AFRIKAANSE BYBEL SE ONTSTAAN

HOE DIE BYBEL IN AFRIKAANS VERTAAL IS

Marten du Preez

Met die Woord van God, die Bybel, in jou hand, word ’n bietjie stil en bepeins hoe wonderlik dit is en hoe het dit gebeur het dat die Bybel in jou pragtige Afrikaanse taal beskikbaar geword het. Hierdie ongelooflike voorreg is die gevolg van groot opofferinge gepaard met doelgerigte besieling van ’n hele paar begenadigde persone.

Die begeerte om die Bybel in Afrikaans te vertaal het nie by ’n Afrikaner ontstaan nie maar by ’n Hollander dr. Arnoldus Pannevis. Aanvanklik het baie Afrikaners dit teengestaan wat dit beskou het as ’n onbesonnenheid en onnodigheid. Baie was oortuig dat vertaling die verhewendheid van God’s Woord skade sou laat ly. Dit het egter nie die voorstanders van die Bybel in Afrikaans afgeskrik nie.

Op 12 April 1873 skryf C P Hoogenhout ’n brief aan De Zuid-Afrikaan met die opskrif “De Bijbel in Afrikaans” waarin hy nie net nadruk lê op ’n Bybel vertaling nie, maar ook veral op Afrikaans as taal. Hy het die daad by die woord gevoeg om Mattheus 28 te vertaal en aan die Kerkbode gestuur wat dit in die snippermandjie gegooi het.

Omdat Pannevis se brief nie die gewenste uitwerking gehad het nie, het hy hom tot die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap

(B B B.G. )gewend. Sy versoek aan die Genootskap was om die Bybel in ’n soort van eenvoudige Hollands te vertaal. Die Genootskap antwoord dat hy nie geneë is om die Bybel in ’n “brabbeltaal” te laat verskyn nie. Hy gelas sy sekretaris aan die Kaap, ds. Geo Morgan om die saak verder te ondersoek.

Hy tree toe met ds. S.J. du Toit in verbinding en laasgenoemde belê ’n vergadering op 14 Augustus 1875 in die Paarl. Die vergadering besluit dat die tyd nog nie ryp is vir ’n Afrikaanse Bybelvertaling nie maar gaan oor tot die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners. Die vertaling sou nog vir ’n paar jaar sluimer.

C P Hoogenhout het egter gedronge deur die Gees reeds in Januarie 1878 die Bybelboek Markus vertaal. Die vertaling is nooit gebruik nie

In 1885 besluit die GRA om met die vertaling te begin en stel ds. S.J. du Toit aan as vertaler. Hy gaan voort om die vertaling van verskillende Bybelboeke uit die grondtale, Hebreeus en Grieks te vertaal. Eers verskyn drie hoofstukke uit Genesis , daarna die hele Genesis (1893), Mattheus (1895), Openbaring 1898 en Die Psalms (1907)  Hierdie vertalings het nie groot byval gevind nie, want die volk het nog nie die behoefte aan ’n Afrikaanse Bybel gevoel nie, hulle was nog tevrede met die Statebybel. Hulle het gevoel dat ds. du Toit te na aan die volkstaal gekom het. So bv. is vers 4 van Ps. 23 soos volg vertaal. “Al gaan ek deur di kloof van doodskadewe, ek vrees geen kwaad ni; want U is met my; uwe knopkiri en wandelstok fertroos my”.  Tog is die vertalings van ds. du Toit van groot kultuurhistoriese waarde.

Na die Tweede Vryheidsoorlog word die Afrikaanse Bybelvertaling met groter erns beskou maar ds. W Postma was van mening dat gewag moet word totdat groter eenstemmigheid heers oor  die taalvorm. Maar met die algemene bewuswording het die behoefte ontstaan om die Bybel te laat vertaal. Reeds in 1914 besluit die Gereformeerde Kerk in beginsel om die Bybel en Belydenisskrifte te vertaal. Predikante het toe alreeds in Afrikaans gepreek.

