DIE LAASTE POUS (7)

Andrè van den Berg

Lees reeks by Die Laaste Pous

DIE MISOFFER

"Wanneer Christus gelowiges versoek om die nagmaal gereeld te vier, is dit nie by wyse van ‘n offer nie, maar ‘n gedagtenismaaltyd...  Tydens die misoffer van die Roomse  Kerk is gemeentelede slegs toeskouers van ‘n godsdienstige drama... Die misoffer is ‘n belaglike ritueel en spot in der waarheid met dit wat heilig is...  Dit kan nooit ‘n offer wees nie omdat Christus se bloed ontbreek...  Die liturgie is so rigied... Dit kom basies op ‘n herhaaldelike simboliese kruisiging van Christus neer.  Geen wonder dat Calvyn dit verdomde afgodery genoem het... en Voltaire dit die opera van die armes genoem het nie!"

7.1     ‘n Onvanpaste drama

Die Roomse misoffer is nie bloot ‘n alternatiewe nagmaalsgebruik nie.  Dis geen nagmaal nie!   Nagmaal is ‘n gedagtenismaaltyd (Luk.22:19) waartydens gelowiges hulle die lyde en sterwe van Christus voor die gees roep.   Die Roomse Kerk beskou dit uitsluitlik as ‘n offer soos wat die priesters van weleer gebring het.  Vir Rome staan die offergedagte so sentraal, dat selfs die prediking daaraan ondergeskik is.  Ook dit is heidens.

Die ou Babiloniese priesters se hooffunksie was om tot eer van Semiramis te offer.  ‘n Hoëpriester het hulle daartoe georden.  Alle ander funksies was daaraan ondergeskik.  Dieselfde gebeur in die Roomse Kerk.  Priesters word georden om tot eer van Maria te offer.  Tydens die ordening sê die biskop:  “Ontvang die gesag om vir die lewendes en die dooies te offer”.

Die vroeë Christelike kerk het nie die misoffer geken nie.  Dis eers in 394nC in Rome ingestel - ‘n diaboliese voorstelling van wat veronderstel is om heilig te wees.   Met die misoffer pluk Rome as’t ware vir Christus uit die hemel om Hom weer te offer en beroem haar daarop dat sy die liggaam van Christus meer as 200,000 keer per dag wêreldwyd offer.

Gelowiges durf vir geen oomblik ‘n goeie woord vir die lasterlikheid van die misoffer hê nie.  Geen gelowige behoort dit selfs te aanskou nie.   Dis ambivalent – ‘n mens wil lag en huil. Lag omdat dit bespotlik is en huil omdat dit Christus moet walg!

Die Roomse Kerk glo dat Christus die misoffer as ‘n sigbare offer aan die kerk nagelaat het om voort te sit totdat Hy weer kom.  Dis dieselfde offer as wat Christus aan die kruis gebring het en mag slegs deur ‘n geordende ampsdraer behartig word omdat hy alleen die mag (toorkrag?) het om die tekens van brood en wyn in die liggaam en bloed van Christus te verander.  Oud Rome het ook in absurde vormverwisselings geglo!

Tydens die misoffer is gemeentelede slegs toeskouers van ‘n godsdienstige drama.  Hulle het geen aktiewe rol daarin nie.    Terwyl priesters vir die sondes van lewendes en dooies offer, is die aanwesiges passief.   Hulle sing of bid nie.  Die liturgie is so rigied, dat dit meganies uitgevoer kan word sonder eers om daaroor na te dink.   Dit kom basies op ‘n herhaaldelike simboliese kruisiging van Christus neer.  Geen wonder dat Calvyn dit verdomde afgodery genoem het nie!

7.2     Geen werklike offer nie

Wanneer Christus gelowiges versoek om die nagmaal gereeld te vier, is dit nie by wyse van ‘n offer nie, maar ‘n gedagtenismaaltyd.  Die Levitiese wet het die eet van sondoffers streng verbied.  Wanneer Christus aan sy dissipels sê: “Neem, eet, dit is my liggaam” en “dit is my bloed” (Mt.26:26,27), moet dit nie letterlik opgeneem word nie.  Hy het trouens op daardie tydstip saam met hulle aan tafel gesit en beide tekens vòòr sy kruisiging saam met hulle genuttig.  Daar was hoegnaamd van geen offer te sprake nie.

Die misoffer is ‘n belaglike ritueel en spot in der waarheid met dit wat heilig is.   Dit kan nooit ‘n offer wees nie omdat Christus se bloed ontbreek.  Bloedlose offers deug nie. “En byna alles word met bloed gereinig…..en sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie” (Hebr.9:22).  Daarbenewens is daar geen aanduiding in die Nuwe Testament van ‘n voortsetting van enige Ou Testamentiese offer nie.

Die misoffer is so absurd, dat ‘n mens nie kan glo dat miljoene nugterdenkendes dit sondermeer aanvaar nie.  Geen wonder dat Voltaire dit die opera van die armes genoem het nie!  Tydens hierdie drama voer die priester meer as 200 rituele bewegings uit; ‘n patetiese plaasvervanger vir die eenvoud van die Evangelie.  Die Evangelie beskryf slegs vier eenvoudige handelinge met die brood en twee met die wyn; nie 200 nie!  Al wat Christus verlang, is dat gelowiges sy lyding en sterwe gereeld in herinnering sal roep.

Wat sit werklik agter die misoffer?  Kan dit die geld wees wat dit vir die kerk inbring?   Alles in die Roomse Kerk is van prysetikette voorsien.   Misoffers kan vir ‘n magdom van spesiale geleenthede soos bv. ‘n huwelik, doop, lidmaatvoorstelling, begrafnis, verligting vir siele in die vagevuur en nog vele meer aangevra word.  En alles kos geld.   Spesiale misoffers bring die meeste geld in.  Mense met baie geld kan deur ‘n spesiale misoffer ‘n ontslapene se pyn in vagevuur verlig.  Diè van armes moet maar weens ‘n gebrek aan voldoende fondse hulle volle straftydperk uitdien!

7.3     Heidense invloed

Die offergesag wat die Roomse priesterorde ontvang, stem presies met diè van die eertydse Babiloniese priesters ooreen.  Toe Semiramis teen 400nC onder die naam Maria in die Roomse Kerk begin vereer is, het die kerk dieselfde onbloedige broodjie-offer begin gebruik as wat vir Semiramis gebruik is.  Die geskiedskrywer Epiphanius beskryf dit as ‘n klein, ronde wafeltjie wat tydens ‘n verborge seremonie geëet is.

Die Egiptenaars was sonaanbidders en het ook ‘n ronde broodjie as onbloedige offer gebruik.  Die ronde broodjie het die songod voorgestel.   Indien die Roomse Kerk werklik ‘n kerk van Christus was, sou sy Christus se voorbeeld gevolg het wat die brood letterlik geneem en in stukke voor die oë van sy dissipels gebreek het.   Rome laat die klem eerder op die vorm van die broodjie val omdat dit aan dieselfde godin geoffer word.