeer is. Gelowiges beskou dit weer as die mees fantastiese gebeure in die ganse geskiedenis. Jesus het op vier maniere by die mense van sy tyd bewondering afgedwing naamlik deur sy wonderwerke, prediking en profesieë wat in sy tyd vervul is. Die grootste van almal was sy opstanding uit die dood.
Op vier na is alle wêreld-godsdienste op filosofieë gegrond. Net vier daarvan is op persone gegrond. Net een hiervan maak van die leë graf van sy Stigter melding. Abraham was in 1900vC prakties gesproke die stigter van Judaisme maar het nooit uit die dood opgestaan nie. Ook nie Boeddha of Mohammed wat in 632 nC in die ouderdom van 61 jaar oorlede is nie. Die graf waaruit Jesus opgestaan het, word jaarliks deur miljoene mense besoek. Al die ander gelowe erken dat hul stigters nie soos Jesus uit die dood opgestaan het nie.
Die Christendom en die opstanding van Jesus vorm 'n eenheid wat nie van mekaar losgemaak kan word nie. Praat jy van die Christendom, praat jy van die opstanding en omgekeerd. Sonder die opstanding sou daar nie 'n Christendom ontstaan het nie. Die kruisiging sou dan bloot die tragiese verhaal van die einde van 'n jongman gewees het en niks meer as dit nie.
Ons kan ons nie indink wat 'n verpletterende uitwerking die kruisiging daardie Vrydag op die dissipels gehad het nie. Hulle het geen begrip van 'n sterwende, wat nog te sê van 'n opgestane Messias, gehad nie.
Diegene wat Jesus destyds teengestaan het, was gou om die woord te versprei dat sy liggaam gesteel is. Dit was 'n leuen want die Jode het dan vir Pilatus as 'n wag voor die graf gevra, wat hy ook gedoen het. Daarbenewens was die graf te moeilik om oop te maak. Die wielvormige klip wat in 'n groef kon rol was bitter swaar. 'n Baie ou kant-aantekening by Mark16:4 praat van 'n klip wat 20 mans nie kon wegrol nie. Gevolglik sou vroue dit allermins nie kon regkry nie.
As verdere voorsorgmaatreël is daar ook 'n seël op die graf aangebring. Dit was 'n koord wat aan elke punt van die klip met 'n seël verseël is. In Dan.6:18 lees ons ook van 'n koning-seël wat by die leeukuil aangebring is. Die verseëling van Jesus se graf is in die teenwoordigheid van Romeinse wagte gedoen wat dit met mag en gesag moes bewaak om diefstal en die moontlikheid van 'n opstanding te voorkom. So 'n wag het uit ongeveer 30 man met 'n leier-wag bestaan. Volgens oorlewering was dit Petronius wat Pilatus vir die bewaking aangestel het.
Die wagte het hul opdrag met dieselfde strengheid as tydens die kruisiging uitgevoer. Hulle het geeneen belang daarby gehad nie en bloot net hul taak uitgevoer soos waaraan hulle trou gesweer het. Sulke wagte het onder streng kamp-dissipline gewerk, veral die nagwag. As iemand sy pos verlaat het, is hy ter dood veroordeel. Gevolglik het die wagte by Jesus se graf 'n uitsonderlike pligsbesef gehad. Die Romeinse leer was beslis nie vir swakkelinge nie, maar die instrument vir verowering en oorheersing.
Na Jesus se begrafnis was die dissipels verslae en verward. Hulle het geglo dat Jesus dood is, maar nie dat Hy uit die dood sou opstaan nie. Hoe kon Hy dan die Messias wees wat so lank verwag is? Was dit alles net 'n fabel?
Daardie Sondagoggend was hulle allermins gereed om aan sy opstanding uit die dood te glo. “En toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid; maar sommige het getwyfel” (Mat.28:17). Thomas was dus nie die enigste twyfelaar nie. Jesus sou hulle later almal berispe. Die dissipels het die eerste berig oor die opstanding verwerp, maar dit spoedig geglo. Toe hulle aan Hom vat, het die waarheid tot hulle deurgedring. Hulle geloofskatastrofe het in 'n jubelende blydskap verander!
Hoe wonderlik dat vroue die eerste getuies van Jesus se opstanding was. Vir die Jode van destyds het vroue se siening feitlik nie getel nie. Hulle kon selfs nie in 'n hof getuig nie. Niemand sou 'n storie opmaak en vroue dan getuies van 'n leë graf maak nie. Die dissipels het niks gewen deur 'n leuen te versprei net om 'n nuwe geloof te begin nie. Dit kon vervolging en selfs die dood veroorsaak het. Alleenlik die ware opstanding uit die dood was die enigste motivering vir hul getuienis.
Petrus se Pinksterdag preek het hoofsaaklik oor die opstanding gegaan. Dit was dan ook die dissipels se hooftema van hul prediking. Die groot waarheid daarvan was: Soos wat Jesus werklik uit die dood opgestaan het, kan sondaars deur die bekering uit hul sonde-dood opstaan.
