Lees reeks by Kort vertellinge - Jan Spies
Engel met ’n Ford
’n Mens sou miskien dink snaaksigheid is afhanklik van lewe — van mense, varke, donkies en sulke goed. Maar dit is nie so nie. Dis net van die mens afhanklik, want as dié nie daar was om dit waar te neem nie, sou dit so goed as nooit gebeur het nie. Die mens moet by wees of niks is snaaks, mooi, lelik, goed of sleg nie. En daarom het daar al tussen die mens en die motorkar net soveel interessantheid afgespeel as wanneer die mens en die donkie mekaar misverstaan.
Daar in Barkly-Oos se omgewing kan dit vreeslik koud word. En een wintermôre toe dit juis so bitter snerpend is, kom twee kêrels met hulle motors in die dorp aan en hulle maak ’n draai by die kroeg vir ’n warmmakertjie of twee.
En dit was die fout van die dag. Want agter ’n motorkar se stuurwiel kan jy liewer koud versigtig as lekker-lekker warm en op jou stukke wees.
Toe hulle na ’n ruk daar uitkom, was hulle lus vir die wiel. Die een wat altyd voor gery het, genaamd Fransie, kon uit ’n motor haal wat in hom sit. Dit was juis vir Koos, wat heel dikwels sy “agterryer” was (hulle het graag saam rondgeflenter), so mooi om te sien hoe Fransie om draaie wegraak en dit tog regkry om op die verwagte plek uit te peul - dit wil nou sê: voorkant waar die pad weer wys.
En so spring die twee daar by die kroeg weg dat jy net strale klippe sien.
Buitekant die dorp is daar ’n steil hoogte met ’n paar skerp draaie. Fransie is om die eerste draai. By die tweede is hy ook om, maar die kinkel tussen die tweede en derde het hom so uitgegooi dat hy sykant toe teen die helling afjaag, spruit toe. Teen die skuinste lê daar toe klippe so groot soos huise, en een van hulle was in die pad. Ewe fluks as wat Fransie normaalweg sy tjor kon vorentoe kry, het hy hom toe ook daar aan sy einde gebring.
Toe Koos om die tweede draai kom, sien hy pleks van stof om die derde draai, Fransie se kar soos ’n skuit op rowwe see oor die klippe en walle teen die rant af op sy laaste vaart. En teen die groot rotsblok is alles verby.
Hy hou stil en hol soontoe af om te sien of daar iets van Fransie behoue gebly het.
Wat hy nie geweet het nie, was dat Fransie op sy kar se agterkussing ’n sakkie meel gehad het - eintlik ’n pakkie meel, want ons is mos al hoeka van die sloop af op die kardoes aangewese.
En die pak meel moes met die slag deur die lug getrek en iewers bo Fransie teen iets, of teen sy kop ontplof het.
En hier kom Koos van agter af en was omtrent so twintig tree van die wrak toe Fransie daar begin uitsukkel, wit — die ene meel.
Net daar het Koos vasgesteek, baie wantrouig. En dit toe gewaag: “Fransie, is dit jy of is dit jou gees?”
Maar so van gees en motorkarre gepraat - ek het in die afgelope tyd darem van wedervaringe gehoor. Die meeste kan ek nie waag om oor te vertel nie. Dis nou van wat die ou mense gedink of gesê of oorgekom het met van hulle-se eerste ontmoetings met ’n motorkar, want hulle het dadelik gedink dat hulle met iets bonatuurliks te make gehad het.
Dit het met baie van hulle omtrent gegaan soos met ’n oubaas doer iewers in die Laeveld.
Hy en sy seun het alleen gewoon. En hulle was groot, sterk, rowwe mense, maar soos die oumense was: nie ydel nie.
En een aand het hulle soos gewoonlik na ete boeke-gevat en sou daarna gaan voete was en dan inkruip, maar die ou oom het die aand pas klaar gebid, toe hoor hulle skielik ’n dreuning.
En die ou oom sê vir die seun: “Maar jong, ek het dan vandag nooit ’n wolk gesien nie. Kyk bietjie.”
En die seun loop tot by die deur. “Pa,” sê hy, “kom kyk — dis ’n lig wat so dreun.”
En hulle staan en kyk na die helder lig wat daar aankom en wat baie duidelik huis toe op pad is. En saam met die lig kom die dreuning. Die ou oom sê: “Jong, sal dit nie die voleinding wees nie? Jy kan nog gaan, maar kyk hier hoe lyk ek.”
En die ou oom sê die seun moet daar in die voorhuisie bly wag. Hy gat trek net gou vir hom iets anders aan — vir ingeval.
En die seun het die lig nog ’n rukkie staan en aanskou, toe maak hy die deur toe en hy gaan sit by die tafel en wag.
En die dreuning word al harder en harder tot dit kortby die deur moes wees, en daar raak dit stil.
Wat die seun natuurlik nie toe geweet het nie, was dat dit so ’n ou dorpsjaapafslaertjie was wat in die omgewing kom vendusie hou en toe verdwaal het.
En die kêrel kom klim in die donkerte met sy wit stofjas aan daar uit en hy loop tot by die deur waar hy gaan staan en klop.
Binnekant het die seun gewonder wat nou. En hy vat die lanterntjie en hy gaan maak die bodeur oop en hou die lamp skouerhoog omhoog dat hy goed kan sien.
En daar staan die gedaante in wit geklee voor horn.
Ná die boekevat en die helder lig en die dreuning en daarby nou nog die witte wese kon daar nie meer plek vir twyfel wees nie.
Toe sê hy so eerbiedig as hy kon: “Naand, Engel Gabriel.”