IETS OOR AFRIKAANSE TAALGESKIEDENIS

Dr JJ le Roux

Oor die geskiedenis van Afrikaans is al baie geskryf maar byna al die geskrifte hou hulle hoofsaaklik besig met een episode naamlik die ontstaan, sodat ons die gevaar loop om die indruk te kry dat dit die hele geskiedenis is terwyl dit in werklikheid maar net die begin daarvan is.

Ná 'n kort opsomming van die ontstaankwessie wil ek u dus herinner aan die verdere geskiedenis, waaraan daar nog so weinig gedoen is.

Soos ons weet het Afrikaans in Suid-Afrika ontstaan uit die Nederlands van die sewentiende eeu.
Dat Nederlands in Suid-Afrika verander het is niks besonders nie want alles wat leef verander, die lewe self bring veranderinge mee, by tale so goed as by enigiets anders.  En so sien ook Nederlands self daar vandag in Nederland heel anders uit as in die sewentiende eeu.

Deurdat die twee lande egter so ver van mekaar verwyderd is en in so baie opsigte van mekaar verskil, het die Nederlandse taal op sy eie manier ontwikkel, en as ons die hedendaagse Nederlands met Afrikaans vergelyk, dan vind ons nie alleen dat in elkeen nuwe eienaardighede ontstaan het nie, maar ook dat Afrikaans in sommige gevalle ou kenmerke bewaar het wat in Nederlands verlore gegaan het, en omgekeer.

So 'n vergelyking bring aan die lig dat Afrikaans 'n beperkte aantal woorde het wat nie in Nederlands bestaan nie, wat ons egter nie hoef te bevreemd nie want Afrikaans moes met sy woordeskat voldoen aan die behoeftes wat die besondere landsomstandighede nodig gemaak het.

Dat daarin ten dele voorsien is deur ontlening, is die natuurlikste ding op aarde. Dieselfde word gedoen in Engels, Frans, Duits en Nederlands, en alle ander moderne tale, soos dit al gedoen is in Latyn en Grieks en Hebreeus, en alle ander tale van die oudheid.

Party Afrikaanse klanke is ook anders as die ooreenkomstige Nederlands, maar die getal is gering en baie daarvan is te verklaar deurdat Afrikaans ou klanke bewaar het wat in Algemeen Beskaafde Nederlands verlore gegaan het. Dit lewer dus ook geen oorsaak vir bevreemding op nie.

Van die Tipiese Afrikaanse konstruksies en uitdrukkinge kon party maklik uit die ou voorraad ontwikkel het, terwyl ander van vreemde tale oorgeneem is sodat hierdie gedeelte van die taal geskiedkundig op een lyn te stel is met die woordvoorraad.

Ook Nederlands het eenvoudiger geword sedert die sewentiende eeu maar die snaaksste is dat dit sou gou gegaan het in Afrikaans, waarvan die vernaamste veranderinge binne die eerste 100 jaar ná die stigting van die volksplanting aan die Kaap plaasgevind het. Maar selfs al het dit 200 jaar geduur, dan was dit nog so gou dat dit ons moes bevreemd het.

Dit is hierdie vinnige verandering, die snel tempo van die vereenvoudiginge wat die kwessie van die ontstaan van Afrikaans so ingewikkeld gemaak en na spesiale oorsake laat soek het. Daar is gevoel dat as die veranderinge in Afrikaans sneller plaasgevind het as in ander tale, dat daar dan 'n verklaring voor gevind moes word.

Die verklaring is natuurlik gesoek in die besondere omstandighede waaronder Afrikaans ontwikkel het en daar kon veral twee groepe spesiale omstandighede onderskei word.

Die eerste was dat die lewensomstandighede aan die Kaap so anders was as in Nederland. Terwyl ons Nederlandse voorouers in 'n digbevolkte, nat, koue, gelyk land opgegroei het, het dié van hulle wat na Suid-Afrika gekom het, hulle in 'n woeste, droë, warm, bergagtige land gevestig met sy eie plante- en dierewêreld.

