DIE LAASTE POUS (5)

Andrè van den Berg

Lees reeks by Die Laaste Pous

DIE POUS

" Johannes skryf in Openb.13:18 dat die Antichris die simboliese getal 666 het; ‘n getal wat mense al eeue lank aan die raai het... In Babilon het elke letter ‘n sekere getalswaarde gehad.  S was 60, T= 400, U= 6 en R= 200.  Gevolglik is die volle getal van STUR 666.  Wie is Nimrod se hoëpriester en verteenwoordiger op aarde?   Die pous!  Gevolglik is die laaste pous die Antichris."

5.1     Aanstootlike benamings

Die woord pous kom van die Latynse papa wat vader beteken.  Roomse priesters word lynreg in stryd met Christus se bevel ampshalwe vader genoem: “En julle moet niemand op die aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, Hy wat in die hemele is” (Mt.23:9).

As magshebber word die pous ook pontifikaat genoem wat brugbouer beteken.  Dis ‘n heidentitel waarmee Romeinse keisers, wat ampshalwe ook die hoëpriesters van afgodery was, as  brugbouers tussen die aardse en hiernamaalse lewe beskou is.  So ‘n keiser het as die Pontifex Maximus bekend gestaan. Siricius (384-399) was egter die eerste biskop van Rome wat homself pous genoem het.

5.2      Magsbehep

Die vroeë Christelike kerk het geen hierargiese gesagstrukture geken nie.  Gelowiges is as dienaars geag en nie as heersers nie.  Almal was broers en derhalwe gelyk.  ‘n Leraar is as die eerste onder die gelykes beskou en niks meer nie.  Namate die Satan die lig van die Evangelie begin verdof het, is ‘n vreemde leer die kerk ingedra met ampsdraers wat, soos in oud-Babilon, met geheimsinnige mag oor ander geheers het.

Gelowiges het van die begin af Christus as die Hoof van die kerk bely.  Die Bybel het hulle so geleer. “En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul ” (Efes.1:22,23).  “En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees” (Kol.1:18).  “Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik” (Kol.2:9).

In stryd met die Skrif leer die Roomse Kerk dat die pous die leraar van God, hoof van alle kerke, vader en leermeester van alle Christene en heerser oor die wêreld is.  Die pous neem wederregtelik die plek van Christus in.  Behalwe dat hy as heilige vader of sy heiligheid aangespreek word, verwag hy onverbiddelike onderworpenheid aan hom.   Kardinale het eeue lank voor pouse neergeval en hul voete gesoen!

Die Bybel leer dat die pous nie God se leraar op aarde is nie, maar wel die Heilige Gees: “maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het”(Joh.14:26).   Deur homself as heerser van die wêreld te sien, trap die pous in dieselfde strik wat Satan vir Christus probeer stel het (Mt.4:8-10).  Hy behoort eerder Christus se voorbeeld na te volg en vir die verleier te sê: “Gaan weg, Satan!”

Die optrede van Roomse pouse verskil hemelsbreed van diè van Petrus wat homself ‘n mede-ouderling noem: “Hou as herders toesig oor die kudde van God… nie uit dwang nie, maar gewilliglik; nie om vuil gewin nie…ook nie as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde” ( 1 Petr.5:2,3).

“Maar Jesus het hulle na Hom geroep en gesê: Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen; maar sò moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie” (Mt.20:25-28).

5.3     Fasisties

Pouse het deur die eeue al hoe meer van die leer van die Nuwe Testament afgewyk en mense mislei deur hulle te laat glo dat die Roomse Kerk die enigste weg na die hemel is.  Daar was selfs ‘n era wat as die Donker Eeue in die geskiedenis bekend staan; sprekend van die sataniese duisternis wat die lig van die Evangelie verdof het.

Die Roomse Kerk het die ou Babiloniese resep van beheer deur godsdiens toegepas en volle beheer oor die lekedom verkry.  Koninklikes soos koningin Elizabeth 1 en keiser Hendrik IV van Duitsland is selfs uit die kerk geban toe hulle die kerk teengestaan het. Gevolglik het die juk van Rome swaar op onderhoriges gedruk.

