Gustav Norval
Paulus skryf in Hebr. 10:32 as volg: “maar onthou die vorige dae waarin julle toe julle verlig geword het, ‘n groot lydingsworsteling deurgestaan het”. Daarmee bedoel Paulus dat lyding ‘n bekeerling se voorland is. Lusifer en sy gevalle engele teiken diegene wat in geloofsgehoorsaamheid wandel en hoe groter gevaar ‘n bekeerde vir die bose inhou, des te feller die fisieke en geestelike aanslag wat ons kan verwag. Paulus het die satan se fisieke aanslag ervaar soos hy in 2 Kor. 12 noem, en dit is so dat die bose magte ook bekeerdes se denke telepaties teiken deur allerlei bose gedagtes oor te sein. Die satan hardloop soos ‘n brullende leeu rond om gelowiges te probeer verslind (1 Petr. 5:8). Die Woord leer dat ons nie verontrus moet word tydens verdrukking nie, aangesien ons as gelowiges hiervoor bestem is (1 Tes. 3:3).
Ons moet ly t.w.v. die Evangelie (2 Tim. 1:8) en ons moet deur verdrukking worstel soos ‘n goeie krygsman van ons Messiah (2 Tes.2:3). Die Woord leer ons verder dat almal wat Godvrugtig wil lewe, vervolg sal word (2 Tim. 3:12 ; 2 Tim. 3:5) en dat ons deur baie verdrukkinge moet gaan om in die koninkryk in te kom (Hand. 14:22). Daar wag nog die groot verdrukking aan die eindtyd, waardeur gelowiges moet worstel om waardig bevind te word vir ons Vader se koninkryk (1 Tes. 1:5).
Hy sal op sy tyd ons uit die bek van die brullende leeu verlos (2 Tim. 4:17) en ons red van elke bose werk van die satan (vers 18). Petrus reken dat ons verdrukking maar van korte duur sal wees (1 Petr. 1:6) en dat dit net genade is wanneer ons lyding verdra terwyl ons goed doen (1 Petr. 2:20). Die Almagtige se antwoord aan Paulus, toe hy die Vader gevra het om hom te verlos van die satan se aanvalle, was dat sy genade genoeg is (2 Kor. 12:9). Dit geld ook vir ons vandag, dat sy genade vir ons genoeg is om te kan volhard en om die satan te weerstaan. Ons moet net sorg dat ons die volle wapenrusting aan het om die pyle van die bose uit te blus. Petrus skryf dat ons ons moet verheug as ons in beproewing kom (1 Petr. 1:6) want dit lei tot toetsing en loutering van ons geloof (1 Petr. 1:7).
Ons gaan ly t.w.v. die geregtigheid (1 Petr. 3:14), daarom moet ons vasstaan in verdrukking en volhard in gebed (Rom. 12:12), want die verdrukking wat ons nou ervaar, weeg nie op teen die heerlikheid wat ons eendag sal ervaar nie (Rom. 8:18). Ten laaste: staan die satan teë deur standvastige geloof omdat “julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broeders” (1 Petr. 5:9).