VERBONDSKINDERS

Ds A.E. van den Berg

“En kyk, Ek is met jou en Ek sal jou bewaar oral waar jy heengaan en Ek sal jou terugbring in hierdie land; want ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou gesê het” (Gen.28:15).                                    

Die verhaal van Gen.28 is 'n ietwat ongewone verhaal. Dat God met iemand soos Jakob bemoeienis gemaak het, klink vreemd. Jakob was die laaste een wat op daardie stadium iets vir God sou kon beteken – alles behalwe 'n voorbeeldige mens. Van sy geboorte af het dinge verkeerd geloop. Daarbenewens beteken sy naam in Hebreeus bedrieër – presies wat hy was!  

Jakob het op slinkse wyses God se beloftes bekom om homself te bevoordeel. Hy het nie eens sy bejaarde vader ontsien nie en hom openlik bedrieg om sy broer se seën te bekom.   Jakob was selfgesentreerd, egoïsties, impulsief en eiegeregtig. As ’n sielkundige verslag oor Jakob se persoonlikheid opgestel kon word, sou daarop gestaan het: psigopaat! 

Sulke mense buig nie voor God nie en kan, uit 'n menslike oogpunt, vir die saak van God afskryf word. Desondanks het God hom teen alle verwagtinge in ver van sy ouerhuis af opgesoek en kragtig in sy diens gebruik. Waarom dan so?   Omdat God in ’n verbondsverhouding met sy pa Isak en sy oupa Abraham was. Dit het op God se tyd Jakob se lewe omgekeer.  

Die Here se weë is egter nie altyd ons weë nie. Ons skryf so maklik mense af en dan teken die Here hulle weer tot ons beskaming aan. Somtyds skryf ons selfs onsself af. Hoor hoe probeer Jesaja homself verskoon as God hom tot diens roep: “… Wee my, ek is verlore! Want ek is ’n man onrein van lippe en woon onder ’n volk wat onrein van lippe is”.

Jakob het gevlug omdat hy drooggemaak het. God het egter sy weg versper en letterlik in Jakob se pad kom staan sonder dat Jakob daarvoor gevra het. Om die waarheid te sê, is God die laaste Een na wie Jakob op daardie stadium gesoek het. Jakob soek nie na God nie. God soek na Jakob. Die rede hiervoor is dat Jakob 'n verbondskind was en die Verbondsgod ’n opsoekende God is!

Dieselfde ding gebeur 1900 jaar later toe ’n gesiene Jood openlik teen die volgelinge van Jesus optree en die pad na Damaskus aandurf om gelowiges uit te snuffel en Jerusalem toe te bring om vervolg te word.   Terwyl hy in die versengende hitte ry, kry hy as te ware ’n klap uit die hemel, bo van sy perd af plat teen moederaarde. Waarom? Omdat die Here hom uitverkies het. Paulus was ’n verbondskind.   Luister hoe getuig hy later daarvan: “Maar toe dit God behaag het, wat my afgesonder het van die skoot van my moeder af en deur sy genade geroep het” (Gal.1:15). God het hom van sy geboorte af vir sy diens bestem en van hierdie verbondskind die grootste sendeling op aarde gemaak.

Waarom het God twee skynbaar nikswerd mense (Jakob en Paulus) se lewens so ingrypend omgekeer?   Omdat God sy deel van sy goddelike kontrak nagekom het. God het met Jakob se oupa Abraham 2000vC. ’n kontrak gesluit en sy nageslag as volk uitverkies. God het hulle uitsonderlik geseën sodat die heidense nasies sou weet dat Hy die enigste ware God is.

Israel moes van hulle kant God alleen dien en so afgesonder leef, dat mense kon sien dat hulle vir God opsy gesit is. Hulle moes ’n heilige volk wees en ’n lig in die heidense duisternis. Hierdie kontrak is aanvanklik met die besnydenis en in die OT en later met die doop in die NT onderteken.  

As God met die vlugtende Jakob praat, sê Hy vir hom: “Ek is die God van Abraham en Isak”.   Kragtens hierdie kontrak, het God na Jakob kom soek al het hy afgedwaal en hom terug gebring. Dit laat ons aan Jesus se gelykenis van die goeie herder dink wat die 99 skape laat staan het om na die een wat afgedwaal het te gaan soek. En dis die hart van die verbond – God maak bymekaar wat Hy uitverkies het.

Jakob het die spoor lelik byster geraak, maar is deur die Verbondsgod ingehaal wat aan hom dieselfde verbondsbeloftes soos vir Abraham en Isak gegee het. God het vir Abraham gesê dat hierdie kontrak tot sy nageslag se voordeel sou strek. Die Verbondsgod soek ook gelowiges se verdwaalde nageslag met sy seën op. Dis’n deurlopende verbondslyn. Wat ’n wonderlike liefde het God nie vir sondaars nie! Ons sou Jakob afgeskryf het, maar nie God nie. Hy bly trou aan sy verbond.

