Nuutste bydraes

GEDAGTES VIR ELKE DAG - druk f5 op u rekenaar vir 'n nuwe gedagte

Of lees almal by Gedagtes vir elke dag

Wanneer ons God begin dank vir al die vreugdes wat Hy ons skenk, sal daar nie tyd oor wees om te kla nie.  Die mens wat dankbaar oor die verlede is, sal die Here ook vir die hede dank en die toekoms vreesloos tegemoet gaan.  As ons dankbaar vir die genade van die verlede is, kan ons uiteraard ook op nuwes reken.

AFRIKAANS VEROWER DIE KERK

DIE WONDER VAN AFRIKAANS (3)

Lees reeks by Die Wonder van Afrikaans

PROF. DR. G. S. NIENABER

"Het is een Wonder in onz' Oogen"

"Regtig," roep Langenhoven uit, "die saak was van die Here, en dis wonderlik in ons oë, te wonderlik om ons eie ervaring te glo."

Die stryd om die erkenning van Afrikaans as die taal van die Afrikaners hang baie nou saam met die begeerte om die Bybel in Afrikaans vertaal te kry. Dit mag vreemd klink, maar dit was nie 'n Afrikaner wat die beweging aan die gang gesit het om Afrikaans tot Bybelverhaal te verhef nie -nee, dit was 'n Hollander : dr. Arnoldus Panne-vis (1838-1884).

Hy was 'n Nederlander van geboorte, 'n groot kenner van die klassieke en verskeie moderne Europese tale en 'n geleerde wat deur ds. S. J. du Toit geroem is as die grootste taalkundige wat Suid-Afrika destyds gehad het.  In 1866 kom hy in ons land aan en word onderwyser aan die Paarlse Gimnasium.

Pannevis was baie godsdienstig. Een van die redes waarom hy sy beroep as skeepsdokter neergelê het, was omdat hy die gevloek van die matrose nie langer wou aanhoor nie.

Hier in die Paarl word hy getref deur die lae peil van opvoeding onder die kleurlinge en leer hy besef dat hulle die Nederlandse Bybel nie meer so goed begryp nie, vanweë die afstand tussen die Bybeltaal en kleurling-Afrikaans. Daar is volgens hom 'n behoefte aan 'n vertaling van die Bybel in eenvoudige ,,Afrikaansch-Hollandsch" vir die kleurlinge. Toe gryp hy na die pen en op 7 September 1872 rig hy 'n brief aan die mees gelese koerant van die tyd, De Zuid-Afrikaan, oor "De Bybel in het Afrikaans".

Die brief het vir drie maande 'n byna onafgebroke geskryf oor die Bybel-oorsetting vir die kleurlinge uitgelok, sowel as die taalvorm.

'n Paar het die sienswyse van Pannevis toegejuig, hoofsaaklik op grond daarvan dat die Bybelverafrikaansing vir die kleurling van nut kan wees. Dog byna eenparig is die oorsetting ten behoewe van die Afrikaanse gemeenskap van die hand gewys as 'n onbesonnenheid, of, by die minder uitgesprokenes, as 'n onnodigheid. Afri­kaans was nog "plat" Hollands, veels te plat en sou die verhewenheid van God's Woord deur 'n vertaling laat skade ly.

Tot nou toe was daar nog altyd sprake van Afrikaans as kleurlingtaal, maar op 12 April 1S73 verskyn daar weer in De Zuid-Afrikaan 'n inge-sonde stuk : ,,De Bijbel in Afrikaans" — geskryf deur C. P. Hoogenhout, waarin hy nie net nadruk lê op 'n Bybelvertaling nie, maar veral op Afrikaans as taal. Dit is ook Hoogenhout wat die eerste proewe van 'n vertaling van die Bybel in Afrikaans gegee het: Mattheus 28. Hy het sy vertaling na De Kerkbode gestuur, maar dit het in die snippermandjie beland. Gelukkig het 'n afskrif bewaar gebly. Drie versies skryf ek hier af :

  1. En laat na die Sabbatdag het dit begin lig te word teen die eerste dag van die week (Sondag)
    toe kom Maria Magdalena en die ander Maria om
    na die graf te kyk.
  2. En ziet daar was een groote aardbewing :
    want een engel van die Heer kom van die hemel
    af en rol die steen af van die deur en sit daarop.
  3. En syn gedaante was nes een bliksem en
    syn kleere wit nes sneeuw.

Omdat sy brief in die koerant nie die gewenste uitwerking gehad het nie, het dr. Pannevis hom tot die Britse en Buitelandse Bybeigenootskap gewend. Hy vra die Genootskap in 'n brief van 7 November 1874 om die Bybel in Afrikaans, "'n soort van verbasterde Hollands", te vertaal, en hy beveel ds. S. J. du Toit aan as 'n geskikte vertaler.

