DIE LAASTE POUS (8)

Andrè van den Berg

Lees reeks by Die Laaste Pous

BOETEDOENING EN GOEIE WERKE

" ‘n Kerk wat boetedoening as voorwaarde vir vergifnis vereis, rand die Godheid van Christus aan.  Nêrens in die Skrif eis God boetedoening nie; slegs bekering."

8.1     ‘n Vreemde verlossing

In sy brief aan die Galasiërs is die apostel Paulus besorg oor ‘n dwaalleer wat in die kerk begin kop uitsteek het.  Dwaalleraars het ‘n vreemde verlossingsleer begin verkondig naamlik dat sondaars op grond van hul goeie werke gered kan word.  Dit het die Evangelie geskaad. “Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees!” (Gal.1:8).  Die Roomse Kerk sou jare later dieselfde dwaalleer verkondig.

Met die leer van verlossing deur goeie werke, bied die Roomse Kerk redding as’t ware te koop aan; ongelukkig nie volgens Jes.55:1 se voorskrifte van sonder geld en sonder prys nie!  In die Roomse Kerk draai alles om geld.  Redding is selfs op ‘n soort van afbetaalbasis beskikbaar waarna Rome sorg dat sondaars altyd agterstallig bly sodat daar by hulle sterwe ‘n aansienlike skuldlas oorbly waarvoor hulle in die vagevuur moet brand tensy iemand hulle deur geld aan die kerk te gee, kan loskoop!

Rome leer dat sekere mense deur oordrewe pligsbetragting selfs ‘n oorskot aan krediete in die hemel kan opbou; meer as wat hul vir hul eie saligheid nodig sal hê. Hierdie oorskotte word vir berouvolle sondaars in ‘n geestelike plek (bank) gebêre om van gebruik te maak - teen ‘n prys en vir die kerk!

Rome se sisteem van geld en verdienste vanaf die wieg tot die graf en selfs daarna, behoort haar te beskaam.  Wie hierdie plan vir redding opgestel het, het dit baie beslis nie van God ontvang nie, maar van die Satan.  Rome hou haar mense as’t ware met die ketting van saligheid deur goeie werke in gevangenisskap.  “….Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die Boek van die Wet om dit te doen nie” (Gal.3:10).

Gelukkig praat die Bybel baie anders oor redding - dis ‘n saak van genade en genade alleen (Efes.1:7-10).  Daarom het Protestantisme die Nuwe Testamentiese leer her-ingestel wat getuig dat redding deur geloof en nie deur goeie werke verkry word nie. “…Menere, wat moet ek doen om gered te word?  Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin” (Hand.16:30.31).

8.2     Boetedoening

Die kernfout van Rome se verlossingsleer (soteriologie) is haar ontkenning van Christus se genoegsaamheid aan die kruis.  Rome ag Hom nie as Redder nie.  Dit wat Hy op Golgota gedoen het, is nie genoegsaam nie, maar moet met bykomstighede soos die misoffer en allerlei goeie werke wat uit boetedoening voortspruit aangevul word.

‘n Kerk wat boetedoening as voorwaarde vir vergifnis vereis, rand die Godheid van Christus aan.  Nêrens in die Skrif eis God boetedoening nie; slegs bekering.  En dis ‘n doelbewuste daad van sondeversaking: “Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees…..want Hy vergeef menigvuldiglik” (Jes.55:7).

Boetedoening verskil ingrypend van bekering.  Boetedoening is selfkastyding terwyl bekering ‘n berouvolle toevlug tot Christus is.  Christus het nêrens gesê dat sondaars eers vir hul sondes moet boet alvorens hulle gered kan word nie.  “Kom na My toe almal wat vermoeid en belas is en Ek sal julle rus gee “ (Mt.11:28).  Omdat Hy alreeds die straf vir sonde gedra het, durf sondaars nie nog daarvoor te ly nie.  “En skeur julle hart en nie julle klere nie, en bekeer julle tot die Here julle God; want Hy is genadig…” (Joël 2:13).

Rome glo dat boetedoening heilsaam vir die gees is en sondaars die geleentheid bied om ‘n lewensommekeer te maak.  Weereens verskil sy niks van die ander afgodsdienste nie.  Boeddisme en Hindoeisme leer ook dat vergifnis deur selfkastyding geskied.  Gevolglik is Rome se boetedoening niks anders as valse bekering nie.  In plaas daarvan om Christus toe te laat om hul stukkende harte te genees, kasty sondaars hul liggame.  Boetedoening is sinneloos.  Dis ‘n uiterlike handeling sonder die nodige innerlike verandering.