Ons leef 4000 jaar na Abraham met wie God die verbond gesluit het. Hoe kan ’n verbond wat in Israel eeue gelede met ’n Semiet aangegaan is ons enigsins raak?   Die antwoord is duidelik: “En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename” (Gal.3:29).   As ons in Jesus nuut word, verbind ons onsself tot hierdie kontrak met al sy beloftes, nie net vir onsself nie, maar ook vir ons kinders. “Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar vêr is, die wat die Here onse God na Hom sal roep” (Hand.2:39). Daarom doop gelowiges hul kinders. Ons bevestig ons geloofsverbintenis met Christus. Daardie kontrak maak van ons die geestelike familie van Jesus. Met die doop sê ons: “Here, dis wonderlik om deel van u familie te wees!”

Verbondsbeloftes is die wonderlikste van alle beloftes omdat dit deur ’n magtige God gemaak is wat nooit verander nie. Luister wat sê Hy vir Jakob: “Ek sal jou hierdie land gee. Jou nageslag sal so baie soos die stof van die aarde wees. Al die nasies sal in jou nageslag geseën wees (Christendom) . Ek sal jou bewaar.   Ek sal jou nie verlaat nie. Ek sal by jou staan”.

Menslik gesproke verstaan ons nie dat God na ’n bedrieër gekom het en vir hom sê: “Ek sal, Ek sal, Ek sal…” Hierdie toeseggings word gemaak terwyl Jakob se lewenspad lynreg van God af weg was.   God boul hom pens-en-pootjies: En wat sê Jakob? ” Waarlik, die Here is op hierdie plek en ek het dit nie geweet nie” (Gen.28:16).  

Gen.28 leer ons dat God ook verbondskinders wat afdwaal, opsoek en na hul geestelike familie laat terugkeer. Let op Jakob. God soek hierdie ongure karakter om geen ander rede as die verbond op nie. En wat ’n ommekeer het dit nie in Jakob se lewe gebring nie!   As God Hom daarna aan Israel bekend maak, sê Hy nie net dat Hy die God van Abraham en Isak is nie. Luister wat sê Hy vir Moses tydens sy roeping: “Ek is die God van jou vader, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob…” (Ex.3:6).    

Deur die doop word ons in die familie van God ingetrek, met al die voordele van ’n liefdevolle, opsoekende God.   Dit mag ons egter nie onverskillig maak nie. God lê sekere verbondsverpligtinge op elke ouer wat sy kind ten doop bring. Hoe lank is dit geldig? Totdat hulle die huis verlaat? Onthef God my dan van my verpligtinge?   Geensins. Wanneer dan?   Hierdie verpligtings is bindend totdat ek my laaste asem uitblaas.  

As my kinders, ongeag hoe oud hulle is dinge doen wat God nie behaag nie, moet ek hulle vermaan. Ons liefde vir God dring ons daartoe: “...dat jy die HERE jou God kan vrees om al sy insettinge en gebooie wat ek jou beveel, te hou – jy en jou kind en jou kindskind al die dae van jou lewe…”(Deut.6:2).  

As jy jou kind nie vermaan nie, pleeg jy kontrakbreuk en kan jy die straf van God te wagte wees. As jy die kontrak eerbiedig en toesien dat jou kinders en jou kleinkinders daarin wandel en nie skroom om hulle te vermaan nie, sal God jou seën.   Sy genade is so groot dat Hy selfs die afgedwaalde een sal opsoek en van ’n geestelike uitskotproduk ’n meesterstuk maak.

Ons land het baie probleme.   Een van die heel grootstes is die gesinslewe wat lelik uitmekaarval omdat ouers hul verbondsverpligtinge nie nakom nie. Dis kontrakbreuk!   Wat ’n wonderlike land sal Suid-Afrika nie wees as ouers hul verbondsverpligtinge nakom en nie god’s water oor god’s akker laat loop nie!

Verbondsgehoorsaamheid laat sulke kinders soos lewendes van dooies verskil. Die wyse waarop ’n kind opgevoed word, bepaal uiteraard sy toekoms.   As ons vir hulle stewige wortels gee, sal God vir hulle vlerke vir die toekoms gee. Daarom behoort elke kind die lewe deur die goue hek van verbondsouers in te gaan. Sulke ouers is padwysers na die ewige geluksaligheid. Bid vir ons volk se gesinslewe wat so lelik uitmekaar val. God verhoor gebede en genees menigvuldiglik.

“(As) my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees” (2 Kronieke 7:14).