Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Oorloë en stryd word veroorsaak deur mense wat eie, aardse belange wil dien. Daarom sal dit vermy kan word deur eerder ander belang te dien. Soek na dinge wat vrede bring want ons word in die Woord aangesê om die vrede te soek en dit na te jaag; dit sal lei tot die uitbou van God se koninkryk en die uitvoering van die liefdesopdrag om God en jou naaste lief te hê.
DOEN DIE REGTE DINGE IN DIE LEWE
Ds A.E van den Berg
“ 'n Psalm van Dawid. HERE, wie mag vertoef in u tent? Wie mag woon op u heilige berg? Hy wat opreg wandel en geregtigheid doen...” (Ps.15:1,2).
Om 'n opdrag suksesvol uit te voer, gee genoegdoening in die lewe. Daarvoor moet jy die betrokke opdrag reg uitvoer want jou optrede bepaal die uitslag: jy slaag of misluk. Niemand kry goeie resultate van verkeerde optredes nie.
Dis ook in geestelike sin waar. Die Bybel roep ons op om regte dinge te doen want daar kom 'n dag van afrekening: “Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad” (2 Kor.5:10).
Ons het egter net een lewe om in reg te leef. Daar is geen tweede kans nie. Ons kan baie ander foute in die lewe verander, maar nie wat die eindbestemming betref nie. Daarvoor net een kans. As dit verby is, is dit verby!
Een van ons ou digters het gesê: “Met die water wat verby is, sal jou meul nooit weer maal nie en uit die assies van jou vuurherd sal jy geen gloed meer haal nie”. Ons is almal uurglas-mense. Nie een van ons weet hoeveel sandkorrels daar nog in ons lewens-uurglas oor is nie. Ons is almal op reis na ons ewige eindbestemming, maar weet nie wanneer ons daar gaan aankom nie.
In Ps.15 ontmoet ons ook reisigers; pelgrims wat van heinde en verre na Jerusalem gereis het om daar te aanbid. Hulle was 'n bekende gesig in hierdie indrukwekkende stad. Sommige van hulle het selfs so ver as uit Afrika gekom. Dink aan Simon van Serene wat tydens die Paasfees in Jerusalem Jesus se kruis gedra het. So ook die menigte wat op Pinksterdag tydens die uitstorting van die Heilige Gees in die tempel was. Jerusalem is tot vandag toe nog 'n pelgrimsstad. Soos wat Mekka vir die Moslems is, is Jerusalem vir gelowiges.
In die verlede is pelgrims nie voor die voet tot die heiligdom (tabernakel en later die tempel) toegelaat nie. Hulle moes eers met die nodige aanbevelingsbriewe by die priesters aandoen. Wie die heiligdom van die Here wou betree, moes heilig in hul lewenswandel wees. Daarom het die priesters altyd eers 'n paar vrae aan hulle gevra. Wie nie reg geleef het nie, is nie toegelaat nie.
Ps.15 moet teen hierdie agtergrond verstaan word. In ons geestesoog sien ons hoe die pelgrims by die heiligdom opdaag, elk met die self-ondersoekende vraag: “HERE, wie mag voor U verskyn?”
Die tabernakel was God se simboliese heilige woning op aarde. Dit het op 'n heuwel in Jerusalem gestaan wat as die berg Sion bekend was. Die vraag in die teksvers is: Wie kan opreg voor God verskyn? Hierdie toetredende vraag het pelgrims tot 'n selfondersoek (introspeksie) genoop.
Omdat ons pelgrims op pad na die Nuwe Jerusalem is, is dit net so noodsaaklik dat ons gereeld rekenskap van ons lewe voor God te gee: “HERE, wie mag vertoef in u tent? Wie mag woon op u heilige berg? ....” God antwoord: “Hy wat opreg wandel en geregtigheid doen...” Dit beteken nie dat jy sondeloos moet wees om vir God aanvaarbaar te wees nie. Indien dit die toegangskaartjie tot God se heiligdom (kerk) was, sou dit leeg wees.
Die opregte wandel van Ps.15 beteken om in die regte verhouding met God te leef. En dis slegs met die volle sekerheid van sonde-vergifnis moontlik. “Ek wat vergifnis Heer ontvang het, sing dankbaar my verlossinglied”. Sonder 'n verhouding met Jesus loop niemand die lewenspad reg nie!
