SPOOKSTORIES: CJ LANGENHOVEN (6)

Reeks by Versamelde Werke van Langenhoven

DIE KIS

Dis nie 'n mooi geskiedenis hierdie nie en daaroor is ek jammer. Om misdade en gruweldade en welddade, en die sordide hartstogte wat daaruit vloei en weer dááruit vloei, te beskrywe, is natuutlik geensins die doel van hierdie versameling nie. Trouens ons het teenswoordig so 'n oorhoping daarvan dat hulle alledaags en vervelig begin te word het; en as daar darem nog lesers is wat in sulke verslae behae skep, kan hulle voldoende versadiging vir hulle sieklike sensasie-lus in die daelikse koerante kry. Maar waar sulke dinge die aanleiding is tot die buite-liggamelike ontmoetings wat dit die doel is om hier te boekstaaf, spreek dit vanself dat hulle vermeld moet word, anders bly ons met die indruk van verspotte, omsonse spokerye, sonder rym of rede vir niemendal, drif sonder dryfveer.

Maar dan is dit ook genoeg om te bly by kort saaklike vermelding van oorsake waarvan die besonderhede walgend of skokkend was. Daarvan is daar genoeg in hierdie saak van die kis. Ek bepaal my tot netsoveel van die droë feite as wat nodig is om die verband te kry van die verhaal, wat ek weer sal oorlaat aan die ou vriend met wie ons reeds kennis gemaak het, die ou met die telegramagtige beknoptheid van spraak, ou Koos Heyns, Veldkornet.

Reisigers met die spoorweg deur die Graaff-Reinet se distrik sal die (dusgenoemde) Droërivier onthou wat 'n mens met 'n lang rooi ysterbrug oorgaan en as dit 'n redelike jaar was, hoe hulle die pragtige gesaaides van die mooi-bewerkte oewerplase bewonder het. Maar hy sou 'n droë rivier gebly het, nie veel meer as 'n buitengewoon-wye sandlaagte deur kronkelende myle van doringplate, as daar nie voorsiening gemaak was vir die opgaar en verdeling van die vloedwater nie. Want die "laagte" kan tot 'n baie groot rivier afwissel, veral na groot plasreëns. Die bewaring en verdeling is deur die oewer-eienaars self jare gelede tot stand gebring, lank voor ons Besproeiings- en Waterbewarings-Wette, en sonder die masjinerie en deskundigheid wat deur daardie wette in die lewe geroep is. Daarom het die reusewerk op ‘n bestaanbare prys uitgekom.

Die gemeenskaplike stoordam is ontsaglik groot; waneer hy vol is (wat nog maar eenmaal in sy geskiedenis gebeur het, want selfs die Graaff-Reinetse donderstorms het 'n bo-kerf) stuit hy vier-vyf myl in die rivier op, en op sy wydste 'n anderhalf myl oor die vlakte. Om hierdie enorme inhoud te kry, was daar maar 'n kort walletjie nodig; daar was 'n handige noue kranspoortjie om toe te maak.

Van die boonste oewerbewoners onder die dam is daar die eienaars van die plaas Dorrevlakte (so genoem toe hy nog so was), onmiddellik onder die dam geleë. In die betrokke tyd het daardie plaas behoort aan twee eienaars met wie ons hier te doen het, David Dieperman en Ingnaas Dieperman, neefs, dit wil se broers-kinders. Hulle had hulle grond onderskeidelik weerskante van die rivier, woonstedes regoor mekaar.

Dis nie nodig om hier in besonderhede te gaan omtrent die stelsel van beurtreëlings van die dam se water nie, buiten om net te melde dat die dam onder daardie reëlings, termynsgewyse oop en toe gemaak word. Daar kom tye wanneer hy vyf weke moet toegehou word, en dan word die reusagtige pomp, wat 'n jong riviertjie deurlaat, veertien dae lank oopgedraai of solank as daar water is.

In die tyd waar die oorsprong van hierdie verhaal begin, was David Dieperman ongetroud maar ‘n dertig of naby die dertig jaar oud. Sy neef was tamelik bejaard en 'n wewenaar, kinderl oos. As huishoudster had hy 'n mevrou Wilman wat hy ergens ingesamel het, of sy vir hom. Hy was ‘n  papsafte, lig-beïnvloedbare man, byna wat 'n mens sou noem simpel, en 'n maklike prooi vir welbegrepe belanghebbendes, mannelik of vrouelik. Ek sal nie meer sê nie as dat die vrou hom tot trou toe beweeg het, met voorsorg vir 'n voldoende bemaking.  Maar toe sy hom had, was sy met hom onvoldaan, sy wou vir David hê, en langsamerhand het David hom gevange gegee, miskien sonder alte veel teësit.  Die gevolg was, eers praatjies en daarná 'n treurspel.

