DIE LAASTE POUS (2)

ROME

Andrè van den Berg

Lees reeks by Die Laaste Pous

2.1     Afgode

Rome het aanvanklik geen gode van haar eie gehad nie.  Almal is van Griekeland af ingevoer.  Homer Smith skryf in Man and His Gods dat die Griekse drietal Demeter, Dionisis en Persefon in 493vC onder die name Ceres, Liber en Libera in Rome verskyn het.  Apollo en Asklepios het ongeveer 50 jaar later onder hul eie name gevolg en daarna Afrodite (Venus), Hermes (Mercurios) en Artemis (Diana).

Die Romeine was uiters bygelowig en het in tye van oorlog baie van hul gode verwag.  As hulle oorwin het, is daar aan die gode geoffer asof hulle die oorwinning gegee het.   Die grootste teleurstelling was egter in 218 vC toe Rome deur die Kartaagse heerser Hannibal binnegeval en jare lank beleër is.  Ten spyte van duisende offers kon die gode die vyande nie verdryf nie.  Dit het die aansien van die Romeinse Ryk geknou en die onderdaniges feitlik onregeerbaar gemaak.

2.2     Misleiding

Die keiser het egter ‘n plan gemaak en sy onderdane doelbewus met godsdiens begin mislei.  Hy het die ganse Romeinse gemeenskapslewe op bygeloof gebou ten einde die gepeupel te beheer.  Hulle was so onbeskaafd, wetteloos en onstabiel, dat Rome hulle slegs met ‘n vrees vir die onbekende in bedwang kon hou.  Dit het bo verwagting gewerk.

Die gepeupel was spoedig so bygelowig, dat hulle nie meer vir hulself wou dink nie.  Die geskiedskrywer Strabo kla dat mense van sy tyd so bygelowig was, dat hy glad nie logies met hulle kon redeneer nie.  Rome het hierdie bygeloof gereeld met allerlei verhale, leuens en legendes gevoed ten einde in beheer van sake te bly.  Die Roomse Kerk sou later dieselfde slenter gebruik – beheer deur misleiding.

Cicero het sy verontwaardiging uitgespreek en gekla dat die Romeine baie agterlik was deur gode en godinne in alles raak te sien.   Wanneer hulle bv.koring en wyn gebruik het, het hulle gesê dat hulle Ceres en Bacchus gebruik.  Gode kon dus by wyse van absurde vormverwisselings geëet word.   Die Roomse Kerk sou later dieselfde stuk heidendom toepas deur mense te laat glo dat hulle tydens die misoffer die werklike liggaam en bloed van Christus eet en drink!

Rome se godsdiens was ‘n valse vroomheid wat deur opsetlike priesterlike misleiding aangewakker en in stand gehou is.  Mense was te bygelowig om agter te kom dat hulle ‘n rat voor die oë gedraai is.   Die keisers het hierdie misleiding egter verwelkom omdat die gepeupel se vrees vir gode hulle in bedwang gehou het.  Die priesters het gedoen wat die keiser wou hê en die mense het gemaak soos wat die priesters gesê het.  Die Roomse Kerk gebruik dieselfde resep!

Die Romeinse geskiedskywer Varro onderskei die drie godsdienssoorte van sy tyd.   Eerstens die mitiese soort wat slegs van literêre belang was.  Tweedens die fisiese soort waaroor daar nie in die openbaar gepraat is nie.  Derdens die burgerlike soort waar dit in staatsbelang was om onderdane deur misleiding te beheer.

Laasgenoemde is baie sterk aangemoedig omdat dit logika onderdruk het.  Mense moes nie dink nie; hulle moes net volg - followers not thinkers.  Diegene wat wel gedink het, was nie baie gewild nie.  Lucretius het bv.met sy De Rerum Natura mense van die bygeloof waarin die Grieks-Romeinse wêreld verval het, probeer bevry en homself baie ongewild by die keiser gemaak!

Met verloop van tyd het die tradisionele heidendom begin taan en is afgodstempels al hoe minder besoek.   Etlikes het selfs in algehele onbruik verval.  Desondanks het die gepeupel bly glo dat daar wel gode was wat mense voorspoedig of ongelukkig kon maak.  Guns kon slegs deur toewyding verkry word.

2.3     Keiseraanbidding

Nadat Gaius Octavianus in 31 vC die burgeroorlog wat na die dood van Julius Caesar ontstaan het beëindig het, is hy as held en redder van die Romeinse ryk gehuldig.  Hy is met die titel Augustus (die verhewene) vereer en openlik aanbid.

Die behoefte om ‘n mens te aanbid, was egter niks nuuts nie.  Na Julius Caesar se dood het die Roomse senaat ‘n bevelskrif uitgevaardig dat hy voortaan as ‘n god beskou en aanbid moes word waarna keiseraanbidding ‘n nasionale kultus geword het.   Babilon het ook konings aanbid (Dan.6).

Keiseraanbidding het uit die staanspoor vrugbare teëlaarde gevind.  As gevolg van die onderlinge struwelinge en jaloesie onder priesters, was nie een van die gode of tempels gewild nie.  Gevolglik kon die Romeinse Senaat die probleem oplos deur keiser Augustus as die onbetwiste hoof van die veelgodendom aan te wys.  Daarna is keiseraanbidding op alle Romeinse burgers afgedwing en is oortreders selfs vervolg.

Die gepeupel het keiseraanbidding verwelkom bloot omdat dit iets nuuts was.  Op daardie tydstip was die bevolking van Rome nie juis Romeins nie.  Behalwe vir die welvarende heersersklas, het die bevolking grotendeels uit soldate, handelaars, slawe en ambagslui uit alle wêrelddele bestaan.   Rome het soos die res van die Romeinse ryk gelyk - ‘n wyd  uitgestrekte gebied wat deur magsbeheptes deur middel van wreedhede, bose ambisie, verraad, kruiperige onderdanigheid en korrupsie bymekaar gehou is.  Misdaad was ‘n deug en imbors ‘n swakheid.  Nie minder as vier Romeinse keisers is deur sg. vertrouelinge vermoor nie!

Keisers het van spioene gebruik gemaak om hulle van die gesindheid van die gepeupel te vergewis.   Die vergoeding wat hierdie spioene ontvang het, was net so verfoeilik soos hul dade - priesterskappe, diplomatieke poste en goewerneurskappe.  Ander het as’t ware die keiser se voetbank geword.   Dit het gemaak dat Rome by tye ‘n raserny van verraad, onderdrukking, haat en terreur was.  Slawe is omgekoop om hul base te verraai terwyl hooggeplaastes mekaar in die rug gesteek het.   Diegene wat geen vyande gehad het nie, is dikwels deur hul eie vriende onderkruip en ernstig benadeel.

Met geen vooruitsig om uit die bose groef van wantroue en haat te ontsnap en geen mag om aan die boeie van gedwonge onderdanigheid te ontkom nie, was die opwinding van ‘n godsdiens wat ‘n beter hiernamaals voorgehou het vir baie burgers die enigste ligpunt van hoop in hul armsalige bestaan.  Vir slaaf, soldaat en armlastige was godsdiens ‘n welkome geestesontvlugting.  Vir priesters was dit ‘n patetiese komedie van aangedikte heiligheid!