Die B.B.B.G. se antwoord was dat hy nie geneë is om 'n "brabbeltaal" te bestendig deur die Bybel daarin te vertaal nie. Toe gelas hy sy sekretaris in die Kaap, ds. Geo. Morgan, om die saak te ondersoek. Hy tree met ds. S. J. du Toit in verbinding, en laasgenoemde belê op 14 Augus­tus 1875 'n vergadering in die Paarl om die saak te bespreek. Hierdie vergadering kom tot die gevolgtrekking dat die tyd nog nie ryp is vir 'n Afrikaanse Bybelvertaling nie, maar intussen gaan hulle oor tot die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners. En nou sluimer die saak van Bybelvertaling 'n paar jaar lank.

Hoogenhout was vol van die noodsaaklikheid om 'n Afrikaanse Bybel te hê en in swakheid, maar gedronge deur die Gees, dra hy sy deeltjie by. In Januarie 1878 het hy reeds die hele Bybelboek Markus klaar vertaal gehad. Die vertaling is nooit gedruk nie,  en bestaan slegs in manuskripvorm.

In 1885 besluit die G.R.A. om met die werk te begin en stel ds. S. J. du Toit aan as vertaler. Sedert 1879 het hy sy aandag aan die werk gewy en verskillende Bybelboeke uit die grondtale, Hebreeus en Grieks, vertaal. In 1889 het die eerste gedrukte proewe van 'n Afrikaanse Bybelvertaling drie hoofstukke uit Genesis beslaan, vertaal deur ds. S. J. du Toit en opgeneem in die brosjure : Die Bybel in Afrikaans. Daarna volg Genesis (1893); Mattheus (1895); Openbaring (1898) en Die Psalms (1907), ens.

Ds. Du Toit se vertalings was egter nie populêr nie. Die vernaamste rede hiervoor was dat die volk nog nie die behoefte aan 'n Afrikaanse Bybel gevoel het nie : hulle was nog tevrede met die Statebybel. En wat die vertalings self betref, was daar 'n neiging by ds. Du Toit om te na aan die gewone volkstaal te kom. Hy besig woorde en uitdrukkings wat 'n mens hinder. So vertaal hy bv. Ps. 23 vers 4 :

"A1 gaan ek deur di kloof fan doodskadewe, ek vrees gen kwaad ni; want U is met my; uwe knopkiri en wandelstok fertroos my."

Tog is die vertalings van ds. Du Toit van groot kultuurhistoriese waarde, en hy sal altyd geld as baanbreker op die gebied van die Afrikaanse Bybelvertaling.

Na die Tweede Vryheidsoorlog begin die Tweede   Tydperk in die geskiedenis van die Afrikaanse Beweging, en ook in die geskiedenis van die Afrikaanse Bybelvertaling.

Ook die Hollandse Kerke word geroepe om stelling in te neem teenoor Afrikaans. "Die Bybel word nie verander vir die eerste 50 of 100 jaar nie, al sou die Afrikaanse taal erken word," is die mening van 'n besliste voorstander van Afrikaans, ds. W. Postma (dr. O'kulis) in 1906. Ook later (1912) redeneer hy nog dat met die Bybel­vertaling moet gewag word totdat daar groter eenstemmigheid heers oor die taalvorm: vir die teenswoordige is  "Afrikaans  nog in die maak".

Hier ontmoet ons by 'n vooraanstaande yweraar wat bo alle verdenking staan, dieselfde manier van redenering met die praktiese besware as uitgangspunt, soos eweneens in die onderwyskringe aangetref is. Maar met die erkenning van Afrikaans het dit amper so gegaan soos dit in die Gesangboek staan : "Het is een wonder in onz' oogen, wij zien maar doorgronden het niet.'' "Regtig," roep Langenhoven uit, "die saak was van die Here, en dis wonderlik in ons oë, te wonderlik om ons eie ervaring te glo."

Met die algemene bewuswording het die behoefte ontstaan om die Bybel te laat vertaal en Afrikaans deur die kerk algemeen erken te kry. Dit geskied binne luttel jare. Reeds in 1914 besluit 'n algemene vergadering van die Gereformeerde Kerk in beginsel tot die stap om die Bybel en belydenisskrifte in Afrikaans oor te sit. Dit blyk dat verskillende predikante van hierdie Kerk ook in Afrikaans begin preek het. In die Vrystaatse Kerk gee die Sinode die vertaling in ernstige oorweging by geleentheid van hul kongres in April 1916; die volgende maand bespreek die Vrystaatse Sinode die punt soos deur ds. (wyle dr.) N. J. van der Merwe voorgestel, en besluit ooreenkomstig om Afrikaans te erken as die offisiële taal naas Nederlands en om die Bybel daarin te laat vertaal.