Omdat Ingnaas 'n stomp-eenvoudige ou man was, self sonder bedrog en dus sonder agterdog teen ander, het mense van ver af raakgesien wat hy vlak onder sy neus misgekyk het. Oor hierdie stuk van die geskiedenis vlieg ek haastig bolanges; maar eindelik moet daar iets gebeur het wat genoeg was om Ingnaas se toe-oë oop te maak. Die oggend daarna kry een van sy bywoners hom in sy tuin aan 'n pereboom opgehang.

"Net wat 'n mens van die arme ou Ingnaas kon verwag," het die bure gesê. "Hy was altyd teer; hy was te goed vir kwaad; toe hy agtergekom het wat verkeerd was, het dit sy hart gebreek."

In daardie dae, waar daar 'n klaarblyklike oorsaak van die dood was, is daar geen diepgaande mediese ondersoek van die liggaam gedoen nie, en die wetsbepalings daaromtrent was nie so stip nie. Oor ou Ingnaas is daar 'n oppervlakkige lykskouing gehou, maar waarvoor die liggaam oopsny en ander oorsake binne soek as jy van buite die oorvoldoende oorsaak had?

Maar die diender uit die dorp wat met die ondersoek belas was, was 'n man met oop oë en oop ore. Hy was nie geneig om sommerso voetstoots die stelling van selfmoord aan te neem nie. (Dis vir my 'n plesier om sy naam hier te noem. Rykhart Elfried, 'n naam later welbekend as dié van die hoof van ons destyds-koloniale speurdiens. Hy was 'n gebore speurder. Daar is 'n ander verhaal waar hy mee  verbonde was waar ek nog oor twyfel of dit geskik sal wees om by hierdie reeks in te sluit.)

Elfried het dan rondgesnuffel en spore gemeet onder die pereboom en daarheen en daarweg; en in die skemeraand moet David Dieperman hom beloer het dat hy stilletjies in sy kamer rondsoek na velskoene. Dit is 'n gissing waarvan die waarskynlikheid uit later ontwikkelings volg, soos die leser netnou sal sien. In alle geval David het gesien ‘the game was up’.

Ingnaas se begrafnis was bestel vir die volgende dag. Die oggend van daardie dag het David makeer. Eindelik kry hulle in sy slaapkamer 'n brief aan die magistraat gerig. Die inhoud was kort en saaklik:

"Meneer,—Jou konstabel Elfried is een te veel my. As ek hom laat begaan sal hy môre genoeg bewys hê om my in hegtenis te neem. Vlug sal my op die lange duur nie red nie, en vir die galg het ek geen ambisie nie. Maar laat ek maar nou ronduit beken - en julle kan sê dankie vir niks — dat dit ek is wat vir Ingnaas vermoor het; eers verwurg en toe die dooi eliggaam opgehang het.

"Maar ek wil graag met die meeste plegtigheid betuig dat ek alleen skuldig is. Niemand was by die daad behulpsaam nie; ; niernand het my daartoe aangespoor nie; niernand was daarby of wis daarvan nie as ek en Ingnaas. Hy was in my en hy moes daaruit.

"In my brandkas is my testament wat ek vroeg vanaand met my eie hand geskryf het en behoorlik deur twee van my bywoners as getuies laat byteken het: Ek benoem daarin mevrou Wilman, nou Weduwee Dieperman, tot my enigste erfgenaam. En ek doen dit vereers omdat ek my aan geen familie steur nie; ten tweede omdat ek van harte begeer dat my nalatenskap haar van verder lewenssorge mag ontlas en tot 'n klein bietjie vergoeding wees vir die verdriet wat in haar lewe gekom het; en eindelik omdat ek haar liefhet.

"En nou gaan ek die weg wat Ingnaas nie gegaan het nie om dieselfde donker afgrond grond van niks te vind vir my sonde as hy vir sy regverdigheid, want ek glo aan geen hemel of hel nie. Ek is jammer dat ek nie my liggaam dadelik tot julle beskiking kan stel nie; maar dit sal maar 'n korte vyf weke duur tot die dam weer leeg is. Die eenvoud van my metode sal daarin bestaan dat ek aan 'n groot klip vasgekoppel, van die poortkrans sal afspring in die diep water.

"U dienswillige dienaar,

"David Dieperman."

Koelbloediger kon dit nie gewees het nie. Maar so was David; 'n woestaard, gevoelloos en roekeloos. Die twee bywoners het hulle aandeel aan die ondertekening van die testament bevestig. Ja, hulle is omtrent nege-uur na die huis toe geroep om te kom teken as getuies. David het nog gesê, op sy bytende manier, soos hulle sien, kan 'n mens gerus maar versigtig om nie met sulke dinge te versuim nie.

