DIE LAASTE POUS (14)

Andrè van den Berg

Lees reeks by Die Laaste Pous

KRUIPERIGE ONDERDANIGHEID

" Op 2 April 2005 het Larry King aan Billy Graham gevra of hy glo dat pous Johannes Paulus II se siel by God is.  Graham het geantwoord dat hy daarvan meer seker was as van sy eie redding!  Hoe kan ‘n wêreldbekende Protestantse evangelis soos Billy Graham so skokkend min van die Roomse Kerk weet?"

14.1 Hoe durf Europa vergeet!

Die Roomse Kerk is soos ‘n duif met roofvoëlinstinkte.  Miljoene mense se bloed drup van haar hande af!  Haar verfoeilike geskiedenis, uitbuiting van kerk/staat verhoudings asook onmenslike wreedhede is alles haarfyn opgeteken en word in die Vatikaanstad in ‘n kluis bewaar.

Te oordeel aan haar kruiperige onderdanigheid aan die Roomse Kerk het Europa beslis nie uit haar geskiedenis geleer nie.  Het sy dan van die bloedige kruistogte asook bose optredes van Napoleon Bonaparte vergeet?   Hoe durf sy gemene sake hê met ‘n kerk wat Adolf Hitler en ander booswigte ondersteun en befonds het?

14.2  Anglikane verkrummel

Brittanje sukkel skynbaar met haar geheue.  Van haar grootste nagmerries het juis onder Roomse bewind voorgekom.   Dit het selfs daartoe gelei dat koning Hendrik VIII met die Roomse Kerk gebreek en die Anglikaanse Kerk tot stand gekom het.  Daarna het talle Britse konings en adelikes groot opofferings gemaak om die Roomse gevaar teen te staan.  Vandag lek die Britte soos tjankende honde die hande van hul eertydse kastyders!

In 1966 is die Anglikaans-Roomse Katolieke Internasionale Kommissie (ARKIK) in Rome gestig met die doel om ekumeniese geesdrif tussen die twee kerke te kweek.  Dis egter baie eensydig.  ARKIK probeer Protestantse kerke eerder oortuig dat die pous ‘n gawe van God is.  Daar is selfs ‘n dokument Die Gawe van Gesag uitgereik waarin Protestante wysgemaak word dat die pous oor ‘n goddelike onderskeidingsvermoë beskik en meer as enige ander mens weet wat reg en verkeerd is.   Dit kom op ‘n onderskrywing van die onfeilbaarheid van die pous neer!

Hierdie dokument is in die Westminister Abdy (London) vrygestel en bepleit ‘n onderwerping aan pouslike gesag.  Anglikane word wêreldwyd aangemoedig om dit te aanvaar.  “Christene het dit ernstig nodig ten einde uit een mond te kan praat” het die aartsbiskop tydens die uitreiking daarvan opgemerk.

Anglikane word selfs aangemoedig om vir die pous te bid en in Walsingham neem Anglikaanse biskoppe gereeld aan marse vir Maria deel.   In Mei 1999 het die Anglikaanse Kerk haar lidmate selfs versoek om die pous se wêreldrol te erken en op ‘n gepaste wyse te eerbiedig.   Erkenning is die voorportaal van aanvaarding.  Net so min as wat Jode ‘n goeie woord vir Adolf Hitler behoort te hê, behoort Protestante ‘n goeie woord vir enige pous te hê!

Die Anglikaanse Kerk is in werklikheid geen suiwer Protestantse kerk nie, maar ‘n vermenging van Protestantisme met Roomse Katolisisme.   Die Anglikaanse Kerk is tans onder groot druk en probeer hard om die krake wat met verloop van tyd in haar voorhowe  ontstaan het toe te smeer.  Hierdie krake is o.a aan vrysinniges se aandrang op die vrou in die kerkamp en homoseksueles op die kansel te wyte.

Vrysinnige skakings van die Anglikaanse Kerk het baie van haar lidmate na konserwatiewe kerke soos die Roomse Kerk laat oorloop.  Die Vatikaan se duidelike standpunt teen die vrou in die kerkamp, homoseksualisme, aborsie asook Sabbatsontheiliging, gee aan die Roomse Kerk ‘n aanloklike konserwatiewe karakter.   In 2007 alleen het meer as 400,000 Anglikane wêreldwyd by die Roomse Kerk aangesluit!