'n Kommissie word deur die Vrystaatse Sinode belas om in samewerking met die Ned. Geref. Kerk in die ander provinsies en met die Gereformeerde en Hervormde Kerke die geskikste manne vir die taak te vind. Binne 'n week hierop besluit die Sinode van die Verenigde Kerk van Transvaal ten gunste van Afrikaans as offisiële kerktaal en verwys die saak van Bybeloorsetting na die Raad van die Gefedereerde Kerke.

Drie jaar later besluit die Sinode van die Ned. Geref. Kerk in Natal eenparig dat, mits daardeur geen aanstoot gegee word aan gemeentelede nie, Afrikaans as kerktaal gebesig kan word.

In dieselfde jaar kom ook die Kaapse Sinode met ongeveer dieselfde voorbehoud daartoe om Afrikaans naas Nederlands as die offisiele taal van die kerk te aanvaar.

So net Afrikaans dan binne 'n paar jaar sy intrede in die Hollandse Kerke van Suid-Afrika gemaak het met die goedkeuring van die oorgrote meerderheid in die verskillende provinsies soos verteenwoordig op die Sinodes?

Na die erkenning van die gesonde beginsel kom die toepassing, deur die Bybel in Afrikaans te vertaal.

Soos ons gesien het, is dit die Vrystaatse Sinode van die N.G. Kerk wat op voorstel van dr. N. J. van der Merwe die eerste tot die daad oorgegaan het deur in 1916 te besluit om Afrikaans as kerktaal te erken en om die Bybel in Afrikaans te vertaal. Nou word ook 'n Bybelvertalingskommissie benoem wat op sy beurt weer die volgende vertalers aanstel:  dr. J.  D. du Toit, dr. B. B. Keet en dr. T. B. Muller vir die Ou Testament, en dr. G. B. A. Gerdener, dr. F. Postma en dr. N. J. van der Merwe vir die Nuwe Testament.

Die opdrag aan die vertalers was om die Statebybel te verafrikaans. Aan die vertaalwerk was groot moeilikhede verbonde. Afrikaans was in 1916 nog in die maak, die verskillende vertalers het uit verskillende dele van die land gekom, waardeur samewerking en standaardisering grootliks bemoeilik is. Ook moes die vertalers nog eers vertroud raak met enige algemene metodiese probleme.

Die eerste boeke wat vertaal is, was Josua, Hosea en die Johannes-evangelie. In 1919 besluit die vertalers om die Evangelies en die Psalms so spoedig moontlik in druk te laat verskyn om as proefuitgawe te dien. Eers in 1922 was die vertaling gereed. Aanvanklik was die aanvraag daarvoor besonder groot : nie minder as 70,000 eksemplare is verkoop nie. Hiermee was die vertalers baie ingenome, want was dit dan nie 'n bewys dat die proefuitgawe by die volk byval gevind het nie ?

En tog was die volk nie tevrede met die verafrikaansing van die Statebybel nie. Die taal was nog Afrikaans nog Nederlands, maar soos iemand dit uitgedruk het:  "Stompstert-Neder-lands". Die kritiek op hierdie proefuitgawe was deurgaans ongunstig. Hoe boos was Langenhoven nie toe hy die taal getiradiseer het nie :"...om nie eens te praat van eienaardige meervoude soos Fariseer nie. (Wat is die enkelvoud : Fari-meer of Fari-oseaan?)"

Die ontvangs wat hierdie proefuitgawe te beurt geval het, was 'n ontnugtering sowel vir die Bybelvertalingskommissie as vir die vertalers self. Die metode om dienende  predikante as vertalers te laat optree, het nie gedeug nie, want hulle is te besig met hulle herderlike pligte om 'n grondige en ernstige studie van die vak Bybelvertaling te  maak.

Dit het uiteindelik vir die Kommissie duidelik geword dat daar net een uitweg is, nl. om persone vir die werk spesiaal af te sonder, en om uit die grondtale, Hebreeus en Grieks, te vertaal. Daarom het die Bybelvertalingskommissie in Julie 1923 prof. J. D. du Toit en prof. B. B. Keet tot eindvertalers benoem. Prof. Keet kon egter nie verlof van die Kweekskool kry nie, en in sy plek is toe aangestel prof. J. D. Kestell. Later is nog drie vertalers aangestel, naamlik prof. K. E. van Rooijen, dr. H. C. M. Fourie en weer prof. Keet.