En David se spore is gevind die koppie uit en tot op die krans waar dit daar oor die water hang.; en daar was die lê-plek van ‘n vars-weggerolde rotsblok. Maar vir die orige was daar niks anders te doen nie as om te wag. Daar was geen moontlikheid om met ‘n dreg die liggaam uit die diep water te verhaal nie; wat die vloer van die dam sou gewees het, was nog ‘n wildernis van oorblysels van vrot doringstompe en stamme, Ook kon ‘n mens nie sonder toestemming van die betrokke eienaars die dam laat leegloop voor sy tyd nie, en hulle het nie gedroom om hulle toestemming te gee om hulle beurte te laat skade loop en hulle gesaaides te laat verdroog vir die ontdekking van die dooie liggaam van ‘n ellendeling soos David Dieperman nie.

Weer eens was diender Elfried nie tevrede nie. “Meneer,”, het hy aan die magistraat gesê, “behalwe uit sy eie waardelose woord het ons geen stuk bewys dat David Dieperman dood is nie. Sy spore loop op die krans dood, maar hy kan met ‘n ander koers oor die harde rotse weggedraai het. Ons het alreeds een storie van ‘n selfmoord hier gehad. Hierdie tweede kan eenvoudig ‘n plan wees om ons oë te verblind terwyl die kastige selfvermoorde hom ongesoek uit die voete maak.”

Hierdeur het die magistraat hom laat beweeg om ‘n verslag op te stuur aan die prokureur-generaal, en kennisgewings is die land deur versprei met 'n beskrywing van David se voorkoms. Soos gewoonlik was die beskrywing ewegoed toepaslik op duisend ander mense, maar daar was darem twee kenmerke. Die gesoekte man had 'n bokbaardjie maar dié kon hy afskeer; verder had hy sy regter-groottoon (in 'n ongeluk met die klipspringery vir die dam se maak) verloor. Hierdie kenteken kon nie so maklik vermom word soos die baardjie nie; maar dan, jou speurder kan nie rondgaan en onbekende mense vang en hulle skoene uittrek om te sien of hy die reg had om hulle te vang nie.

Maar soos dit moes blyk, was daar niemand om te vang nie. Toe die dam op sy gesette tyd leeg laat loop is, is die liggaam gekry, deur ontbinding natuurlik oor die algemeen onherkenbaar, maar die spitsbaardjie en die af groottoon was voldoende bewys van identiteit. Die liggaam is in 'n graf langs die van Ingnaas begrawe.

Aan David se testament is op die gewone manier uitvoering gegee. Die vrou Wilman het die grond op ‘n vendusie laat verkoop, en toe die boedel vereffen was, uitverhuis na Amerika toe. (Daar, in 'n stad-dorpie met die naam van Belmont, mag ek hier terloops sê, het reisende Afrikanerstudente haar later raakgeloop, haar en haar man, want sy was weer getroud, natuurlik.)

Tot sover 'n geskiedenis wat lelik genoeg was maar nie te erg buitengewoon nie. Hy kon gerus maar daar doodgeloop het, en hoe gouer vergeet hoe beter. Alte sekerlik sou ek hom dan nie opgerakel het om aan die aandag van lesers op te dring nie. Maar sulke dinge loop nie dood voor hulle afgeloop is nie.

Die koper op die vendusie van Weduwee Wilman  — die mense wou haar maar nie Weduwee Dieperman noem nie — het weer verkoop, en sy opvolger ook weer. Die derde eienaar van David af het binnekort tot die besluit gekom dat hy ook maar weer sou moes verkoop - en, soos dit gegaan het,  het die prys elke slag laer gedaal — of anders moes hy hulp kry om die spook-moeilikheid op te los.  En so het dit gekom dat ons ou maat, ou Koos Veldkornet weer gaan haal is, soos na so baie donker plekke toe waar niemand anders lig kon kry nie buiten spookligte.

Bowegaande besonderhede was nie swaar om in die hande te kry nie. Almal was natuurlik openbare eiendom, en sover as dit nodig was om gerugte kontroleer, was dit maklik genoeg vir my om toegang te kry tot amptelike bronne in die polisiekantore en elders. Hiervandaan laat ek, die veldkornet aan die woord volgens sy kortlikse aantekeninge:

'M. My kom haal om David Dieperman se huis te visenteer vir spoke. As mense maar hulle oë wou oopmaak en verstand had om te gebruik. Maar die laaste ding wat hulle ooit raaksien is dié wa voor hulle gesig is. 'M.

In David Dieperman se eie slaapkamer gaan slaap. Beste om die fontein by sy oog te vat. Helder volle maanskyn by die venster in; alles duidelik in die kamer. 'M. Stok-alleen in die huis. Ander mense almal bang vir wat nie kan seermaak nie.