In April 1916 het die Sinode van die Vrystaatse kerk tydens sy kongres ernstige oorweging geskenk dat die Bybel vertaal moet word. Dr. N J van der Merwe dien die volgende maand die saak in by die Vrystaatse Sinode vir bespreking en daar word besluit om Afrikaans naas Nederlands te erken as amptelike taal en om die Bybel te laat vertaal. ’n Kommissie word deur die Vrystaatse Sinode in samewerking met die Nederduits Gereformeerde Kerk (NG Kerk) in die ander provinsies, die Gereformeerde Kerk en die Hervormde Kerk aangestel om geskikte persone te vind vir die vertaling.

Drie jaar later besluit die NG Kerk se Sinode eenparig dat Afrikaans as kerktaal gebruik mag word. In dieselfde jaar neem die Kaapse Sinode ’n soortgelyke besluit. Hierdie besluite het die pad vir die vertaling oopgemaak. Die Bybelvertalingskommissie het toe die volgende persone aangestel: drs. J D du Toit, B B Keet en T B Muller om die Ou Testament en drs. G B A Gerdener, F Postma en N J van der Merwe die Nuwe Testament te vertaal. Hulle opdrag was om die Statebybel te verafrikaans. Dit was ’n moeilike taak omdat Afrikaans nog in wording was en die persone in verskillende provinsies gewoon het.

Die eerste boeke wat vertaal is, was Jona, Hosea en die Johannes-evangelie. In 1919 besluit die vertalers om al die Evangelies en Psalms so spoedig moontlik te laat druk. In 1922 was die vertaling gereed en die 70 000 eksemplare gou uitverkoop. Die volk was egter in die algemeen nie tevrede nie, want die vertaling was nòg Afrikaans nòg Nederlands. Selfs Langenhoven het heelwat kritiek uitgespreek oor die vertaling. Die Bybelvertalingskommissie sowel as die vertalers was ontnugter hierdeur.

Dit was duidelik dat persone vir die werk spesiaal afgesonder moet word en om uit die grondtale Hebreeus ’n Grieks te vertaal. In Julie 1923 is Proff. J D du Toit en B B Keet as eindvertalers benoem. Omdat prof. Keet nie vrygestel kon word nie is prof. J D Kestel in sy plek aangestel. Later is nog drie vertalers aangestel nl. prof. E.E. van Rooijen, dr. H C M Fourie en weer prof. Keet.

In 1924 het proff. du Toit en Kestell begin vertaal. Prof du Toit sou met Genesis begin. Prof. Kestell het baie vinnig vertaal en in November 1926 sy werk saam met prof. Keet hersien. Die Ou Testament is eers in 1928 voltooi. Prof. C van Gelderen is uit Amsterdam versoek om te kom help. Prof. Du Toit het gevind dat die vertaling baie moeilik was en het met sy fyn humor opgemerk: “Job weier om Afrikaans te praat”.

In 1924 verskyn die Vier Evangelies en Psalms. Hierdie vertalings uit die grondtale het groot byval gevind. In 1925 het die taaladviseurs, proff. D F Malherbe, T H le Roux en J J Smith met hulle werk begin. Later het prof. E P Groenewald bygekom. Dit was hulle taak om die vertalers van raad te bedien, veral wat die spelling, woordkeuses en sintaksis betref.

Die Bybel is in 1933 deur die B B B G gedruk en in Mei is die eerste oplaag in Suid-Afrika ontvang. Byna ’n miljoen Bybels is verkoop. Op Sondag 27 Augustus 1933 is die Bybel deur die hele land feestelik in ontvangs geneem. ’n Sentrale fees is in Bloemfontein gevier en die volgende feeslied is gesing:

Welkom, dierbaar Woord van God,

Lig in al ons lewenslot,

Bron van leiding, troos en krag,

Rigsnoer van ons voorgeslag.

Welkom  in ons moedertaal,

Van Kaap tot oor die Vaal.

Met die verskyning van die Bybel in Afrikaans het ’n Afrikaanse Psalm- en Gesangeboek ’n dringende noodsaaklikheid geword. Dr. J D du Toit (Totius) het baanbrekerswerk in hierdie verband gedoen met die beryming van die Psalms in Afrikaans. In Julie 1937 is die Berymde Psalms in ontvangs geneem.

In ‘n volgende artikel vertel ek meer hieroor.