Andrè van den Berg
Lees reeks by Die Laaste Pous
DIE VAGEVUUR
"Die leer van die vagevuur is so absurd, dat ‘n mens nie kan glo dat geleerdes dit kan glo nie. Wat sit werklik agter hierdie leer? Geld (aflaathandel). Die Roomse Kerk ontvang jaarliks astronomiese bedrae geld vir die sogenaamde verligting van siele uit ‘n vagevuur."
9.1 ‘n Kondisionele hel
Rome bou haar leer van die vagevuur op ‘n deel van 2 Makkabeërs, ‘n apokriewe boek wat na die afsluiting van die Ou Testament gekryf is. Die vier Bybeltekse (Mt.3:11; 1 Kor.3:15; Judas:22-23 en 1 Petr.3:18-20) wat sy as Bybelse verdediging vir haar leer aanhaal, het niks met ‘n vagevuur te doene nie. Marcion sowel as die Herder van Hermas (2de eeu) was van die eerste ketters wat hierdie dwaalleer verkondig het.
Rome leer dat alleenlik diegene wat ‘n sekere graad van geestelike volmaaktheid bereik het, onmiddellik na hul dood hemel toe gaan. Mense wat nie in die Roomse Kerk gedoop is nie asook diegene wat na hul doop doodsondes gepleeg het, gaan onmiddellik hel toe.
Diegene wat sterf, maar nie die verlangde graad van heiligheid op aarde bereik het nie, ondergaan eers ‘n vagevuur as ‘n nadoodse reinigingstraf alvorens hulle hemel toe gaan. Feitlik niemand ontsnap aan die vagevuur nie sodat Roomsgesindes met ‘n gedurige vrees vir die dood leef omdat hulle nie weet hoe lank hulle in so ‘n kondisionele hel sal moet deurbring nie.
Rome leer dat alhoewel God sondes vergeef, sy geregtigheid vereis dat oortreders ‘n nadoodse staat van pyn en lyding moet verduur. Deur aan die kerk geld te gee, word die pyn van ‘n kermende siel verlig en sy tyd van aanhouding verkort. Die tydsduur van straf wat hom opgelê word, word deur sy aardse lewensweg bepaal. Die enigste verskil tussen die hel en die vagevuur is dat die vagevuur wel ‘n einde het.
Die leer van die vagevuur en gebede vir dooies is heidens. Die Romeine en Egiptenaars het ook aan ‘n vagevuur geglo en vir hul dooies gebid. In die Roomse Kerk tref gebede sonder die bemiddeling van priesters glo selde die kol. Sy dienste is egter selde gratis. Net soos die heidenpriesters van weleer word Roomse priesters mildelik vir hul gebede vir dooies vergoed – skaamtelose afpersing!
Die leer van die vagevuur is on-Bybels. Die Bybel leer baie duidelik dat verlorenes na hul dood nie rein word nie. Wie sonder Christus sterf, is vir ewig verlore. God keer die oordeel nooit om nie (Luk.16:19-31). Wanneer die Roomse Kerk die vagevuur verkondig, doen sy presies dieselfde met die mensdom as wat die Satan met Eva gedoen het. “Is dit so dat God gesê het…?”(Gen.3:2). Daarna het hy die waarheid as ‘n leuen afgemaak en die leuen as die waarheid aangebied.
Die Roomse Kerk maak mense geestelik onverskillig en lieg deur te sê dat sondaars ‘n tweede kans op verlossing na die dood het. Sulke bedrog baar die ewige dood! Dis nie die vagevuur wat sondes wegbrand nie, maar Jesus wat sondes met sy Bloed afwas. Dis twee uiteenlopende boodskappe!
Pous Johannes Paulus II het meer as enige pous gedoen om afgodery en die raadpleging van geeste in die Roomse Kerk te bevorder. In sy boek Crossing the Threshold of Hope sê hy dat die vagevuur in die teken van God se liefde staan omdat dit die mens ‘n kans op verlossing na die dood bied. Dis ‘n leuen en die pous ‘n vervloeking! “Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees!” (Gal.1:8).
9.2 Skaamtelose geldmakery
Die leer van die vagevuur is so absurd, dat ‘n mens nie kan glo dat geleerdes dit kan glo nie. Wat sit werklik agter hierdie leer? Geld (aflaathandel). Die Roomse Kerk ontvang jaarliks astronomiese bedrae geld vir die verligting van siele uit ‘n vagevuur. Wie redding op so ‘n bedrieglike wyse verkoop, verdien om soos Sodom en Gomorra met vuur en swael van die aardbodem af uitgedelg te word!
Die Roomse Kerk is opvallend min by die leed van haar mense betrokke. In arm lande word luisterryke katedrale dikwels deur krotbuurte omring. Tydens die Uhurustryd in die eertydse Belgiese Kongo is daar by geleentheid meer as 400 goudstawe onder die vloer van ‘n katedraal gevind, en dit terwyl die plaaslike inwoners beswaarlik kos gehad het om van te leef!
9.3 Onduidelikheid
Die leer van die vagevuur laat ook vrae in die gemoed ontstaan. Hoe weet ‘n priester bv. wanneer ‘n siel uit die vagevuur vrykom? So ‘n ontslag word altyd deur ‘n spesiale misoffer gevier wat baie geld kos. Hoe weet die betrokke priester presies wanneer die tyd verstreke is? Wie lig hom in? Indien hy nie presies weet nie, kan hy die afpersing straks te vroeg stop of andersyds te lank laat aangaan. Wanneer hou hy op om geld vir sy verfoeilike dienste te vra?
Daar is hoegenaamd geen manier waarop ‘n priester, kardinaal of selfs die pous kan weet wanneer ‘n siel uit die vagevuur verlos word nie. Dis egter vir die kerk finansieel voordelig indien die siel so lank as moontlik daar bly. Om egter geld onder sulke valse voorwendsels te bekom, skreeu ten hemel! Indien ‘n priester die mag het om siele uit ‘n vagevuur te verlos en dit weens ‘n gebrek aan die nodige betaling nie doen nie, is hy wreed en liefdeloos en hoort hy nie in diens van God nie!
Die leer van die vagevuur is ‘n drogvoorstelling van God se geregtigheid. Die Bybel leer anders: “En Jesus antwoord hom: voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Pradys wees” (Luk.23:43). “Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde” (1 Joh.1:7) “en aan hulle sondes en hulle ongeregtighede sal Ek nooit meer dink nie” (Hebr.10:17).