BAKPOEIERBLIKKIE GELOOF

Ds A.E. van den Berg

“Die geloof dan is 'n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, 'n bewys van die dinge wat ons nie sien nie” (Hebr.11:1).

Die mens is van nature verlore en volg derhalwe eerder 'n lewenspad weg van God af. Gevolglik is sy ewige eindbestemming die hel. Jesus sê self: Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan” (Mat 7:11).

Desondanks wil niemand graag hel toe gaan nie. Kan 'n mens dit verhoed ? Jy moet gered word; iets wat jy self nie kan doen nie. Niemand is so goed dat hy sy ewige eindbetemming kan verander nie. As jy in diep water in die moeilikheid beland, kan jy mos nie jouself aan die hare beetskry en wal toe sleep nie! Iemand sal dit vir jou moet doen, en dis Jesus. Maar daarvoor moet jy geloof hê.

Maar, wat is geloof? Dis om jou hand uit te steek en Jesus se uitgestrekte hand na jou toe aan te gryp. Geen mens is so verlore dat Jesus die desperate hand wat na Hom uitsteek nie raaksien nie. Dink maar net aan die misdadiger langs Jesus aan die kruis wat met laaste asemteue uitroep: "Here, dink aan my!" Nog nooit het redding so ver gelyk, en nog nooit was dit so naby nie. Jesus vat sy hand vas met die belofte van redding. Hoe wonderlik is redding nie – net 'n geloofshand na Jesus uitsteek en dis al!

In die musiekblyspel Paint You Wagon sing Lee Marvin: "I'm so lost not even God can find me". Dis natuurlik 'n leuen! In Jesus Christus red God tot die uiterste toe. As 'n ter doodveroordeelde genade kon vind, kan enigeen ook. In Hand 16 lees ons van 'n tronkbewaarder in Fillipi wat bewend voor Paulus en Silas neerval en vra: "Menere, wat moet ek doen om gereed te word?" Hierdie harde man verkrummel voor God en word gered.

Ja, geen mens is so sleg dat hy nie gered kan word nie. Al wat nodig is, is geloof. Dis ons kaartjie na die ewige geluksaligheid. As jy dit het, ry jy. As jy dit nie het nie, bly jy. Ons hemelse Kondukteur vra ook ons kaartjie – die geloofskaartjie in Jesus. Daarmee gaan jy die ewige geluksaligheid binne. Daarsonder hel toe!

Maar hoe lyk geloof? Ons praat so baie daaroor. Hoe lyk dit in die praktyk? Daar word vertel van 'n man wat in 'n woestyn verdwaal. Sy water was op, sy tong geswel en lippe gebars. Om alles te bekroon, het aasvoëls vol verwagting bokant hom gesweef. Dit was net 'n kwessie van tyd!

Net voordat hy moed opgee en maar neerval om te sterf, kom hy op 'n verlate waterpomp met 'n bakpoeierblikkie met 'n draad daaraan vasgebind en 'n brief binne-in af wat lees: "Hierdie pomp is reg en werk goed. Ek het 'n nuwe suigwaster ingesit wat jare sal hou. Die waster droog egter uit en die pomp moet van vooraf gevoer word. Onder die wit rots hier links het ek 'n bottel water met die prop na bo begrawe. Daar is net genoeg water in om die pomp mee te voer, maar nie as jy daarvan gaan drink nie. Gooi 'n kwart van die bottel op die waster en laat dit vir 'n minuuut of twee week. Gooi daarna die res van die water in die pomp en pomp vir die vale. Jy sal genoeg water kry. Hierdie boorgat het nog nooit opgedroog nie; glo my net. As jy genoeg water gedrink het, maak weer die bottel vol en begrawe dit vir die volgende reisiger op diesefde plek – prop na bo. Voorspoed!" Geteken: Woestyn Piet. Wat sou jy doen as jy in daardie swerwer se skoene was?

Hierdie verhaal bevat drie belangrike geloofselemente:

  1. Die swerwer moes iemand vertrou wat hy nog nooit gesien het nie;
  2. Hy moes waagmoed aan die dag lê;
  3. Hy moes pomp vir die vale.

(i) Die swerwer moes iemand vertrou wat hy nog nooit gesien het nie

Die vraag was of hy hom kon vetrou? Was hy nie dalk 'n poetsbakker nie​? Of iemand met 'n makabere humorsin nie? 'n Besetene wat dit geniet het om iemand in die woestyn te sien sterf en aasvoëls op hom toesak?   Al sekerheid wat hierdie man gehad het, was die briefie in die bakpoeierblikkie.