In die NT glinster die werklikheid van Jesus se opstanding uit die dood keer op keer. In Handelinge is dit die sentrale tema van die prediking. Die boek Openbaring sou sinloos daarsonder gewees het. Die vier Evangelies en die geskiedenis van die vroeë kerk soos in Handelinge opgeteken is, maak daarvan ook 'n kernelement. Die briewe van Paulus, Petrus, Jakobus en ander Bybelskrywers betuig van die opstanding duidelik. Dis 'n voldonge feit. Niemand kon nog ooit 'n geskiedkundige gebeurtenis wegredeneer nie, selfs nie 'n dwaalleraar soos o.a. Desmond Tutu nie.
Hierdie gebeure het die eertydse Jode baie aanstoot gegee. Indien hulle dit as 'n fabel kon bewys, sou dit 'n sterretjie op hul skouers wees. Maar hulle kon nie. Hulle het wel geweet waar die graf is wat aan Josef van Armetia behoort het, en dat dit leeg was. Maar net so min as wat 'n liggaam uit 'n lykhuis verdwyn van 'n opstanding getuig, getuig 'n leë graf daarvan.
Wat het dinge laat verander? Toe Jesus aan mense verskyn het. Paulus skryf aan die Korintiërs dat meer as 500 mense die opgestane Jesus gesien het en dat sommige van hulle toe nog leef (1 Kor.15:6) – en waardevolle getuies was!
Talle ontspoorde teoloë meen dat dit nie 'n fisiese opstanding was nie maar geestelik. Nee, Jesus bewys self sy fisiese opstanding. In Joh.20 lees ons: “En toe dit aand was op daardie eerste dag van die week en die deure waar die dissipels vergader het uit vrees vir die Jode, gesluit was, het Jesus gekom en in hul midde gestaan en aan hulle gesê: Vrede vir julle! En nadat Hy dit gesê het, wys Hy hulle sy hande en sy sy. En die dissipels was bly toe hulle die Here sien.... En Thomas, ...een van die twaalf, was nie saam met hulle toe Jesus gekom het nie. Die ander dissipels sê toe vir hom: Ons het die Here gesien! Maar hy het vir hulle gesê: As ek nie in sy hande die merk van die spykers sien en my vinger steek in die merk van die spykers en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie. En agt dae daarna was sy dissipels weer binne, en Thomas saam met hulle. En Jesus het gekom terwyl die deure gesluit was, en het in hul midde gestaan en gesê: Vrede vir julle! Daarna sê Hy vir Thomas: Bring jou vinger hier, en kyk na my hande; en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie ongelowig wees nie, maar gelowig. En Thomas antwoord en sê vir Hom: My Here en my God!”
As Jesus nie met dieselfde fisiese liggaam waarmee Hy gekruisig is opgestaan het nie, sou die opstanding sy waarde verloor het. Maar Hy het met dieselfde een opgestaan. Net God kon die dood oorwin – Jesus is God!
Op Pinksterdag preek Petrus geesdriftig oor die opstanding. Waarom het die Jode hom nie teengestaan nie? Hulle kon nie! Toe Paulus later voor Agrippa gedaag word, het hulle ook die punt van Jesus se opstanding vermy. Hulle het eerder tot die vlak van uitskel en harde woorde gedaal, maar absoluut niks van die opstanding gesê nie. Die Jode se stilswye was net so betekenisvol soos die apostels se getuienis daaroor.
Let op die verandering wat die opstanding van Jesus in hul lewens gebring het. Voor die opstanding het Jakobus, die broer van Jesus nie aan Hom as die Messias geglo nie. Na die opstanding verkondig hy saam met die ander dissipels dat Jesus wel die lank verwagte Messias is. Sy sendbrief getuig van die nuwe verhouding. In Hoofstuk een stel hy hom self as: ” ...'n dienskneg van God en die Here Jesus Christus....”
Baie mense glo nie aan die opstanding nie. Dis vir hulle 'n mite. Wat 'n verskrikking wag daar nie vir hulle na die dood nie! Die gelykenis van die talente sê wat dan gebeur: “En werp die nuttelose dienskneg uit in die buitenste duisternis; daar sal geween wees en gekners van die tande” (Mat 25:30). Op hulle wat met hart en siel aan die opstanding van Jesus glo en gevolglik die bekering gesmaak het, wag daar onuitspreeklike vreugde. “....Mooi so, goeie en getroue dienskneg, .... Gaan in in die vreugde van jou heer” (Mat 25:21).
Wat van jou? Watter betekenis het Jesus se opstanding uit die dood vir jou persoonlik? Wees eerlik; is dit bloot net 'n goeie nagedagte of bied die waarheid daarvan werklik vir jou geestelike vreugde?