In 1924 het prof. Du Toit en prof. Kestell met die werk begin. Hulle het eers hulle werkmetode vasgestel. Prof. Du Toit sou dadelik met Genesis begin. Hulle sou van tyd tot tyd hul vertalings aan mekaar stuur vir revisie. Prof. Du Toit bly op Potchefstroom  en  prof.   Kestell  in  Bloemfontein.

Prof. Kestell het besonder vinnig vertaal, veral as ons in aanmerking neem dat hy reeds in November 1926 sy werk saam met dr. Keet hersien het. "Ek het met die gloed van die jeug met my werk begin. En daar was geen verkoeling aan die gloed nie : die ander dinge het so uit my gedagte gegaan,'' het hy aan prof. Du Toit geskryf.

Die Ou Testament is eers in 1928 voltooi, maar dit is dan ook soveel groter van omvang as die Nuwe Testament. In 1924 het prof. Du Toit reeds die Breë Kommissie laat besef dat daar spesiaal vir die Ou Testament meer kragte moes bykom. Hy het ook verlang dat iemand uit Europa moes oorkom om met die O.T. te help, aangesien die O.T. soveel moeilikhede oplewer. So 'n persoon het hy in prof. C. van Gelderen van Amsterdam gevind.

Prof. Du Toit het baie konsensieus te werk
gegaan. Sy werk was moeilik, en daarom het hy
ook met sy fyn humor opgemerk : ,,Job weier om
Afrikaans_ te praat."                                      "~*~

Na 1928 het die vertalers al hul aandag aan revisie-werk gegee. In Junie 1929 verskyn nou weer die Vier Evangelies en die Psalms. Hierdie vertaling, gemaak uit die grondtale, het dadelik byval gevind by die volk, en die kritiek daarop was byna deurgaans gunstig.

Nou moet ons nog daarop wys dat in 1916 drie taaladviseurs benoem is om te help met die vertaling van die Bybel in Afrikaans. Dit is egter nie voor ongeveer 1925 dat hulle hul werk met erns aangepak het nie. As taaladviseurs is oorspronklik benoem : proff. D. F. Malherbe, T. H. le Roux en J. J. Smith. In 1924 is hulle opnuut aangestel, en prof. S. P. E. Boshoff bygevoeg. Dit was hulle taak om die vertalers van raad te bedien oor die Afrikaanse taalvorm, veral wat betref spelling, woordkeuse en sintaksis.

Die Afrikaanse Bybel is deur die B.B.B.G. gedruk en uitgegee, en in Mei 1933 het die eerste eksemplaar in Suid-Afrika aangekom. Op Sondag 27 Augustus 1933 is die Bybel deur die hele land feestelik in ontvangs geneem. 'n Sentrale fees is in Bloemfontein gevier. As feeslied is gesing :

,,Welkom,  dierbaar  Woord van God, Lig in al ons lewenslot; Bron van leiding, troos en krag, Rigsnoer van ons voorgeslag. Welkom in ons moedertaal, Van die Kaap tot oor die  Vaal."

Hiermee was die werksaamhede in verband met die Bybelvertaling egter nog nie afgedaan nie. Die vertalers het dadelik weer begin met revisie-werk, en die nodige korreksies vir die volgende drukke aangebring. So groot was die behoefte aan 'n Afrikaanse Bybel dat duisende eksemplare verkoop is — ja, byna 'n miljoen!

Met die verskyning van die Bybel in Afrikaans het 'n Afrikaanse Psalm- en Gesangboek 'n dringende noodsaaklikheid geword.

Die Afrikaanse Psalmboek het in 1937 verskyn; die geskiedenis van die beryming is in die voorwoord beskryf.

Dr. J. D. du Toit (Totius), een van die Bybelvertalers, is in 1920 deur die Sinode van die Geref. Kerk versoek om 'n aanvang te maak met die beryming van die Psalms in Afrikaans. In 1923 verskyn van hom : 36 Psalme in Afrikaans. Hy was egter nou so besig met die vertaling van die Bybel dat hy eers weer in 1933 sy aandag aan die Psalms kon wy.

Die ander Hollandse kerke het die wenslikheid van samewerking i.v.m. 'n sangbundel besef, en na heelwat onderhandeling is in 1934 ooreengekom om Totius se benaming as basis vir die gesamentlike Kerksangbundel te aanvaar, onderhewig aan keuring en goedkeuring van 'n gesamentlike revisiekommissie.

Teen die einde van 1934 is ook die hulp van letterkundige adviseurs ingeroep — prof G. Dekker vir die Geref. Kerk, prof. B. C. Pienaar vir die Ned. Geref. Kerk, en mnr. A. J. Coetzee vir die Herv. Kerk.

Na verskeie vergaderings van die Revisie­kommissie is die revisiewerk in  1936 voltooi en kon Die Berymde Psalms in Julie 1937 in ontvangs geneem word.

