HEILIGHEID...

   ... ABSOLUTE STANDAARD VIR CHRISTENE

Stephanus Hennig

Deurgaans, in die Ou- en Nuwe Testament, is daar 'n unieke en uitverkore volk van God wat as "heiliges" bekend staan. In 1Kor. 1:2 openbaar Paulus hulle as mense wat deur Christus geheilig is. Aan hierdie eienskap word al die uitverkorenes van God geken.

Johannes in sy evangelie en sendbriewe, lê sterk klem op die liefde as standaard van uitkenning onder christene. Maar liefde is die totale karakter van God en in ooreenstemming daarmee sal ons in hierdie wêreld uitgeken word as dissipels van Christus. Ons moet van hierdie karakter wees anders is ons verklaring vals, naamlik "dat dit nie ons is nie, maar Christus wat in ons leef."

Aan die liefde word ons geken as kinders van God; want liefde is die totale vrug van die Heilige Gees - Gal. 5:22.

Maar heiligheid is die standaard van die liefde; dit is die openbaring van ware liefde.

Heiligheid openbaar die siel as afgesonder en toeberei vir die diens van Jehova. Dit is die reinheid van die heilige; sy absolute gehoorsaamheid aan die geregtigheid; sy gereedheid om alles te doen wat die goddelike wil van hom vereis. Dit openbaar die christen as heeltemal afgesonderd van die wêreld; as iemand wat die ongeregtigheid haat met 'n volkome haat. Hy sterf eerder as om teen God, sy Vader te sondig.

In hierdie eienskap van die liefde word die standaard openbaar waarsonder niemand die koninkryk van God sal beërwe nie. Hierdie standaard is radikaal verskillend van die standaard van die wêreld. Die doel waarvoor dit staan is lynreg in botsing met alle vleeslike voorneme.

In die heerlikheid daarvan, word die boosheid van die wêreld se standaarde bekend.

Dit hou geen gemeenskap met sonde nie; en daarom haat die wêreld dit. "Elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf mag word nie" - Joh.3:20.

Sonder heiligheid kan geen skepsel aanspraak maak op die koninkryk van God nie. Dit moet die hoofeienskap wees van elke christen, of hy sal verlore gaan.