Die afgelope paar jaar het ons deeglik kennis gemaak met infame leuens en die wêreldwye verspreiding daarvan. Die Wêreldgeldmag het met satan, vader van die leuen, daarin geslaag om met nogal deursigtige leuens oor die korona-virus, toe die oorlog tussen die Oekraïene en Rusland, en nou die oorlog tussen Israel (VSA) en die Palestyne, die hele wêreldbevolking op hol te jaag. En hulle is nog nie klaar daarmee nie want die suksesse sover sal hulle noop om dit baie verder te vat. Hulle sataniese smagting na mag en geld kan net nie ophou nie en dit sal maak dat hulle ook eendag die woorde sal hoor: “Voorwaar Ek sê vir julle, Ek ken julle nie”. Met die woorde “Here, Here ....” in Mt.7:21 erken die dwaalleraars Jesus se heerskappy en herhaal dit selfs. Desondanks vra hulle Hom om Hom van hul voortreflike optredes te vergewis omdat hulle in sy Naam geprofeteer, bose geeste uitgedryf en wonders gedoen het.
Die Antichris gaan ook wonders doen ten einde mense te mislei: “...hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen” (2 Thess.2:9). En wanneer dit gebeur – die tyd is naby – gaan diegene wat nie deur die leuens van die Antichris en sy bende kan sien nie, ewig heltoe. Maar dit is nie nodig om so deur die leuen mislei te word nie. Daar is een vaste bron waarop ons kan staatmaak om ons oë vir die waarheid oop te maak. Om die waarheid van die leuen te onderskei, is ʼn deeglike kennis van die bron van die waarheid (Bybel) nodig.
Wonderbewerkers wat glo dat hulle op grond van hul wonders hemel toe gaan, ontken in effek die groot waarheid dat Jesus die enigste brug tussen God en mens is. “ ... Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh.14:6).
Die Bybel leer dat niemand op grond van werke gered word nie, maar slegs deur Jesus se versoeningsoffer aan die kruis. Geloof is nie dade nie, maar vertroue. Verlossing word nie verdien nie, maar ontvang.
Ongelukkig word mense maklik deur dwaalleraars se voorgee mislei. Dit was die probleem met die eertydse Fariseërs. Daarom waarsku Jesus dat baie mense wat glo dat hulle die hemel sal beërwe, uitgesluit gaan word:
“En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!”(Mt.7:23).
“... En die wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof, en die deur is gesluit. Later kom toe die ander maagde ook en sê: Meneer, Meneer, maak vir ons oop! Maar Hy antwoord en sê: Voorwaar ek sê vir julle, ek ken julle nie” (Mt.25:10-12).
Mag elkeen van ons wat in Jesus Christus glo en Hom vir ons lewe vertrou, se oë vir die waarheid geopen word, sodat ons ons nie deur satan se instrumente hier op aarde laat mislei tot wanhoop en angs nie. Glo wat in die Woord staan en leef dit ten volle uit, en u sal vind dat u dwarsdeur die leuens kan sien.