Gesangberyming

Op die gebied van die Gesangberyming het Langenhoven baanbrekerswerk gedoen — in 1922 verskyn 'n dertigtal gesangberymings van hom onder die titel Gesange in Afrikaans. In 1924 volg Proewe van oorsetting van die Gesange-Bundel in Afrikaans, deur J. F. E. Celliers, P. L. Louw en G. B. A. Gerdener. Dit was egter ondernemings sonder kerklike goedkeuring.

In 1924 het die Sinode van die Ned. Geref. Kerk besluit om, in samewerking met die ander Gefedereerde Ned. Geref. Kerke, die Psalms en Gesange in Afrikaans te laat vertaal veral met die oog op die jeug. In 1928 verskyn 'n Proefliedbundel met 28 Psalms van Totius, 12 Gesange en 62 liedere. Hierdie bundel is nie baie gunstig ontvang nie.

In 1931 het prof. G. B. A. Gerdener 'n tentatiewe uitgawe van Die Nuwe Halleluja gepubliseer, bevattende 75 Psalms, 100 Gesange en 230 liedere.

Na voltooiing van die Berymde Psalms in 1936 is in alle erns 'n aanvang gemaak met die beryming van die Gesange deur die Ned. Geref. Kerke en die Ned. Herv. Kerk. Verskeie vergaderings is deur die Gesamentlike Revisiekommissie gehou. Heelwat van die ou Gesange is weggelaat en vervang deur bewerkings uit die Nederlandse Vervolgbundel sowel as oorspronklike tekste van verskillende digters, soos D. F. Malherbe en E. C. Pienaar. Ds. P. B. Ackerman het as voorsitter en ds. P. H. van Huyssteen as sekretaris van die Revisiekommissie opgetree.

In 1944 verskyn ook die Afrikaanse Gesangboek, en hiermee het Afrikaans Nederlands ook in die kerk volledig vervang.

Metode

As   'n   addendum   wil   ek   nog   iets   meedeel omtrent   die   metode   wat   die   twee   hoofvertalers gevolg het met die vertaling van  die Bybel.

Dit was nodig vir die vertalers om eers die metode vas te stel waarop hulle sou werk voor hulle kon aangaan. Ons weet dat die Statevertalers aImal  in Leiden   bymekaargekom het en daar gewoon het solank hulle besig was met die vertaling. Ons weet dat ds. S. J. du Toit feitlik alleen vertaal  het uit die grondteks, en dat die aktief-belangstellendes sommige Donderdag-aande by hom aan huis bymekaargekom het. Nou het die eindvertalers 'n eie weg ingeslaan.

Prof. J. D. Kestell het aan dr. J. D. du Toit 31  Januarie  1924 geskryf dat hy sy voorstel in die metode steun :

"(1)    Dat ons van voren af aan met Genesis sal begin.

  1. Dat u . . . nou begin met Genesis te vertaal.
    1. Dat u my van tyd tot tyd sal  toesend vir
      revisie wat u klaarkry. —sal wel groot
      ruimte laat vir aantekeninge.

"Nou wat die vertaling betref.  Ons opdrag ;  om   die   Statenvertaling  so  naby   moontlik   te volg. U sal u herinner wat ons daaroor gesels het. My opinie is dat ons aan die opdrag moet voldoen, maar altyd in die eerste plaas dink aan die Afri­kaanse vorm waarin ons die oorsetting giet."

Op 13 Feb. 1924 het hy die volgende woorde aan dr. Du Toit gerig : "Wat is u plan wat betref saamwerk,  saamkonfereer oor die vertaling?

"As ons die een by die ander kom — hoe kan dit gebeur met die minste onkoste ? Ons moet seker verblyfkoste uit ons salaris betaal ? Op Potchefstroom, bv. hoeveel sal dit bedra as ek met my vrou en dogter in 'n losieshuis sou gaan ? Ek sal 'n ekstra kamer moet hê."

Dr. Du Toit het hierop aan prof. Kestell oor die werkmetode op 16 Feb. 1924 o.a. geskryf: ,,Evenwel moet ek my gedagte kenbaar maak, dat dit my wenslik voorkom dat u meteens met die N.T. begin, veral die briewe. Dan sou u op Bloemfontein kan woon — mens werk tog lekkerste in jou eie studeerkamer! U stuur dan u stukke vir my en vise versa. Du Plessis harmonieer dan Ou en Nuwe Testament (hy sal dit uitstekend doen). Dan kan ons bv. Juliemaand in Durban gaan deurbring om saam te spreek. Praktyk leer my as ons saam vertaal dat dit stadiger sal gaan. Bowendien, hoe min sal daar dan einde van die jaar klaar wees. Ek sal u Robertson stuur en dankbaar wees as u al u aandag aan Grieks kan gee, ek sal dit doen met Hebreeus ('n enorme taak)."