Aan hierdie land en sy klimaat moes hulle hul aanpas en daarvoor moes hulle taal natuurlik die nodige veranderinge ondergaan. Daarby het gekom dat die geleenthede vir skoolonderrig gering was en die kontak met die moederland en sy kultuurinvloed losser en losser geword het. Al hierdie omstandighede moet natuurlik hulle uitwerking op die taal gehad het en diegene wat die snelle ontwikkelingstempo nie as belangrik ag nie, het selfs gemeen dat dit 'n voldoende verklaring was vir die ontstaan van Afrikaans.

Die tweede groep spesiale omstandighede was egter dat die Nederlanders aan die Kaap in aanraking gekom het met verskillende vreemde tale. Daar was die Duits van die Duitsers en die Frans van die Hugenote, die Hottentots van die Hottentotte en die tale wat die slawe gepraat het. Onder die laaste was daar Afrikaanse slawe wat Neger- en Bantoetale gepraat het en slawe uit die Ooste wat Maleis en ander Oosterse tale gepraat het. Party van hulle het ook nog 'n mengelmoes gepraat wat bestaan het uit Maleise, Portugese en Hollandse woorde en teenswoordig genoem word Maleis-Portugees.

Dat hierdie tale invloed moes gehad het op Nederlands, spreek vanself. Hoe groot dit was, is egter moeiliker om uit te maak. Party taalgeleerdes meen dat hierdie vreemde invloede die deurslag gegee het in die ontstaan van Afrikaans, en party meens selfs dat een taal, nl Maleis-Portugees, as hooffaktor aangewys kan word. Die bewyse wat vir die laaste mening aangevoer is, is egter nooit oortuigend gemaak nie.

Ons moet ook onthou dat al die  vreemdelinge Nederlands aangeleer het aan die Kaap.  Die invloed het dus meer uitgegaan van die kromtaal van die vreemdelinge as van die vreemde taal self.

'n Ander feit wat nie uit die oog verloor moet word nie is dat die Nederlanders self verskillende dialekte gepraat het. In die loop van tyd moes hierdie dialekte hulle bymekaar aanpas sodat daaruit 'n eenheidstaal kon ontstaan. Die kiem van verandering was dus op hierdie manier ook al in die taal aanwesig.

As u my nou vra aan watter van hierdie groepe omstandighede Afrikaans sy ontstaan te danke het, dan is my antwoord, dat juis die neiging om wat bymekaar hoort te skei, in die verlede verantwoordelik was vir baie skewe voorstellings. Dieverstandige beoordelaar sien in dat die veranderinge wat tot stand gekom het die gesamentlike uitwerking was van al die omstandighede. Die bymekaarkom van mense wat verskillende dialekte praat, die nuwe lands- en lewensomstandighede, en die aanleer van die taal deur vreemdelinge, het dus alles bygedra tot die snelle vereenvoudiging van die buigingsvorme van Nederlands aan die Kaap, d.w.s tot die ontstaan van Afrikaans.

Dit is die stand waartoe ons taalwetenskap gekom het. 'n Mens kan nou hiervandaan verder gaan en probeer om 'n hooffaktor onder die aanleidende oorsake aan te wys en daar is ook al baie pogings aangewend om dit te doen, maar nie een is heeltemal oortuigend nie.

Kom ons nou by die negentiende eeu, dan kry ons die geweldige invloed van Engels op Afrikaans. Hierdie invloed moet 'n baie belangrike hoofstuk in die geskiedenis van Afrikaans vorm. Van minder belang was die kontak met inboorlingkrale, maar ook die uitwerking daarvan is 'n stukkie taalgeskiedenis wat ondersoek moet word.

Dan kry ons die verdere uitmekaartrek van die Afrikaners en as gevolg daarvan die aangroei van taalverskille onder verskillende groepe. Die plaaslike taalverskille in Afrikaans is iets wat nog glad te weinig bestudeer is.

En eindelik is daar die geskiedenis van die verheffing van Afrikaans tot skryftaal. Ook dit bied, soos baie ander onderwerpe, nog 'n dankbare veld vir die navorser op die gebied van die Afrikaanse taalgeskiedenis aan.