Wanneer u hier gelees het sal u besef dat u eie swaarkry en opofferings moontlik niks is in vergelyking met die vervolging en wreedheid wat die apostels en evangeliste ná Christus se Hemelvaart moes deurmaak nie. Laat ons dan ook aan ons broers en susters in Christus dink wat steeds hieronder gebuk gaan en die dood daagliks weens hul geloof in die gesig moet staar.
- Matteus: Hy was ‘n belastinggaarder wat ‘n envangelis geword het. In Ethiopië het hy ‘n martelaarsdood gesterf toe hy met ‘n byl doodgekap is.
- Simon die Seloot: Sy dood is in onduidelikheid gehul. Volgens vroeë vertellings is hy òf in die koninkryk van Iberië (Georgië) òf in Samaria, òf in Persië gekruisig.
- Petrus: Hy is onderstebo gekruisig. Volgens oorlewering het hy dit só versoek aangesien hy homself onwaardig beskou het om op dieselfde wyse as sy Meester te sterf.
- Filippus: Hy het as ‘n martelaar in die antieke Griekse stad, Hiërapolis gesterf. Hy is onderstebo aan ysterhake opgehang. Sy graf is amptelik in 2011 gevind.
- Johannes: Hy is in olie gekook maar het wonderbaarlik aan die dood ontkom. Hy het in vrede op die eiland Patmos gesterf waar hy die boek Openbaring geskryf het.
- Jakobus die regverdige: Jesus se broer; hy het geweier om sy geloof te ontken en is toe by die tempelmuur afgegooi, het oorleef en is met ‘n knuppel doodgeslaan.
- Judas (Taddeus): Hy het op sy sendingreis as martelaar in Persië gesterf. Godsdienstige Oosterse leiers het hom met ‘n byl doodgekap.
- Andreas: Hy is in Griekeland gekruisig. Nadat hy gegesel is, is sy liggaam aan ‘n kruis vasgemaak. Hy het vir sy martelaars bly preek totdat hy ná twee dae gesterf het.
- Jakobus, seun van Sebedeus: Hy was bekend as een van die “Seuns van die Donder”. Hy het Spanje geë
- Bartolomeus: Hy het ook as Nataniël bekend gestaan en was ‘n sendeling in Asië (waar Turkye vandag is). Hy is in Armenië gemartel en tot die dood toe gegesel.
- Tomas: Ook bekend as “Ongelowige Tomas”. Tydens een van sy sendingreise na Indië waar hy ‘n kerk gestig het, is hy met spiese doodgesteek.
- Mattias: Hy is in die plek van Judas Iskariot gekies. Hy het onder die kannibale gewerk. Die verslae oor sy dood wissel; hy is òf gestenig, òf gekruisig òf onthoof.
Hoewel Paulus, Lukas en Markus nie amptelik deel van die oorspronklike 12 apostels was nie, is hulle invloed in die Bybel van groot belang. Hulle het ook as martelaars gesterf.
- Paulus: Paulus het gedurende sy leeftyd gevangenisskap, aanrandings en skipbreuk deurgemaak. Hy is gemartel en toe deur keiser Nero van Rome in 67n.C onthoof.
- Lukas: Hy was ‘n Griekssprekende mediese dokter en is in Griekeland gehang juis omdat hy onophoudelik die Evangelie verkondig het.
- Markus: Hy was die stigter van die kerk in Alexandrië in Egipte. Hy het toe ook daar gesterf nadat hy met perde deur die strate gesleep is.
Kom ons dank die Here vir elke dag waarin ons nie soos die apostels tot die uiterste beproef word nie; laat ons met blydskap elke dag aanpak en met groot dankbaarheid elke aand gaan slaap.