DIE CHARISMATIESE GEVAAR (15)

Ds AE van den Berg

Lees reeks by Die Charismatiese Gevaar

GODDELIKE GENESING

"Geloofsgenesing was ‘n wonderteken wat vir spesiale geleenthede gebruik moes word.   Dit was nooit bedoel om gelowiges permanent in perfekte gesondheid te hou nie... God het nie hierdie gawe gegee het om gelowiges gesond te hou nie, maar as ‘n teken om ongelowiges van die goddelike waarheid van die Evangelie te oortuig".

Genees God vandag nog siekes?  Ja, maar slegs in antwoord op gebed.  Dramatiese wondergenesings is egter baie skaars en is nooit die gevolg van iemand wat kwansuis ‘n gawe van genesing het nie.   Laat ek dit baie duidelik stel: EK GLO NIE AAN GELOOFSGENESING NIE, MAAR WEL AAN GEBEDSVERHORING  “...Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag” (Jak.5:16).

Charismatiese geloofsgenesings laat die kalklig op die mens en nie op God val nie, al ontken hulle dit heftig.  Gebedsverhoring daarenteen laat die lig enkel en alleen op God val.   Sy wil geskied ook by wyse van antwoord op gebed.  Desondanks moet ons altyd soos Jesus in die tuin van Getsemane bid: “...Laat nogtans nie my wil nie, maar U wil geskied" (Luk 22:42).  Gebede wat dit nie bevat nie, kan nie verhoor word nie.

Daar is geen Bybelse regverdiging of goedkeuring vir enige geloofsgenesing wat na die apostels se dood plaasgevind het nie.  Daar is in werklikheid ‘n hemelsbreë verskil tussen die goddelike genesing van Jesus en die apostels en dit wat in charismatiese kringe gebeur.   Hulle dwaal omdat hulle die Skrif nie ken nie!

Let vervolgens op die duidelike verskil tussen Jesus se genesingsbediening en diè van die charismate.   Jesus se genesingsbediening word aan ses eienskappe gekenmerk.  Hy het eerstens met ‘n woord of aanraking genees.  Mt.8 vertel van die verlamde kneg van die hoofman van Kapernaum wat met ‘n magswoord van Jesus genees is. Jesus het ook deur aanraking genees.  Mark.5 vertel van ‘n vrou wat 12 jaar aan bloedvloeiing gely het.  Toe sy Jesus se soom aangeraak het, is sy genees.

Tweedens het Jesus onmiddellik genees.  Die vrou in Mark.5 is onmiddellik genees, so ook die kreupele by die bad van Betesda asook baie blindes en melaatses.  Dit was nooit ‘n geleidelike genesing soos in charismatiese kringe nie.  Derdens het Jesus volledig genees.  Daar het nooit ‘n brokkie van die siekte oorgebly nie.  Petrus se skoonmoeder is so volledig genees dat sy opgestaan en haar huismense bedien het.  Daar was geen herstelperiode soos soms by charismate voorkom nie.

Vierdens het Jesus almal genees.  Jesus het nooit lang toue mense teleurgesteld huis toe laat terugkeer nie.  Vyfdens het Jesus sigbare siektes genees en nie rugpyne, hartkloppings, hoofpyne en ander onsigbare siektes nie.  Hy het kreupeles, verdorde hande, verlamdes, blindes en melaatses genees – alles sigbare gebreke.  Laastens het Jesus ook sekere mense uit die dood opgewek waarvan die opwekking van Lasarus aangrypend deur Johannes beskryf word (Joh.11).

Geen charismaat kan hierdie wonders nadoen nie.  Hulle maak eerder die Here se gawes en wonders goedkoop!  In Amerika word genesings feitlik daagliks gebeeld-saai.  Dis altyd van die soort wat geen sigbare bewys benodig nie.   Hoe verskil dit nie van Jesus se genesings nie!  Hy het mense in die openbaar en voor groot skares genees.  Dit het sy optrede gesaghebbend gemaak.