Prof. Kestell het dit ook die beste geag om in sy eie woning te werk op Bloemfontein, "en dan lag die idee vir my ook toe, dat ons in die winter na die strand ergens sal gaan, waar ons dan sake kan bespreek.

"Laat die werk dan so gedoen word — soos u aan die hand gee. U werk voort met die Ou Testament — ek met die Nuwe. Ek het trouens al begin, reeds in my vakansie. Ek het my met die eerste brief van die Tessalonisense besig gehou." (Brief, 11 Maart 1924.)

Twee maande later het prof. Kestell in 'n brief aan dr. Du Toit 'n lewendige beeld ontwerp van sy vertaalmetode. Hy het daarin o.m. gesê : "Laat my net een en ander sêoor my manier van werk. Eers maak ek my van alles los, en het net die Grieks voor my. Geen ander geskrif is daar te regter- of linkerhand, behalwe Lexicon en grammatika's. Ek trag so in te leef in die Woord en vertaal so goed as ek kan.  Ek het dan 'n bladsy of vier vertaal, dan revideer ek eers met die State-vertaling, en dan met die Revised Vertaling. Dan lê ek dr. Postma se vertaling naas die werk wat nou so ver gevorder het. Voor my staan daar die Leidse vertaling, 'n ander Hollandse : Kampen, of van Veldhuizen, en Engelse : Moffat, Weymouth, 19th Century, Goodyear. Die Duitse, Franse, selfs Italiaanse en ander raadpleeg ek ook. En dan probeer ek om van prof. Postma soveel te behou as ek kan. Ek het 'n baie hoë opinie van sy werk — en ek vind dat daar veel is wat ek heeltemal mee saamgaan. In 1 en 2 Tess. het ek hom nog nie goed geken en gewaardeer nie, en so verskil wat ek u gestuur het meer van sy vertaling, as die werk wat ek later gedoen het." (Brief van Kestell aan Du Toit,  17 Mei 1924.)

Die volledigste en mees deurtastende verklaring oor die vertalers se metode en vertaal-moeilikhede is te vind in die geskrewe verslag wat dr. J.T du Toit op die vergadering van die BreëKommissie voorgelees het op 7 Augustus 1924.

Vervolg...

U soek na?

KOM KAMP SAAM!

Lees meer oor die CVO Carolina se uitnoding om saam te kamp by  KOM KAMP SAAM!

___________

 

BOEKE TE KOOP

DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK – Christen-Teokratiese Separatisme

'n Boek getiteld DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme, uit die pen van ds AE van den Berg, het pas in gedrukte vorm verskyn. 
Suid-Afrika verkeer tans in 'n kommerwekkende toestand omdat mense se kennis oor die Bybel en die Staat so verwater het dat land en volk as gevolg hiervan ten gronde gaan.  
DIE
VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme,  bring helder perspektief oor rasseverskille en die natuurlike skeiding van rasse wat sal lei tot die herstel van Suid-Afrika. Die land het 'n dringende behoefte aan geestelike transformasie wat landsburgers van denkrigting sal laat verander en van al die sogenaamde polities-korrekte onregte en gewaande vryheid waarmee hulle belas word, sal bevry.
Lesers word aangemoedig om hulle daadwerklik vir 'n Christen-teokrasie in 'n volmaakte republiek te beywer deur sinvolle besluite te neem in die lig van God se Woord, en onophoudelik te bid dat dit spoedig hier aan die suidpunt van Afrika verwesenlik word. Politiek is 'n saak van erns en harde werk waardeur wet en orde gehandhaaf word en durf nie in eerlose hande gelaat word nie. God is 'n God van orde, en mense word aangemoedig om die koninkryk van God eerste te stel, iets wat op staatkundige gebied slegs in 'n Christen-teokratiese bestel tot sy reg sal kom.

U kan hierdie boek bestel by
ds AE van den Berg
Tel: 083 230 5686  of by vryheidsbediening @gmail.com
Prys: R50-00

 

BOEKE TE KOOP

‘n Nuwe Trek: Terug na u God

Die Oerteks van die lotsbepalende 1838-Gelofte

J L du Toit & dr L du Toit

('n Bundel oor die bronne vir die 1838-Gelofte is nou ook by Exclusive Books in Suid-Afrika beskikbaar: 'n Nuwe Trek (Exclusive Books) Prys: ZAR180

Alhoewel die nuutste prys op Exclusive Books se netwerf tans R191 per boek is by http://tinyurl.com/lx9vrs8

... en loot.co.za dit verkoop teen R169 http://tinyurl.com/l26h6jl

... kan u dit vir so min as R60 per boek direk by josefdutoit@gmail.com. bestel.