Die Roomse Kerk het ‘n bedenklike geskiedenis waarop sy allermins trots kan wees.  Haar samewerking in die verlede met rewolusionêre magte in Europa behoort haar te beskaam.  Sy is wesentlik fasisties - ‘n diktatoriale politieke bestel waarin die staat alles beheer en onverbiddelike gehoorsaamheid aan hoër gesag op burgers afdwing.

5.4     Onfeilbaarheid

Die Roomse Kerk leer sedert 1870 die onfeilbaarheid van die pous.  Wanneer ‘n pous vanuit sy ampsstoel (ex cathedra) as leraar van alle Christene spreek, maak hy kwansuis geen foute nie.  Sulke uitsprake word as komende van God beskou waardeur Hy die kerk gereeld oor sake van geloof en sedelikheid inlig ten einde dit te verryk.  Ex cathedra-uitsprake geniet in Roomse geledere dieselfde gesag as die Woord van God en is op die hele kerk van toepassing

Die pous word as sulks nie as sondeloos geag nie.  Met sy ex cathedra uitsprake werk hy slegs in sy hoedanigheid as geestelike wêreldleier sekere leerstellings wat in die boesem van die kerk is van naderby uit.  Alhoewel pouse, teoreties gesproke, nie nuwe leerstellings kan verkondig nie, doen hulle dit wel!

Daar was, interressant genoeg, geen ex cathedra uitsprake voor die 11de eeu nie.  Selfs in die 14de eeu wat deur lewendige debatte oor die aard van pouslike uitsprake gekenmerk is, het pouslike onfeilbaarheid nooit ter sprake gekom nie.  Selfs na 1870 was pouse maar redelik onwillig om hierdie gawe te gebruik.  Hulle het eerder biskoppe en teoloë genader om die nodige studie te doen waarna hulle ‘n finale besluit geneem het.  Desondanks glo Rome dat alle ex cathedra uitsprake foutloos is.

Waarom ken julle nie my stem nie? Omdat julle na my Woord nie kan luister nie.  Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen.  Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie.  Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan” (Joh.8:43,44).

Die leer van die onfeilbaarheid van die pous gee miljoene mense valse gerustheid.  Hulle weet nie veel van die Bybel nie want die onus vir hulle saligheid berus op die kerk met haar onfeilbare pous.  Daarby voer pouse ook geen Skriftuurlike grond vir hul doen en late aan nie.  Dis, om die minste te sê, niks anders as valse gewetensverligting nie.

Die leer van die onfeilbaarheid van die pous stuit gelowiges teen die bors.  Sondaars het nie ‘n onfeilbare ampsdraer nodig om hulle in die hemel in te lei nie.  Daarvoor het  hulle die Bybel en die Heilige Gees om hulle in die waarheid te lei.  “Want almal wat deur die Gees van God gelei word, diè is kinders van God” (Rom.8:14).

5.5     ‘n Groot verskil

Die verskil tussen Christus en Roomse pouse is net te skerp dat hulle ooit Christus se verteenwoordiger op aarde kan wees.   Christus het nooit ‘n ampskroon gedra en is nooit in ‘n stoel vervoer nie.   Hy het nooit duur klere gedra of deur mense met buigings van die knie begroet nie.   Christus het eenvoudige klere gedra en is gewoonlik deur mense gespot, gehoon en verag.   Waar Christus wat beswaarlik ‘n lêplek vir sy kop kon vind, leef pouse deur die eeue baie luuks.   Die grootste verskil is egter die feit dat waar baie pouse onskuldige bloed aan hulle hande het en duisende se lewens laat beeïndig het, Jesus sy bloed vir sondaars gestort het sodat hulle kan leef!

5.6     Petrus, die eerste pous?

Die Roomse Kerk leer dat die apostel Petrus in 42 nC as eerste biskop na Rome gekom het en dat hierdie amp na sy dood aan ‘n opvolger oorgedra is.  Dis hoogstens spekulasie en kan nie met sekerheid bevestig word nie.  Daarvoor is die geskiedenis te onvolledig.  Daarbenewens rep die Bybel ook geen woord oor Petrus in Rome nie.

Die pousdom het in werklikheid eers in die vyfde eeu in Rome ontstaan en het derhalwe geen raakpunte met die Nuwe Testamentiese kerk nie.   Christus het beslis nie so ‘n amp vir sy Kerk bestem nie.  Dis eerder die werk van die Satan wat die Roomse Kerk van geestelike krag ontneem het deur haar wêreldse mag te gee (Mt.4:8,9).