Dawid plaas in Ps.15 'n hele paar sondes op die lys; nie growwe sondes soos moord, owerspel of aanranding nie, maar kleiner sondes wat mense meen nie so erg is nie. Dawid se sonde-lys van 10 het alles met liefde tot God en medemens te doen. Kom ons toets onsself aan dié vereistes om voor God te kan staan.
Eerstens “en geregtigheid doen” . Dis om dit te doen wat reg is. Ons doen so maklik verkeerde dinge. Soos 'n goeie vader verwag God van sy kinders om die regte dinge in die lewe te doen. Om dit reg te kry, help die Bybel en die Heilige Gees ons om tussen goed en kwaad te onderskei.
Tweedens “en wat met sy hart die waarheid spreek”. Satan is die vader van die leuen en besmet die wêreld daarmee. Jesus leer ons in die Bergpredikasie dat gelowiges se ja ja en hulle nee nee moet wees. Derdens skryf Dawid: “wat nie rondgaan met laster op sy tong nie”. Wie aan die negende gebod gehoorsaam is, praat nie kwaad van ander nie. Hulle skinder nie.
Vierdens skryf hy: “sy vriend geen kwaad doen”. Om altyd, waar moontlik, die beste vir jou vriende te soek. Vyfdens sê Dawid: “geen smaadrede uitspreek”. Dit beteken om niemand met die tong by te kom nie. Gelowiges plaas altyd 'n wag voor hul mond.
Die sesde heilige voorskrif lui: “in wie se oë die verworpene veragtelik is”. Gelowiges het geen gemene sake met booswigte nie. Dawid skryf “Here, sou ek dié nie haat wat vir U haat, en 'n afsku hê van die wat teen U opstaan nie? Ek haat hulle met 'n volkome haat; vyande is hulle vir my!” (Ps.139:21,22).
Die sewende heilige voorskrif lui: “Maar hy eer die wat die Here vrees”. 'n Gelowige voel hom altyd onder medegelowiges tuis. Daarom bely ons dat ons in die gemeenskap van die gelowiges glo en bewustelik opsoek.
Die agtste heilige voorskrif lui: “hy verander nie”. Hy hou sy woord al kos dit hom ook wat. Hierin volg gelowiges Jesus se voorbeeld wat nooit op sy woord terug gegaan het nie. So 'n gelowige is eerbaar voor God.
Die negende heilige voorskrif lui: “wat sy geld nie gee op woeker nie” . In die OT lees ons van hartelose mense wat arm en weerlose mense uitgebuit het; iets wat vandag nog gebeur. Nee, gelowiges slaan nie munt uit 'n medemens wat in geldelike nood verkeer nie.
In aansluiting hierby lui die tiende heilige voorskrif: “en geen omkoopgeskenk aanneem nie”. Dit was 'n lelike ding wat sy kop gereeld in Israel uitgesteek het, veral onder hooggeplaaste mense. Dis nog steeds aan die orde van die dag. Kyk maar net wat in ons eie land gebeur. Dis die een korrupsie-aangeleentheid na die ander, selfs ministers en presidente – almal onbeskaamde ongelowiges.
Nee, gelowiges loop nie saam waar dinge verkeerd loop nie. 'n Gelowige geniet die geluid van sy voetstappe as hy van verkeerde dinge af wegstap. Daarvoor gee God in Ps.15 tien heilige voorskrifte vir 'n eerbare lewenswandel en opregte kerkgang. Wie nie hiervolgens leef nie, leef verkeerd en betree die kerk onregmatig. Wie wel aan die voorskrifte voldoen, van hom sê vers 5: “... sal nie wankel in ewigheid nie”.
Staan ons eerbaar en opreg voor God of nie? Dawid skryf in Ps.139 dat God alles van ons weet. Ons kan maskers voor mense maar nie voor God opsit nie; Hy sien dwarsdeur dit. Onthou dat ons as gelowiges almal pelgrims op pad na die Nuwe Jerusalem is om God in sy ewige heiligdom te gaan ontmoet. Hoe lyk jou aanbevelingsbrief?
Ons het net een lewe om dit wat verkeerd is in reg te maak. Wat wil jy eendag van Jesus, die ewige Hoëpriester hoor: “Mooi so goeie en getroue dienskneg, gaan in in die vreugde van jou eer” of “gaan weg van My, jy wat die ongeregtigheid bewerk”? Dis jou keuse. Kies reg!.