Met die leer van boetedoening ontmasker Rome haar bedenklike hantering van sonde.  Sy vereis geen opregte bekering nie.  Daarvoor skenk die priester die nodige vergifnis, veral as die sondaar op goeie voet met hom verkeer.   Die sondaar word ‘n paar dinge as boetedoening ten laste gelê soos om ‘n aantal gebede tot Maria te bid – die sg. Hail Mary’s.  Niks verhoed hom om sy goddelose lewe daarna voort te sit nie.

8.3     In die mag van die priester

Alhoewel Rome aan priesters die gesag verleen om sonde te vergewe, leer sy dat daar altyd ‘n mate van straf oorbly wat slegs deur boetedoening ongedaan gemaak kan word.  Christus vergewe, maar wis nie alle straf uit nie.  Hier speel priesters ‘n belangrike rol.  Hulle bepaal die omvang van die verskuldigde boetedoening en maak sondaars vir God aanvaarbaar.

Deur die regte boetedoening voor te skryf, verhoed priesters dat ontslapenes te lank in die vagevuur deurbring.  Hulle het die volmag om ontslapenes etlike dae, maande of jare se straf in die vagevuur kwyt te skeld.  Gevolglik tree priesters as regters op wanneer hulle kwytskelding of vermindering van straf aankondig.  ‘n Priester is geensins beperk in die voorwaardes wat hy vir boetedoening mag voorskryf nie.  Sondaars is aan sy genade uitgelewer.

8.4     Heidenelemente

Boetedoening deur goeie werke kenmerk afgodery.   Een van die Roomse tradisies lui dat God die weegskaal van oordeel aan die aartsengel Migail toevertrou het.  In die een skaalbak plaas hy die deugde en in die ander die sonde van die betrokke ontslapene.   Daarna word dit geweeg en die onslapene geregverdig of veroordeel.   Egipte het ‘n soortgelyke verhaal waar die afgod Anubis die skaal hanteer.  Die Ou Testament sluit selfs hierby aan as daar vir Belsásar gesê word dat hy in die weegskaal geplaas en te lig bevind is (Dan.5:27).

Die Roomse leer verskil ingrypend van die suiwere Bybelse leer oor die regverdiging deur genade (Rom.1:17).  Geestelike despotisme is nie verbruikersvriendelik nie.  Dit hou sondaars van Jesus, die genadige Verlosser, weg.  Rome bedrieg mense deur te leer dat goeie werke sondaars kan red.

Tydens die Konsilie van Trent het die Roomse Kerk ‘n besluit aanvaar wat lui: “Geen mens kan absoluut seker weet dat hy die genade van God ontvang het nie”. Dit skreeu teen die Bybelse waarheid dat mense wel seker kan wees (Joh.6:37).  Die Roomse Kerk laat derhalwe miljoene lewenslank in vertwyfeling en onsekerheid verkeer.

Rome leer dat wanneer sonde vergewe is, die straf nie heeltemal verdwyn nie.  Daar bly altyd iets agter waarna sondaars self iets moet doen ten einde God tevrede te stel nl. boetedoening, goeie werke en selfs selfkastyding.  Dis ‘n leuen!  Die Bybel verseker sondaars dat benewens die bekering hulle niks verder hoef te doen om God tevrede te probeer stel nie.  Jesus het alreeds alles gedoen.

Elke jaar stroom duisende Roomsgesindes op Goeie Vrydag na plekke soos die Fillipyne en elders om te sien hoe selfkastyders hul met Christus se lyding probeer vereenselwig deur hulself met karwatse stukkend te slaan en selfs te laat kruisig.  Dit herinner sterk aan die Babiloniese Mologdienste.  Molog (Baäl) sou miskien so ‘n skouspel geniet het omdat hy ‘n wrede afgod was wat pyniging, bloed en lyding geniet het.  Sy profete het hul selfs vermink ten einde sy guns te wen (1 Kon.18).   Christus se lyding en kruisdood het hoegenaamd geen menslike aanvullings nodig nie.