Benewens die twee briewe wat Petrus geskryf het, is daar ook 13 briewe van Paulus in die Nuwe Testament opgeneem.   Nie een van hulle verwys na Petrus as die biskop van Rome nie.  In sy brief aan die Romeine maak Paulus nie eens van Petrus melding nie.  Indien Petrus so ‘n belangrike amp beklee het soos wat die Roomse Kerk voorgee, sou Paulus baie beslis melding daarvan gemaak het.  Hy was immers self in Rome.

Die Roomse Kerk voer selfs argeologiese getuienis aan dat Petrus wel in Rome was en daar oorlede is.  Hierdie argument word gegrond op ‘n graf wat jare gelede tydens opgrawings onder die hoofaltaar in die Petruskerk gevind is en deur pous Paulus VI as diè van Petrus geeïen is.

Petrus was na alle waarskynlikheid nooit in Rome nie.  Die pousdom het sy huidige beslag eers in 590nC onder Gregorius die Grote gekry.  Wie dus ‘n ononderbroke lyn vanaf Petrus tot op hede wil trek, skiet lelik spek!  Christus het Petrus nooit as ‘n aardse hoof geoormerk nie.  Die kerk van Christus het geen aardse hoof nie omdat Christus die Hoof daarvan is.

5.7     Die heidendom herleef

Die Roomse Kerk is so van die heidendom deurtrek, dat daar beswaarlik iets Christeliks in te vinde is.   Pouse word soos die keisers van ouds as u heiligheid aangespreek en is in die verlede soos keisers van plek tot plek in ‘n drastoel gedra.

Rome se magstelsel is suiwer heidens.  Die Kollege van Kardinale met die pous aan die hoof is niks anders as ‘n nabootsing van die ou Romeinse Kollege van Hoëpriesters met sy Pontifex Maximus (heerserpriester) aan die hoof nie.  Die eertydse biskoppe van Rome was eersugtig en op meer erkenning aangedring bloot omdat hulle die hoofstad verteenwoordig het.

Toe die Romeinse Ryk die Christendom tot staatsgodsdiens verklaar het, is afgodery nie summier verban nie.  Die geskiedskrywer Hieronimus meld dat daar in Rome alleen 424 plekke van heidenaanbidding was en dat die reuk van afgodsoffers gelowiges aanstoot gegee het.

Afgodery het egter geleidelik in onbruik verval totdat dit bykans verdwyn het.  Dit het eers later met die lewe en optrede van die biskop van Rome nuwe lewe verkry en daarna van krag tot krag gegaan.  Hierdie biskop het die gesag van die eertydse Pontifex Maximus uitgeoefen en is deur ‘n Raad van Biskoppe bygestaan.  Hulle moes egter onverbiddelike trou aan hom sweer waarna hulle hom met die aanstelling van ampsdraers in sy ryksgebied gehelp het.

Die biskop van Rome het spoedig soveel mag gehad, dat ‘n edik in 445 uitgevaardig is wat hom tot hoof van die ganse Christelike kerk verklaar het.  Ondergeskiktes moes elke opdrag van hom onvoorwaardelik uitvoer.  Rome het verteenwoordigers oor die hele Europa en ander wêrelddele uitgestuur en ondergeskiktes by wyse van kerklike despotisme onderdruk.   Teen 600nC was daar 10 koninkryke in Europa wat die pous as God se verteenwoordiger op aarde erken het.  Sommige het hom selfs as die middelpunt van eenheid verafgod.

5.8     Die Raad van Kardinale

Rome se Raad van Kardinale is ook Babilonies van oorsprong.   Die woord kardinaal kom van die Latyn cardo wat skarnier beteken.  Die afgod Janus is in Babilon as die god van deure en skarniere vereer wat die poorte van ewige geluksaligheid vir mense oop of toe kon maak.  Wanneer die pous verkondig dat daar geen saligheid buite Rome is nie, tree hy in werklikheid as ‘n hoëpriester van Janus op deur die poort vir mense toe te sluit.

