Lees reeks by Kort vertellinge - Jan Spies
’n Besetting
Ek ry eendag innie Noord-Kaap by ’n oompie an. En ek vra vir hom: “Ai, Oom, kan ek tog nie seblief my mense hiervindan bel nie? Want ek het teuspoed gehad en sal seker môre eers daar by hulle kan uitslaan. Ennis nou so warm” , sê ek, “ ’n mens kannie nou ry nie. Ons sal netnou doer voorkant onner ’n boom gat middag maak.”
Hy sê: “Nou waarom onner ’n boom? Hier sit die huis dan. Bring jou mense, en kom gesels. En dan eet julle ok sommer hier.”
Na ’n ruk is die vroumense toe die huis in en ek ennie oompie bly sit en gesels oppie stoep. Mar die oompie sê orie oproep niks. En ek het al ’n slag-of-wat doer na die gangdeur se kant toe gekyk, want ek het met die aankom na die stoep toe reeds gesien die tellefounkassietjie sit net binnekant die deur teenie gangmuur.
En toe ek dit nie meer kan hou nie, sê ek virrie oompie: “Mar Oompie, sallik nie marie oproep bespreek nie?”
Hy sê toe: “Waarvoor dink jy het ek met jou hier oppie stoep gekom sit? Het jy al ’n aflui gehoor?”
Ek sê: “Nee Oompie. Is die mense dan besig?”
Hy sê: “Jong, van vroe-more af al. Hier’t ek nou ’n errenis, kan ek jou sê. Ek sit hier soos ’n eiland tussen ’n klomp anner mense wat algir femilie vammekaar is - vannie ouma, Ou-Hannie, af tot by die kleingoed uit. En die moejy weet, Ou-Hannie het nege kjinners. En hulle woon almal op ’n streep op hierie lyn af.
“En alles kon nog gegaan het tot Klein-Hannie laasmaand ’n kleintjie gekry het. Mar van toe af gaanit wreed hier met my-sam. Pirty dae sit ek die ronne dag hier om, voor ek ’n kansie kry om ’n woord met iemand anners te breek.
“Want, jong, as darie kleintjie van Klein-Hannie eers ’n skjeet het, dan issit ’n lang skjeet. En dan bel Klein-Hannie een van haar susters. En dan’s die nie daar nie. En dan bel sy ’n anner een. En dan antwoord die derde en vierde gelyk vorie tweede een nog tot by die foun kon gehol het. En dan sit wonner hulle nou daar saam orie foun: wat sil die kjind nou mekeer.
“En dan sê een van hulle later: ‘Jong, bel vir Ma.’ En dan bel Klein-Hannie vir Ou-Hannie as dié nie meddie eerste lui al opgetel het nie. En sy’t elke kjeer ’n vaste klomp sêe. Ek ken hulle al uit my kop uit. Dan gaan die storie omtrent so:
- My kjint het steek innie oor. Jy moet vir hom sy kapie opsit.
- Nee Ma, hy ’t nie steek innie oor nie; hy’t jheel more nog sy kapie op.
- Het hy nie brandstêre nie?
- Nee Ma, hy ’t nie brandstêre nie. Sy boude is so wit soos melk. Ek goi poeier op met elke luiersam.
- Nou my kjint, dan’s dit sweerlik weer ’n wind. Dan moet julle vir hom skud.
- Ons het al vir hom geskud, Ma.
- Dan moet julle vir hom ’n groot knyp koeksoda op ’n ons water ingjee.
- Ons het vir hom dit al gegee, Ma.
- Ja, maar het jy toe vir hom daarna drie druppels Wonnerkroon en twee druppels Paragora en een druppel . . . wat-se-goed . . . ? My kjint, wag, Ma se geheuge is ok nie meer wat dit moet wees nie. Lat Ma eers in haar Dykman of in ou Suster Dinges se boek loop kyk.'
“En dan praat die anner solank Ou-Hannie nou ou miesies Dykman of ou Suster Dinges se boek onner hanne loop neem, en Klein-Hannie raatloos meddie kleintjie voortsukkel.
“En dan vergjeet Ou-Hannie intussen skoon vannie kjint. Want dan kom sy daar in een van die twee boeke op ’n anner interessante ding af.
“En dan hangie anner laters van tyd ook maar een na die anner op orie een ruik kos brand, offie anner wil vensters toemaak oor sy ’n dwarrel hoor aankom, of orie een of anner anner nood.
“En nes dit begin stil raak, dan lui Klein-Hannie sommer deurie ore vannie enkeltes wat nog oppie lyn volhard, om te sê Ou-Hannie kan nou maar ophou lees, want dit was ’n wind ennie kleintjie het hom nou kwytgeraak.
“En net daar begin Ou-Hannie met ’n heel nuwe storie wat sy nou pas innie boek gelees het: ‘My kjint, Ma lees nou daar . . . onthou tog . . . ’ En dan’s dit oor ’n siekte wat g'n mens nog ooit van gehoor het nie. En dan gjee Ou-Hannie allie rate wat dalk daarvoor kan help vir ingeval een van hulle miskjien eendag die siekte of kwaal het.
“En sy’s nog besig, dan hoor jy Klein-Hannie skrou: ‘O heigend, lat ek eers gaan kyk.’ Want dan’s die kleintjie al weer wakker. Maar teen dié tyd het die anner wat intussen hulle-se draaie gemaak het, ok al weer bygekom om saam te luister en saam te praat. En dan sit wonner hulle nou van voor af wat vir hennerplek die kleintjie dan tog nou weer sal hê. En as Klein-Hannie na ’n ruk kom sê wat sy kon wys word, dan sit elkeen al weer reg met ’n straaltjie virrie pot.
“So sallit seker gaan tot die kleintjie eendag groot is, en dan help dit my nou nog niks, want dan begint vry hy . . . ”
Ek sê: “Maar wag, Oom, gee my ’n kans.” En ek tel die foon op. “Maak klaar asseblief,” sê ek. “Ons het die lyn nodig vir ’n hooflynoproep.”
Toe’s daar eers ’n bonnel-groetery vir “Tot netnou,” en een wat sê: “Dis seker hierie ou nuwe sentraalmannetjie wat nou gepraat het. ’n Mens sal mos sweer dis net die anner mense wat tellefounhuur betaal.”
“Jong wag, koebaai eers,” sê die laaste een toe. “Lat ons die lui kans gee om deur te kom. Dalk is dit vir een van ons. En dis dalk siekte.”