Jesus het vir die apostels die voorbeeld van genesing gestel en dit ook later na 70 ander dissipels uitgebrei wat twee-twee uitgestuur is om die Evangelie te verkondig. “En maak die siekes gesond wat daarin is en sê vir hulle: Die koninkryk van God het naby julle gekom” (Luk.10:9).   Die gawe van genesing was egter nooit lukraak in die vroeë gemeentes gebruik nie omdat dit nie aan alle gelowiges gegee is nie.

Toe die kerk op Pinksterdag gebore is, het ‘n nuwe era aangebreek waarin God aan die apostels wondergawes gegee het ten einde die Evangelie te help vestig.  Dieselfde ses eienskappe wat Jesus se genesingsbediening  gekenmerk het, het ook die apostels s’n gekenmerk.   Hulle het ook met ‘n woord of aanraking genees.  Hand.9 vertel van Petrus wat ‘n verlamde man in Lidda met ‘n magswoord genees het.  Paulus het op die eiland Malta ‘n man met koors aangeraak en hom genees (Hand.28).

Die apostels het ook soos Jesus dadelik genees.  Die kreupele in die tempelpoort het onmiddellik gesond geword (Hand.3).   Die apostels kon ook soos Jesus enigeen genees.  “En die menigte van die stede in die omtrek het ook in Jerusalem bymekaar gekom en siekes gebring en mense wat deur onreine geeste gekwel was; en hulle is almal genees” (Hand.5:16).  Die apostels het hulle nie met sielkundige skete of psigosomatiese siektes opgehou nie, maar mense met organiese gebreke genees.

Laastens kon die apostels net soos Jesus ook mense uit die dood opwek.  Hand.9 vertel van Dorkas (Tabita) wat deur Petrus opgewek is.  Let veral op vers 42: ”En dit het bekend geword in die hele Joppe, en baie het in die Here geglo” Hier het ‘n wonderwerk, net soos in Christus se tyd, weereens geloofwaardigheid aan die Evangelieboodskap gegee.  Hand.20 vertel van nog ‘n opwekking uit die dood toe Paulus vir Eutichus, wat tydens ‘n lang preek aan die slaap geraak en by ‘n venster uitgeval en gesterf het, uit die dood opgewek is.

Moderne geloofsgenesers vertoon geeneen van die ses eienskappe nie omdat diè gawe eeue gelede ten einde gekom het.   Dit beteken egter nie dat God nie meer genees nie.  Hy doen dit nog steeds, maar slegs in antwoord op gebed.  Gereformeerdes glo dus nie in moderne geloofsgenesing nie, maar wel in gebedsverhoring.  Geloofsgenesing was een van die wondertekens wat God in die era van die apostels gegee het om gesag aan die Evangelieboodskap in die vroeë kerk te verleen.  Nadat die kerk gevestig is, was wondertekens nie meer nodig nie en het dit opgehou.

Paulus skryf in Fil.2 van ene Epafroditus wat baie siek was. Waarom het hy hom nie genees nie?  Omdat die gawe van genesing toe heelwaarskynlik alreeds iets van die verlede was.  Let asseblief daarop dat God nie hierdie gawe gegee het om gelowiges gesond te hou nie, maar as ‘n teken om ongelowiges van die goddelike waarheid van die Evangelie te oortuig.  Om Epfroditus te genees, sou dus nie met die doel van die gawe ooreenstem nie.    So ook nie met Trofimus wat tydens ‘n sendingreis ernstig siek geword en deur Paulus in Malta agterlaat moes word nie (2 Tim.4).

