In 1974 vereenselwig die kerkleier en latere politikus, dr. A.P. Treurnicht, hom met ‘n waarneming deur die destydse minister van finansies (Nic Diederichs?) “en nugtere sakelui” dat ‘n ongesonde dobbel-element op die land se aandelebeurs vaardig is. “Daar bestaan goeie rede vir so ‘n waarmening,” voeg dr. Treurnicht toe by.
Dit was beslis nie die eerste keer dat na dobbel as netelige aangeleentheid in die land verwys is nie.
Inderdaad is daar reeds so vroeg as in 1885 daarvan melding gemaak; die historikus Bun Booyens wat in sy boek, Nagmaal deur die jare, p. 42, verklaar:
“Reeds in die tagtigjare (van die negentiende eeu) het die ‘euwel’ sy verskyning op kerkbasaars gemaak wat deurentyd tot op die hede wenkbroue laat lig het: lotery. Dit blyk dat Engelse kerk- en skoolbasaars reeds teen daardie tyd die gebruik van ‘raffeling’ ingevoer en winsgewend gevind het. Toe dit egter teen 1885 by ons eie basaars in Kaapstad in gebruik gekom het, was kerkleiers onseker of dit strydig met die landswet is en of dit straks in verband gebring kon word met volskaalse dobbelary soos by Baden-Baden en Monte Carlo.
Die antwoord het uitgebly, maar in 1889 het prof. N.J. Hofmeyr deur middel van die Gereformeerde Kerkbode ernstig gewaarsku teen ‘loterijen’ en dobbelary in die algemeen. ‘Die Christen’, so het hy afgesluit , 'onthoude zich zorgvuldig van alle dobbelspel , ook van zogenaamde ‘raffles’ die op kerklikijn bazaren voorkomen.’ Die redakteur het in ‘n voetnota die waarskuwing van die hoogleraar onderskryf en ‘n beroep op predikante en kerkraadslede gedoen om hierdie praktyk teen te gaan. Hy het sy lesers daaraan herinner dat die nagmaalsformulier ‘alle spelers’, dit is ook dobbelaars, van die 'tafel des Heeren’ weer.”
Dr. Treurnicht verklaar in ‘n destydse SAUK-praatjie (die praatjies gebundel onder die titel, Waar die Soeklig val): Die Bybelvertaler, prof. B.B. Keet, toon in sy werk, Sedelike vraagstukke, aan dat die Skepper ‘n noodsaaklike verband gelê het tussen die vrug van ons arbeid en om die vrug te verkry.
Dr. Treurnict brei soos volg op prof. Keet se verduideliking uit:
Dit is nog altyd as ‘n reël waar dat dié wat nie wil werk nie, ook nie verdien om te eet nie. Die dobbelaar verag die verband tussen arbeid en vrug of verdienste en stel dan eintlik sy vertroue in die noodlot wat die geluk of wins moet bring. Dit spreek vanself dat langs hierdie weg nie alleen traagheid en werkskuheid in die hand gewerk word nie, maar onverantwoordelikheid. Dit knaag aan daardie wortels waarop ‘n gesonde samelewing tussen mense groei deurdat die diensmotief en die naasteliefde wat ook die voordeel en welsyn van die naaste op die oog het, verloën word.
Daar is mense wat die dobbelspel selfs met ‘n vlagie godsdienstigheid wil bedek. Hulle redeneer dan dat as hulle eerlikwaar in geldelike moeilikheid verkeer, hulle tog kan bid dat deur die uitneem van ‘n loterykaartjie daar vir hulle uitkoms mag kom. Hierdie redenasie is nie pluis nie. Dit wil uitkoms van die kant van die Here bekom deur ongeoorloofde middele. Dit is ‘n oortreding van die Derde Gebod wat waarsku teen die ydellike gebruik van die Naam van die Here. En om van Hom iets te verwag wat in stryd is met sy wese en geopenbaarde wil, is om Hom te versoek. En dit mag ons nie doen nie.