BLOMVROUE

Lees reeks by BLOMVROUE

Aletta Lübbe

DIE ROOSVROU

(Rosa - fam. Rosaceae)

Die roos word wêreldwyd as die koningin van die blomme aanvaar. Die Griekse digteres Sappho het in haar "Ode aan 'n Roos" reeds die status erken. Trouens, die luister en kortstondigheid van hierdie pragblom staan in die ganse wêreldliteratuur opgeteken. In die ou vertalings van die Bybel word die roos vermeld. "Ek is 'n herfsroos van Saron . . ." (Hooglied 2:1). "De Woestijn . . . zal bloeijen alseeneroos" (Jesaja 35:1). En deur die eeue gryp die roos steeds die digter aan, soos vir Thomas Moore:
This is the last rose of summer
Left blooming alone
All her lovely companions
Are faded and gone

Ook Alfred Tennyson sing van "Queen rose of the rosebud garden of girls" en William Butler Yeats treur oor "Red rose, Proud Rose, sad Rose of all my days!"
Ons eie A.G. Visser rou só na die dood van sy geliefde Lettie:
Te kort jou skoonheidsduur
Roos van my hof
Vir jou volmaakte uur
Die Gewer lof
Te kort ons liefdestyd
Te lank die rou
Tog - tot in Ewigheid
Goddank vir jou

Die roos word verbind met die kultuur van baie beskawings. Die oudste gekweekte roos is die Franse Rosagallica wat inheems in Suidwes-Europa reeds in die twaalfde eeu v.C. bekend was. Dit is 500 jaar later as embleem van die Mede en die Perse gebruik.
Met die Romeinse inval is die roos na Engeland gebring. Dit is ook deur die Kruisvaarders uit die Ooste na Brittanje vervoer. Die roos versprei deur Wes-Europa so vroeg as in die sewende eeu, in die agste eeu kom dit vanuit die Midde-Ooste na Spanje in die weste en in die tiende eeu na Indië in die ooste.
Die roos is al in medisyne gebruik en as 'n geurmiddel in die kookkuns. Dit is vanselfsprekend belangrik in die wereld van die kosmetiek. In lande soos Boelgarye en Frankryk word deur middel van 'n ingewikkelde proses olie vir parfuum uit die vars roosblare gehaal. Die kosbare roosolie is een van die allerduurste stowwe in die reukwerk-nywerheid. En die kuns van die reukwatermaker is een van die fynste kunste in die wêreld.
Hoewel van die nuwe soorte dikwels amper geurloos is, is die geur van die roos so kenmerkend dat dit met niks anders verwar kan word nie. Die koel, verfrissende wegraakgeur is net "a rose is a rose is a rose ..."
In die roos ruik 'n mens speserye, vrugte, hooi, ander blomme en teeblare. Geen ander blom is so bekend nie ook in die wêreld van die argitektuur, borduurwerk, skilderkuns en musiek. In die legendes, gebruike, gewoontes en godsdiens van die mens speel die roos 'n rol.
Beroemde name is al aan rose gegee en nuwes word steeds bygevoeg. Daar is die beroemde Meilland-familie waaruit onder meer die alombeminde Peace gekweek is. Presidente, sangers en sangeresse, wetenskaplikes en talle ander se name is al aan rose gegee.
En die vrou in die roos is voorwaar klassiek. Wêreldwyd word sy herken en gereken. Nie omdat sy volmaak is nie (want sy is nie), maar om haar openheid en regskapenheid. Sy probeer nie anders wees as wat sy is nie. Sy is die universele beeld van die vrou in al die stadia van haar lewe.
In die ontluikende jare word die vrou met 'n "tere roosknoppie" vergelyk. Die wit roos versinnebeeld die reinheid van 'n maagd. Brand die vlam van die liefde hoog, gee haar geliefde aan haar die rooiste roosknoppe waarop hy die hand kan lê. In die eerste tuintjie wat beplant word, is daar plek vir 'n paar roosbome. En kom die eerste baba met roosblaar vingertjies en toontjies, loop die jong paartjie se beker oor.
Die lenteroos verwelk gou in die warm voorjaarwind en in die somerhitte. Dit is die herfsroos wat die durendste en die stewigste blomme lewer. En eindelik lê daar teen 'n bleek gesig die laaste roosgeskenk uit die hand van 'n geliefde wat nie saam op die laaste reis kan vertrek nie.
By al haar roem en skoonheid, sit die roos met 'n doring. Want sien sy die seerkry in 'n ander se oë, weet sy skerp en berouvol: nou het ek iemand seergemaak, nou het ek te vinnig gepraat, nou het ek te gou geoordeel, nou het ek 'n druppel bloed laat val. Praat sy onvriendelik of glip 'n afjak uit, weet sy: dis die dorings waarin 'n medemens kan vasgryp. En is haar denke negatief, weet sy ook: dis die dorings wat in die voetpad lê.
Die opregtheid van 'n roosvrou kan met dié van 'n duif vergelyk word. Sy wil nie in 'n ondeursigtige houer versmoor word nie. Sy hou van suiwer glas waardeur 'n mens kan kyk want sy het niks om weg te steek nie. Sy is nie volmaak nie want sy weet saam met Eugene Marais dat daar "in elke roos 'n dowwe blaar" is. Sy vrees die meeldou en die swartvlek en die bont kewer en die genadelose somerson want sy weet niks kan so neerdrukkend soos 'n verlepte roos wees nie.
En daarom gee sy op die regte tyd (en dit is NOU) aan die wêreld die uitnemendste van alle begrippe - die liefde.