DOPPERS EN FILISTYNE (3)

SY WEN (2)

Lees reeks by Doppers en Filistyne - Langenhoven

('n Kostelike sketsreeks met groot lewenswaarhede deur Langenhoven in die naam van sy sogenaamde neef Stoffel)

Dit wat ek verlede keer ook nie aan my leser kon vertel nie, het ek ook nie aan my vroutjie gesê nie want ons was te lank getroud.  Om jou aan te gord om 'n redenasie met 'n vrou op te tel kos 'n baie groot tekortkoming aan ondervinding. Hoe slimmer jy ook al is by 'n woordewisseling – en vir daardie soort slimmigheid wed ek altyd op die ander perd – maar hoeveel slimmer jy ook al mag wees, hoe minder help dit jou want hoe minder verstaan sy wanneer sy doodgesit is. Sy hou maar aan asof al jou redenasies eerder nog haar standpunt ondersteun het. Nie dat stilbly jou uiteindelike nederlaag verhinder nie, o nie! Sy kry tog maar haar sin. Maar jy sal uitvind dis die goedkoopste.

My swyge hier het ook maar net soveel gehelp as wat my teëpraat sou gehelp het. Ek moes my ou plasie en al wat daarop was op vendusie sit.

"Kan ons nie maar die huisraad hou en saamneem dorptoe nie, Soetlief? Anders moet ons ons goedjies verniet weggee en ander duur gaan koop."

"Hierdie Noag-se-ark-meubels? Wat makeer jou, Stoffel?

Sal daar ooit 'n mens by my kom op die dorp as ek hierdie ou goed daar in my huis het? Hulle sal hulle skaam om daarop te gaan sit. Verbeel jou, hierdie ou riempies-en-stinkhout rusbank daar op die dorp in my voorkamer! Dan bly ek net so lief hier op die plaas."

'n Mens sou sweer dit was ek wat dorptoe gedwing het.  En so was dit ook met die duur van tyd, ná die ontnugtering. Nes daar iets verkeerd gaan op die dorp word vir my voorgehou "jy wou mos dorptoe trek".

Op die ou einde het ek my rot en kaal gereneweer, my goed verniet weggegee met nog 'n groot eetmaal aan die vendusiegaste wat die goed daar kom haal het; my ou huis met die dikke mure en die heerlike koele rietdak verlaat, en in 'n moderne ongerieflike verspotterigheid gaan intrek wat jy kon omstoot buiten dat die uitgeknipte blikversierseltjies jou hande sou stukkend sny; waar die son deur gebak het en die winde deur gefluit het en wat so gelek het in die reën dat jy moes uitgaan buitetoe om nie so nat te word nie; 'n ding met geweltjies en draaitjies en hokkies en hoekies, en nergens gemak of rus nie. En in plaas van my stewige en degelike huisraad, nuwerwetse bogtery wat kraak as jy daarop gaan sit, en in die nag sommer vanself net soos 'n spooknes, en vir tienmaal die prys. Blink bedrog, nes al die dorpse gedoentes.

Al wat ek uitgehou en en saamgeneem het dorptoe, was my pak kisklere (en dit het ek nie bly behou nie...), en vir Soetlief (en dié het ek bly behou). Die dogter Grietjie is weg na 'n hoë skool in die Kaap om te gaan verleer.

Ek weet nie of ek dit reeds gemeld het nie – as ek dit nie gedoen het nie dan doen ek dit nou – Soetlief het rooi hare. Met 'n rooihaarding – of jy hom ruil of koop of aanteel of trou, hoe jy hom ook kry – steek jy jou in 'n waag. As hy goed is dan is hy baie, baie goed, beter as enige ander kleur hoegenaamd. As hy nie goed is nie is hy nie goed nie.