Lees meer by: 'N NUWE TREK: TERUG NA GOD


ONDERSTEUN U VOLKSGENOTE IN DIE GEVANGENIS

JULIE 2013

Wil u meer oor aktuele onderwerpe lees of vir iemand 'n besondere geskenk gee? Goeie voornemens;  Dink reg, leef reg; Moenie bekommer nie; Leuens; Woestyngedagtes, en Niks ontbreek nie, is van die aktuele onderwerpe wat in twee besondere preekbundels behandel word. Vir slegs R60 elk of R100 vir beide kan u 'n waardevolle bydrae maak vir u volksgenote in die gevangenis. Ondersteun hulle asseblief en bestel nou hierdie preekbundels by ds Andrè van den Berg by vryheidsbediening@gmail.com 

GOD PRAAT MET DIE BOEREVOLK – DEEL 2 NOU BESKIKBAAR

Hierdie bundel, net soos deel I, is saamgestel uit twintig van die beste boodskappe wat sterk op ons volkslewe gerig is. Die inhoud bestaan uit aktuele onderwerpe wat die daaglikse lewe van elke Christen raak. Die koste beloop slegs R60 (posgeld uitgesluit) en is 'n uitstekende geskenk vir die regte persoon. Die inkomste gaan in geheel aan gevangenisdiens vir ons volksgenote.
Plaas u bestelling per e-pos by ds Andrè van den Berg by vryheidsbediening@gmail.com
 


Bestel 'n uitstekende digbundel deur BOERIUS
Volledige besonderhede hier:

Gietoffers van my Siel


vryheidsbediening@gmail.com

 

Kliek op DIE CHARISMATIESE GEVAAR om meer oor hierdie boek te wete te kom
...
 

FILM OOR DR HF VERWOERD

Kyk by hierdie skakel http://youtu.be/TcO3zPF8998

  na die kort film oor dr HF Verwoerd.   
Dit kan ook direk bestel word by Riaan: +27823712682 of by riaan@intellect.org.za

 
 

SKERP SLAGSPREUKE

(Lees die reeks by SKERP SLAGSPREUKE)

'N BIETJIE LANGENHOVEN:

Ek sê nie al die suur mense is Fariseërs nie, maar naastenby al die Fariseërs is suur. In alle geval, solank hulle onthou om Fariseërs te wees. Want dis ook 'n inspanning.
Verbeel jou 'n wêreld sonder 'n skaterlag, sonder eens 'n glimlag. 'n Hemel op aarde, sal die Fariseër sê. Uit so 'n hemel sou ek wou wegloop hel toe.

Die man wat ek na soek, is nie dié wat die minste foute maak nie, maar dié wat die meeste foute régmaak.

Slaap laat solank as jy jou eie baas is en daar sal 'n tyd kom wanneer 'n 'n baas jou sal laat vroeg opstaan.

Ontydige vlyt is die merk van die luiaard. Dis sy verskoning vir ontydige rus.

Ons reken ons geluk vir ons loon en ons straf vir ons ongeluk.

Welvaart is die  dogter van matigheid en die moeder van weelde.

My swaarste pad trap ek self vir my plat, en die swaarste is die wat my voete nooit vat.

Daar is geen kuns by sukkel en geen sukkel by kuns.

Die boer wat nie saai nie sal nie misoeste kry nie, maar hy sal geen goeie ook kry nie.

Het die daeraad lief en die dag sal jóu liefhê.

'n Man wat werklik oor homself baas is, is nooit die kneg van 'n ander nie.

Dis die flukse perd wat flou word. Meer moeite as wat die vlytige het vir sy loon, het die luiaard verniet.

Op die ou end werk die vlytige man vir homself, die luiaard vir 'n ander.

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Kla net oor jou kooi as dit 'n ander is wat dit vir jou opgemaak het.

Hoe korter jy jou kuier maak, hoe gouer sal jy weer genooi word.

Om my naaste lief te hê is vir my 'n sware gebod. Met die mense daargunter kry ek dit nog op 'n manier reg.

Jy sê "ja" waar jy moes "nee" gesêhet omdat jy die ander nie wil aanstoot gee nie. Maar eken hoe het hy jou aanstoot gegee met sy versoek!

Aan 'n nuwe wa kan jy sien of dit 'n goeie skilder was; aan 'n oue of dit goeie wamaker was.

Trek liewer vir jou vriend jou broek uit as om vir hom vir 'n baadjie borg te staan. Anders loop julle naderhand albei nakend.