Die biskop van Rome is van oudsher af as die hoogste gesag in die Roomse Kerk beskou en aanvaar. Toe die sleutel van Janus (ampsverantwoordelikheid) vir hom te swaar geword het, is hy van helpers voorsien wat hom met die gesag van die skarnier bygestaan het.  Hulle is kardinale (priesters van die skarnier) genoem.

Oral waar die ou Babiloniese afgodery byval vind, is ‘n hoëpriester aan die stuur van sake.  In Babel was die koning ampshalwe die hoëpriester.  Die geskiedskrywers Strabo en Herodotus skryf dat die Babiloniese konings ampspantoffels gedra het wat as teken van onderdanigheid deur onderdane en ondergeskiktes gesoen is.   Hierdie gebruik het ook in die Roomse Kerk te lande gekom. Wanneer ‘n nuwe pous in die verlede aangewys is, het die kardinale hul onvoorwaardelike trou aan hom bewys deur voor hom neer te val en sy voete te soen.

5.9     Hoed en staf

Die pous se kenmerkende tweepunthoed wat hy tydens ampsgeleenthede dra, is ook Babilonies van oorsprong.  Afbeeldings van die Babiloniese afgod Dagon toon hom met ‘n soortgelyke hooftooisel.   In hierdie opsig verskil die pous se hooftooisel skerp van die tulbande wat Aäron en die ander Joodse priesters gedra het.  Syne is heidens.

Die pouslike krosier (staf) is ook Babilonies van oorsprong.  Wanneer Babiloniese waarsêers die toekoms voorspel het, het hulle ‘n lituus gebruik; ‘n staf wat soos ‘n hoofletter J gelyk het en waarmee die magte van die duisternis om onthullings genader is.  Dis waar die mitologiese toorstaf vandaan kom.  Nimrod se opvolgers het almal litusse gehad.

5.10 Die getal van die Antichis

Johannes skryf in Openb.13:18 dat die Antichris die simboliese getal 666 het; ‘n getal wat mense al eeue lank aan die raai het.  Die verklaring hiervan is nie moeilik indien dit teen die agtergrond van Babiloniese afgodery gesoek word nie.  Wie die naam van die misleidingsisteem ken, sal die hoof daarvan herken.  Die naam hiervan is verborgenheid en enigste sleutel waarmee die getal ontrafel  kan word.

Ingelyfdes in die Babiloniese verborgenhede het Nimrod onder die naam STUR vereer. In Babilon het elke letter ‘n sekere getalswaarde gehad.  S was 60, T= 400, U= 6 en R= 200.  Gevolglik is die volle getal van STUR 666.  Wie is Nimrod se hoëpriester en verteenwoordiger op aarde?   Die pous!  Gevolglik is die laaste pous die Antichris.

Calvyn was in die kol toe hy die pous die Antichris genoem het.    In sy Institusie lewer hy kommentaar op Dan.7:25: “En hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel; en hy sal probeer om tye en wet te verander, en hulle sal in sy hand oorgegee word….” Calvyn gaan verder en sê: “Sommige mense reken dat ons te reguit praat en te krities is waar ons die Roomse Katolieke pous die Antichris noem.  Maar diegene wat hierdie beskuldiging teen ons inbring, besef nie dat die apostel Paulus self van dieselfde aanmatigings beskuldig is nie.  Want ons gebruik slegs sy taal en sê net wat hy lankal reeds verklaar het.  Hierdie profesie kan op niemand anders betrekking hê nie”.

Gesien in die lig dat die Roomse Kerk die Babiloniese afgodery voortsit, is elke pous ‘n prototipe van die Antichris.  Wie die pous vereer, vereer in werklikheid die Satan.  Luister wat sê Paulus van die Antichris: “hy wie se koms is volgens die werking van die Satan…” (2 Thess.2:9).   Gevolglik is die Satan die hoof van hierdie magtige, misleidende sisteem van toegeweide boosheid wat vandag Roomse Katolisisme genoem word.

Die kroning van die Antichris sal na alle waarskynlikheid soos die aanwysing van ‘n pous geskied.  Die wêreldmedia sal, soos in die verlede, die een wat heilig lyk, vereer.  Jesus waarsku ons eindtydse gelowiges baie duidelik: “Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei.  Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê” (Mt.24:24,25).