Ek het altyd vosperde aangehou. Eén was heeltemal goed, deur en deur, en nog so 'n perd was daar in die land nie te kry nie. Sy naam was Belie. Die ander was elkeen net so goed – op éen nuk na; en elkeen had sy besonderse nuk. Eén van hulle was Tjalie – nie die Engelse naam nie, ons het hom na sy pragtige maanhare wat oor sy skof gehang het so genoem. Tjalie se manier was nes jy van die werf af wegtrek dan neem hy met die kar en die ander perd die loop en geen knakstang kon hom hou nie. Ek het naderhand die nuk so goed geken dat ek eers alleen opklim en dan jaag ons met 'n groot sirkel die plaas om teen omtrent honderd myl in die uur tot weer voor die deur. Dan laat ek vir Soetlief en Grietjie opklim en met die tweede maal se vat gaan dit mooi bedaard en fatsoenlik. (As daar van Soetlief se familie was om te kuier het ek hulle altyd die eerste maal al laat opklim.) 'n Ander vos wat ek gehad het (sy naam was Jintle – ook nie 'n Engelse naam nie maar ek weet nie meer na wat ek hom laat heet het nie) het altyd die holgate deeskant-in gejaag om 'n vaarte te hê teen die opdraend oorkant uit. Nóg een – hy had 'n pragtige ster voor die kop en wit maanhare nes ou Vader Krismis, en jy moes hom voel pasgang loop het as jy lus het om te galop – had die gebruik om onder die saal of in die tuig altyd dwars te loop nes 'n krap; jy moet gedurig die éen teuel of die éen leisel rem, anders draai hy uit. Een oggend moes ek vroeg te perd dorptoe jaag om die dokter te haal – en ek was al dood van die vaak van snags waak by die siekte wat ons had – en halfpad moet ek aan die slaap geraak het. Toe ek wakker word hou ons weer voor my stal stil. Dan het ek 'n ou sweetvos gehad, Steenbok, wat 'n steeks nuk uitgehaal het en dan kon jy 'n trein se enjin aan hom sit en hy sou hom nie beweeg nie; en 'n ander een, Kaasja (ook nie 'n Engelse naam nie) met 'n rooi oog, wat die gewoonte gehad het as jy vir hom kaf gooi in plaas van hawer, om nes jy van die krip af wegdraai, jou van agter te bevlie en jou te kap, en nog een, Siemon, wat jou gebyt het as jy hom beslaan. Ek moes hom naderhand laat kaalvoet loop, ek kon nie meer 'n smid kry nie. En so kon ek nog 'n stuk of tien-twaalf noem. Onder al daardie klomp was daar éen goeie. Nou kan die leser by homself uitsyfer wat die kanse is wanneer 'n man 'n rooihaarding aanskaf.

Neelsie, my neef, wat my spelling vir my regmaak omdat hy nie ander raad met sy hoë geleerdheid weet nie, het ook  'n rooihaarvrou. Hy noem haar Vroutjie en hy bly nog altyd verspotverlief op haar (of hy hou hom maar so want hy het in sekere rigtinge 'n baie fyner verstand as wat 'n mens gewoond is om by soveel geleerdheid aan te tref.) Eenmaal het hy 'n Engelse gediggie teëgekom wat vir hom so mooi was dat hy dit vertaal het. Hy vra my om dit hier by te sit want hy kan daardie goedjies self nie op die mark kry nie – die mense wil nie meer sy boekies koop nie, en ek is my nie verwonder daaroor nie. Nou sit ek dit maar by onder die verstandhouding dat dit hier uitdrukkelik verklaar word dat ek nie vir sulke bogtery aanspreeklik is nie:

DIE NOOIENTJIE MET DIE SPROETE
Jong, ek raai jou loop tog wakker:
Daardie sproetnooi is 'n rakker -
Sy's 'n skelm en 'n strik en 'n gevaar;
Sy verlok jou met haar laggies,
Net soos klokkies soet en saggies,
Met die sonskyn in die goudglans van haar haar.

Sy is fyntjies en sy's liefies, met twee ogies soet en wyd-
Soeter ogies is daar nergens maar so vol van listigheid!
Daar's vonkels in haar ogies wat so diep daarbinne woon-
O, die stoute kleine vonkels, stout en skelmpies, wonderskoon,
Dansend, glansend in haar ogies al die tyd!

Soos haar sproete aardig fluister van die goue somergloed,
Soos die sonskyn uit haar goue hare straal,
Is daar somer in haar lewensvuur en gloed-
Is daar sonskyn om haar heen in owervloed-
Is daar warmte in haar skoonheid en haar praal.

Maar ek seg jou vlug van daardie soet-verleidelike lag-
Ja, al is dit ook so helder en so vriend'lik soos die dag:
Want sy kom met 'n geruisie soos die windjie deur die lower
Maar jou hartvuur sal sal sy aanblaas en jou siel sal sy betower-
Jy sal val soos ek geval het in haar mag.

Jong, ek seg jou weer wees wakker,
Want die rooi-nooi is 'n rakker-
Vlug tog weg, terwyl dit tyd is, van haar heen
Van haar sproete en die songlans in haar haar,
Van haar laggie en haar listige gevaar-
Vlug tog weg en laat haar bly vir my alleen.