Uitgetrek en gaan 1ê, kers doodgeblaas, dadelik aan die slaap geraak. Moeg. 'M.

Word teen middernag wakker, yskoud van angs. Magtig. Mos nie 'n bang man nie, waarom dan nou? Maar kannie moed kry om my oë oop te maak nie. Hoor niks, maar voel daar is iets aan die gang in die kamer. Naderhand duiwel in vir my eie slegtigheid, kyk skielik. Voor my kooi staan twee stoele gebring solank as ek aan die slaap was; lê 'n doodkis daarop, teen my kooi aan. 'M. Deksel op 'n skrefie oop maar nie so dat ek binne kan insien nie. Kom daar 'n hand soos van iemand wat anderkant by die kis staan. Los hand, sonder 'n liggaam. Skuif verder oop. Ek lig my op my ellemboog half orent, kyk in die kis in, niks te sien nie. Los hand steek hom self onder in die kis in, skep sand, laat dit stadig terugval. Wou nog self my hand insteek, toe verdwyn die kis met los hand en al. 'M. Twee stoele bly daar staan. Spook het hulle vergeet of hom nie verder moeggemaak nie. Sal more-oggend aan die stoele sien dat dit nie 'n droom was nie. 'M.

Kis weg, opgestaan om by my baadjiesak te kom. Pyp opgesteek, gelê en rook. Pyp goeie ding om jou gedagtes mee te laat gaan. Saak aanstons duidelik, kinderagtig eenvoudig. Moordenaar gewoonlik met die liggaam opgeskeep. Hier was daar 'n liggaam te min. Nie eens nodig gehad om my pyp uit te rook nie. Maar weer geslaap; gestuk verder hinde] die nag nie.

Volgende dag dorp toe gery. Magistraat op afdelingsraads-vergadering. Diender Elfried in hande gekry.

"My vriend," sê ek, "twee dinge vir julle om te doen. Eerste, Ingnaas Dieperman se moordenaar gaan vang."

Elfried lag. "'M," sê ek. "Vreeslike groot grap. Maar dis ek wat daaroor moet lag, nie jy nie.

"Dan weet Oom seker waar die moordenaar is?” vra Elfried. Spottend.

"'M. Weet waar hy is, ja. Plek van die naam van Belmont, in Amerika. Kaalgeskeer of anders groot lang baard, maar eerder kaal. Baard steel veel of in Amerika. Regter-groottoon makeer. Getroud met gewese Weduwee Wilman. Weet nie wat sy naam nou is nie; weet wat dit was. 'M."

"My magtig, Oom, dan was ek reg. David Dieperman het nie selfmoord gepleeg nie."

"Nee. Wou liewer aan die lewe bly."

"Maar die liggaam dan wat ons daar in die dam gekry het?"

"Ingnaas s'n. Ingnaas twee begrafnisse gehad. Eerste pure sand. Oorgenoeg. Eenvoudige uitleg. Twee broerskinders, eners van liggaamsbou, van grootvader so geêrwe. Ingnaas groot baard, om spits te knip; al tien tone, maklik om een af sny. Vyf weke onder die water. Krappe en goed, voorkoms onherkenbaar."

"Oom, maar hoe het David die ding bewerk?"

"Jou gesê, Elfried, twee dinge vir julle om te doen. Een, moordenaar gaan vang; uitlewering kry. Twee, bevel kry om eerste kis op te grawe. Sal vind, geen liggaam daarin nie, net sand. Nag voor die begrafnis het David die liggaam uit die kis gehaal, aan 'n klip gebind, dam ingegooi. Sand in die kis gegooi om gewig te maak, kis weer toegeskroef. Testament gelaat om deur die vroumens die plaas se geld te kan kry. Man at hom dood hou, kan nie grond verkoop en koopskat in die hande kry nie. Moes iemand hê wat hy  baie goed kon vertrou."

"Maar hoe op aarde het Oom al hierdie dinge in een nag daar op die plaas uitgevind?"

"Maklik genoeg. Spook gehad om my te help. 'M. Dag, Elfried."

Nawoordjie. Die leser sal opgemerk het dat daar een belangrike vraag onbeantwoord bly. Die ou veldkornet het nie 'n volle gedaante gesien nie, net 'n band en in ‘n kis, en dit was in David se slaapkamer, David wat nie dood was nie, plebs van Ingnaas s'n wie dood was. Wie het kom spook? moes hy gedink. Natuurlik David. Was Ingnaas se spook dan nie bang om die aanskouer te mislei en sy oortuiging te versterk dat David dood was nie? Of het die spook geweet dat hy met 'n begryper te doen had vir wie minder as 'n halwe woord voldoende sou wees?