Ons het Jesus ook nie gesien nie. Al wat ons het, is sy brief - die Bybel en op grond daarvan moet ons glo. Jesus sê vir Thomas: "Gelukkig is die wat nie gesien het nie en tog glo" (Joh.20:29). Geloof is om Jesus onvoorwaardelik op sy Woord te neem.

Ons is almal reisigers in 'n woestyn van sonde.   Daar is wel 'n fontein van lewende water. Jesus sê vir die Samaritaanse vrou: "... Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word 'n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe" (Joh.4:13,14). Die mens wil dit nie doen nie en eers soos Thomas sien en voel wanneer hy met die lewende God gekonfronteer word en dan skaam op sy knieë sak en uitroep: “My Here en my God!"

(ii) Hy moes waagmoed aan die dag lê

Die woestynreisiger moes die enigste bottel water waag.   En as die pomp miskien nie gewerk het nie, wat dan?   Kon hy dit wat tussen hom en 'n gewisse dood gestaan het waag?   Moes hy nie maar die water drink en hoop en bid vir die beste nie? Ja, 'n mens se lewe is vir hom kosbaar. Vertrou jy Jesus daarmee?

Jare gelede stap die Franse staaldraadloper Blandon met sy broer op sy rug oor die Niagra-waterval. Toe 'n verslaggewer hom vra waarom hy nie iemand anders op sy rug oordra nie, sê Blandon vir hom; "Kom, klim op my rug" Toe hy sy oë uitvee is daardie verslaggewer skoonveld!

Hy het geglo dat Blandon dit vir ander kon doen, maar nie vir homself nie. Is dit nie maar 'n algemene geloofsprobleem nie? Jesus kan ander red, maar nie vir my nie.   Vir Jesus moet jy jou lewe waag, dis nou as jy glo dat Hy werklik 'n sterk Verlosser is. Ja, geloofswaagmoed vereis 'n lewende geloof.

(iii) Hy moes gewillig wees om vir die vale te pomp

As die woestynreisiger nie ywerig gepomp het nie, het hy van dors omgekom. Dit beteken egter nie dat ons vir ons saligheid kan werk nie. Ons kan nie ons plek in die ewige geluksaligheid verdien nie. Jesus het alreeds alles wat vir ons redding nodig is, gedoen. Ongelukkig kom baie nense nie verder as dit nie terwyl die Bybel eis dat ons die heiligmaking moet najaag. Heiligmaking is geloof met opgerolde moue.

Meer as 'n eeu gelede was die befaamde prediker DL Moody op 'n skip waartydens 'n brand ontstaan het. Die passasiers het 'n ketting gevorm en emmers water aangegee om die brand te blus. 'n Vrome passasier vra hom toe of dit nie beter sou wees om eerder te bid nie? waarop Moody antwoord: "Bly maar net in die tou en bid soos wat jy emmers aangee". Geloof versit berge en waar dit nie kan nie, grawe dit 'n tonnel dwarsdeur.

In Hebr.11 word Abraham die vader van gelowiges genoem omdat hy 'n onwrikbare geloof in God gehad het. Hy het die bekende vir die onbekende verlaat. Toe God hom geroep het om Ur te verlaat, het hy sy lewe, gesin en alles wat vir hom kosbaar was op die spel geplaas om God se wil te kon doen. Hy was later selfs bereid om sy enigste seun nie te spaar nie maar vir God te offer. As God hom nie gestop het nie, sou hy dit gedoen het.

Miskien voel jy ook soos 'n swerwer in die woestyn van sonde, 'n verlore seun, baie ver van jou hemelse Vaderhuis en smag na die water van die lewe. Maar, terug by die woestynreisiger. Wat het hy na die lees van die brief gedoen? Hy het die water gewaag soos wat Woestyn Piet voorgeskryf het en al die water wat hy benodig het, gekry. Dit het hom van 'n gewisse dood gered. Hy het iemand vertrou wat hy nog nooit gesien het nie, waagmoed aan die dag gelê en vir die vale gepomp. Dis die drie elemente van geloof.

Wat van jou? Is jy ook gewillig om dieselfde te doen – 'n bakpoeierblikkie geloof te hê? Dis al wat tussen jou en 'n gewisse woestyn-sondedood staan. Maak vandag nog die regte besluit!