Die vriendskap wat jy moet koop is 'n duur artikel. Jy sal nie weer jou prys kry as jy dit van die hand wil sit nie.

Moenie vriendskap en besigheid meng nie – jy bederf albei.

'n Man wat nie vyande het nie deug nie vir 'n vriend nie.

Maak jou vriendelikheid goedkoop en hou jou vriendskap duur.

Moenie jou vriend vergeet nie; dit sal hom seermaak. Maak jou vyand daarmee seer.

'n Skare is 'n versameling van eensames.

Stuur die luiaard na die miere, en as hy nie te lui is om te gaan nie sal hy te lui wees om weer terug te kom.

Dis net so moeilik om maklikheid in die ou wêreld te kry as wat dit maklik is om moeilikheid te kry.

Waardeer die werk van jou vrou. Jy kan nie op die aarde 'n ander kneg kry vir dieselfde diens en dieselfde prys nie.

Met spaarsaamheid sal jy uit die kleinste inkomste iets oorhou; met verkwistery sal die grootste vir jou te min wees.

Besorg jou eie boodskap en reken die moeite teen dit wat die misverstand jou sou gekos het.

Het die ryk man nodig om so suinig te wees? Maar hy is nie 'n ryk man wat suinig geword het nie; hy is 'n suinige man wat ryk geword het.

Help jou swakke mededinger op die bene bly.  As hy tot niet gaan, kom daar dalk 'n sterke in sy plek.

  AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES (7)

(Lees die reeks by AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES - die hele reeks

  • Die adderbyt van naberou is verskriklik (Naberou is ontstellend.)
  • Hy het hom in 'n addergebroedesel begewe (Hy was tussen 'n groep nydige, aanvallende mense.)
  • Sy het hom adieu toegeroep (Sy het vaarwel gesê.)
  • 'n Adres van adhesie is 'n geskrif waarin instemming betuig word met 'n versoek.
  • Jy is nou by die verkeerde adres (Jy soek die oorsaak van die kwaad by die verkeerde persoon.)
  • Dit was advokatery (Dit was regskundige uitoorlêery.)
  • Hy sal die werk weer afbroddel. (Hy sal knoeiwerk of slordige werk verrig.)
  • Sy wil elke takie afbrom (Sy kla die hele tyd terwyl sy werk.)
  • Jy kan nou maar afdans (Jy kan nou maar skoert.)
  • Moet hom nie op sy verdienste afdwing nie (Moet hom nie verkleineer nie.)
  • Die ou werkie draf ek gou af (Ek sal dit sommer gou afhandel.)
  • Hulle wil die rusie afdrink (Hulle wil vrede maak.)
  • Sy het soms baie affêrinkies (Sy is dikwels vol nukke en nonsens.)
  • Hy sal wel weer geld van haar affutsel (Hy sal dit op 'n oneerlike manier van haar kry.)
  • Daar kan niks van afgaan nie (Dit kan nie ontken word nie.)
  • Hy sal 'n afgehekste loesing kry ('n deeglike pak slae.)
  • Sy is 'n afgelekte meisie (Sy het al baie kêrels gehad.)
  • Jy lyk so afgesak (Jy lyk baie moeg.)
  • Hy het afgetop gelyk (Hy het verleë gelyk.)
  • As jy iets van hom wil hê sal jy dit moet afgoël (Hy is so suinig!)
  • So 'n afhaler is onnodig ('n Onnodige belediging.)
  • As dit afhang moet ons dit maar opbind (Skertsend wanneer iemand gedurig begin met "Dit hang af..."
  • Na elke partytjie is hy babalaas ( dan ly hy aan die gevolge van te veel alkohol).
  • Daar was 'n Babelse gegons van stemme (Almal het gelyktydig gepraat).
  • Dit was 'n Babelse verwarring (Dit was baie deurmekaar).
  • Hy sal weer mooi broodjies kom bak (Hy sal kom vlei en mooipraat om sy doel te bereik),
  • Hulle eet nie uit een bak nie (Hulle is nie vriende nie).
  • Sy het hom 'n bak gewys (Sy het hom onvriendelik tereggewys).
  • Gou by die bak maar lui by die vak (Hy is eerste daar waar iets te ete is maar traag as hy moet werk).
  • Hy maak sy hande bak (Hy kom bedel iets).
  • Ons moes bak staan (Ons moes hard werk).
  • Dit was sommer 'n bakerpraatjie (Dit was 'n skinderstorie).
  • Jerusalem is die bakermat van die Christelike Kerk ( Dis waar dit begin het. 'n Bakermat was 'n mandjie waarin die baker – die vrou wat 'n pasgebore baba versorg het – die kindjie op haar skoot voor die vuur versorg het).

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Besoekers aanlyn:

We have 2714 guests online