Die Anglikaanse Kerk versmaai haar kerklike erfenis berekend.  Was die Hervorming dan nie juis ‘n ernstige opstand teen die Roomse Kerk nie?   Hoe durf die Anglikaanse Kerk ‘n proses loods en in stand hou wat Protestante onder die pous se gesag verenig?  Is die Protestantse dogters besig om na hul wrede Roomse moeder terug te keer?

14.3 Geen saligheid binne Rome nie

Pous Johannes Paulus II het sy lewe lank gepoog om wederstrewige Protestantse dogterkerke na Rome te laat terugkeer.  Op 25 Mei 1995 het hy in ‘n toespraak Sodat hulle een kan wees geen doekies omgedraai en Protestantse kerke vermaan om dringend na Rome terug te keer omdat daar kwansuis geen saligheid buite die Roomse Kerk bestaan nie.

In werklikheid is daar geen saligheid binne Rome te vinde nie!  Kan ‘n persoon wat tot dooies bid ooit gered word?   Die Wet van Moses verbied dit dan ten sterkste!   Hoe kan iemand wat Maria in plaas van Christus aanbid enigsins gered wees?  ‘n Persoon wat Maria as verlosser aanvaar, val beslis die hemel mis!

Hoe kan iemand gered word indien hy aan ‘n kerk behoort wat leer dat mense nie in Christus hoef te glo om gered te word nie?  Hoe kan iemand gered word indien hy aan ‘n kerk behoort wat leer dat redding van innerlike goedheid sowel as die vlamme van die vagevuur afhang (Artikel 18 van die Tweede Vatikaanse Konsilie)?  Sulke dwaalleer stuur miljoene siele ver by die poorte van die hemel verby!

Dit gaan ‘n mens se verstand te bowe dat daar Protestante is wat desondanks alles nog steeds glo dat Roomse Katolieke gered kan word!   Op 2 April 2005 het Larry King aan Billy Graham gevra of hy glo dat pous Johannes Paulus II se siel by God is.  Graham het geantwoord dat hy daarvan meer seker was as van sy eie redding!  Hoe kan ‘n wêreldbekende Protestantse evangelis soos Billy Graham so skokkend min van die Roomse Kerk weet?

Roomse Katolisisme is ‘n godsdiens van vrees; vrees vir die priester, vrees vir die bieg, vrees vir die afwesigheid by die misoffer, vrees vir die omvang van boetedoening, vrees vir die dood, vrees vir die vagevuur en ‘n heilige vrees vir die wraak van God.  Gevolglik gaan Roomsgesindes hul doodsbed met niks anders as vrees tegemoet nie!

14.4   Geheime agente

Die Roomse Kerk maak van geheime Protestantse agente gebruik om haar openbare beeld te versag.  Kathrine Kuhlman was een van hulle; ‘n Charismatiese prediker en hipnotis wat oor bonatuurlike werkinge beskik het.   Sy het groot werk vir die Roomse Kerk verrig deur voor te gee dat Katolieke gered is.  Sy het bv. gedurig priesters en nonne op haar verhoog gehad en mense met haar glimlag en vurige betoog betower.

Tydens ‘n private gesprek met die destydse pous, het hy ‘n ongehoorde ding gedoen deur haar te seën.  Op daardie stadium het geen pous ooit iemand buite die Roomse geloof geseën nie.  Om dit te kon ontvang, moes sy uiteraard voor die pous buig en hom as die enigste verteenwoordiger van Christus op aarde erken!

Dis skokkend om te weet hoeveel van die sg. verdedigers van die geloof die pous nie al in die Vatikaan gaan spreek het nie. Hoe onthuts sou die stigters van hierdie kerke nie gewees het indien hulle dit moes aanskou nie!

Groot name soos Wycliff, Calvyn, Luther, Wesley, Finney, Moody en Spurgeon het almal geglo dat die Roomse Kerk die groot hoer is waarvan Openbaring 17 praat.   Hierdie hoofstuk beskryf nie ‘n oudwêreldse Babilon nie, maar die Vatikaan!  Ironies genoeg beteken die heuwel Vaticanus plek van Godsverheerliking in Latyn, terwyl die teenoorgestelde eerder waar is: “..… ‘n woonplek van duiwels en ‘n versamelplek van allerhande onreine geeste ….” (Openb.18:2).