Geloofsgenesing was ‘n wonderteken wat vir spesiale geleenthede gebruik moes word.   Dit was nooit bedoel om gelowiges permanent in perfekte gesondheid te hou nie.  Hierteenoor leer charismate dat God elke gelowige in goeie gesondheid wil hou. As dit waar is, waarom laat God dan toe dat gelowiges in die eerste plek siek word?  Waarom meen charismate dat pyn en lyding boos is?  Is gelowiges dan nie ook aan die gevolge van sonde onderworpe nie?   Waarom neem sondaars hul toevlug tot Jesus?  Om genesing vir hul liggame te verkry?  Nee, eerder om genesing vir hul siele te verkry!   Indien perfekte gesondheid ‘n voordeel van bekering is, sal miljoene mense hul toeloop na Jesus neem.  Dit sal egter om die verkeerde redes wees soos diegene wat tydens Jesus se vermeerdering van die brood slegs brood vir hul liggaam en nie vir hul siele gesoek het nie!

Omdat charismate nie die Bybelse riglyne vir genesing volg nie, loop dit gereeld op verwarring en ‘n weerspreking van mekaar uit.  Wat vandag in charismatiese kringe gebeur, is beslis nie die Bybelse gawe van genesing nie.   Ja, daar vind nog steeds genesings plaas.  Die Bybelse gawe is egter nie meer aanwesig nie.  God genees wie Hy wil en soos Hy wil .....slegs as antwoord op gebed!

Waarom word gelowiges siek?  Die Here besluit daaroor.  “...Wie het vir die mens die mond gemaak, of wie maak stom of doof, of siende of blind?  Is dit nie Ek die Here nie? “ (Ex.4:11).  Dit klink miskien liefdeloos want waarom sal ‘n liefdevolle God so iets toelaat?   Daar is net een antwoord: Dis geskied volgens sy plan.  Ja, sommige siektes kom deur Satan se toedoen.  Luk.13 vertel van ‘n vrou wat 18 jaar lank deur ‘n bose gees verlam was en toe deur Jesus genees is.  God het dit toegelaat sodat Jesus daardeur verheerlik kon word.  Dieselfde ding het met Job gebeur.

Sommige siektes is die gevolg van sonde.  In 2 Konings lees ons van Gehasi wat weens hebsug melaats geword het.  Wanneer ‘n mens siek word, moet jy jouself biddend ondersoek en seker maak dat daar nie iets met jou geestelike lewe skort nie.  In Ps.139:24 bid Dawid tot God om te kyk of daar nie dalk ‘n weg van smart by hom is nie, d.w.s. sondes wat nie bely is nie.  Charismate is lief om siekes van sonde te beskuldig indien hulle nie gesond word nie.

Dit gebeur soms dat gelowiges deur God getug word en dan siek raak sodat hulle hul van hul verkeerde dade bekeer.  Dis egter nie altyd die geval nie.  Wanneer charismate sê dat siekte die gevolg van persoonlike sonde is, maak hulle dieselfde fout as Job se vriende (Job.42:7,8).  Joh.9 leer ons ook anders.

Charismate wat sê dat God elke gelowige gesond wil maak, het geen Bybelse bewys daarvoor nie.  Ons kan slegs tot Hom bid.  Al beloof Hy nie om ons telkens gesond te maak nie, het elke kind van God die reg om na sy hemelse Vader vir genesing op te sien.  Daar is drie redes hiervoor.  (i) God is ‘n Geneser: “...want Ek is die Here wat jou gesond maak”  (Ex.15:26).  (ii) God genees omdat Hy sy beloftes hou: “En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil” (1 Joh.5:14).  (iii)  Derdens het God in Christus meegevoel met siekes “....Hy het ons krankhede op Hom geneem en ons siektes gedra” (Mt.8:17).

Die Bybel leer ons dat God wel genees, maar ook dat siekes ook na ‘n dokter moet gaan.  Jes.38 vertel van koning Hiskia wat ernstig siek geword en tot God gebid het. “....Laat hulle ‘n vyekoek neem en dit op die sweer sit, dat hy gesond kan word” (:21).  Waarom was dit nodig as God hom onmiddellik kon genees het?  God lê hier ‘n beginsel neer.  Siekes moet twee dinge doen – bid vir genesing en na ‘n dokter gaan.  Charismate volg nie Bybelse voorskrifte nie en glo dan dat hulle iets het wat hulle in werklikheid nie het nie.  En daarmee mislei hulle miljoene mense wêreldwyd!