KORT VERTELLINGE - JAN SPIES (22)

Lees reeks by Kort vertellinge - Jan Spies

Bekveld se geld

In die jare her toe onderwys nog nie verpligtend was nie, pas Klein-Joof Bobbejee - eintlik was hy Josef, wat Joof geword het - en ’n klong, Paulus Cornelius, doer in die Noordweste skape en bokke op.

Klein-Joof kon al uit die skool gewees het, toe was hy nog nie daar in nie, en toe was dit natuurlik vir geheel te laat, want wie kan dan nou vir Sub A met ’n lei en ’n griffel in die een en ’n skeermes in die ander hand gaan pak? Maar Klein-Joof se'ma, ou tan’ Gollie, wou nie he haar Jofie moes ongeletterd grootword nie. Daarom leer lees en skryf sy hom toe so goed sy kon. En sy leer hom somme maak.

Die leerdery het nie lank geneem nie, want toe Klein-Joof net so op ’n manier touwys was, het sy ma gereken dat hy sterk genoeg staan om hom verder self te kon help. “Nou’s dit net ’n kwessie van oefen,” het sy gesê. Daarvoor was Paulus Cornelius net die regte hulp, want al was dit nie vir hom nodig om te kon lees en skryf nie, mog hy ten minste nie sonder die Woord opgroei nie. En daarom moes Klein-Joof bedags in die veld vir hom uit die Bybel lees. Elke dag ’n stukkie — van voor af tot agter uit sodat hy kon hoor wat die hele Bybel sê en sodat Klein-Joof die hele Bybel kon leer lees, want tan’ Gollie het gedag dat jy Hom nie heel kon lees as jy Hom nog nie ’n slag heel geleer lees het nie.

En omdat vee-oppas ’n vervelige werk is, met baie tyd, het Klein-Joof nog voor dit die tweede keer reëntyd was, met Paulus Cornelius by Openbaring 22 aangekom. Van toe af kon hulle agter elke dag se smake aan lees. En later toe ken hulle die Bybel so goed soos die veld waarin hulle die skape en bokke laat wei het.

Teen dié tyd was dit nie meer vir Klein-Joof nodig om net behoorlik te probeer lees nie, nee, toe oefen hy al om mooi te lees. En hy sukkel ook nie meer om reg te skryf nie; hy het toe al so ver gevorder dat hy mooier en mooier probeer skryf, tot hy later, wat die mense in daardie dae genoem het, ’n “copper plate handwriting” gehad het. Maar Klein-Joof het nie net geoefen nie, en hy en Paulus Cornelius het ook nie net oor die Bybel gepraat nie. Hulle het begin drome droom oor makliker werk as vee-oppas. Hulle het begin wonder waaruit daar alles geld gemaak kan word. En gelukkig het hulle reg gewonder, want hulle het begin droom uit die wêreld wat hulle ken. Net een ding was daar vir geldmaak: droë hout. Oral in die rivierlopies en leegtetjies was daar dooie bome en bosse. Daarom besluit hulle om Ou-Joof se wa te leen en dan een dag per week so agter die vee aan die wa vol te laai. Die volgende dag kan Paulus Cornelius alleen na die trop kyk, en Joof kan dan met die hout in die dorp gaan smous.

Op ’n aand vertel Klein-Joof vir sy pa van die plan. Ou-Joof sê: “Maar, man, jy kan nie sommer net wil loop smous nie. Jy het ’n liksens nodig. Ons sal moet na die poelieste toe.”

En toe Ou-Joof weer moet in dorp toe, neem hy Klein-Joof saam en hulle gaan kry ’n lisensie by die polisie. Maar daar kos dit ’n sjieling, en Ou-Joof kan dit net nie afknyp sonder dat sy begroting vir ’n paar maande nie sal klop nie. Die voorwaarde vir die leen is toe dat Klein-Joof en Paulus Cornelius minder sout in die pap sal goi tot Ou-Joof die sjieling uit die spaar trug het. So kry Klein-Joof dan die lisensie. En hulle ry huis toe. Die eerste keer daarna wat ou tan’ Gollie self op die dorp wil wees vir garing en Duitse sis, en Klein-Joof haar moet neem, vat hy sommer vir die probeerslag ’n vraggie hout saam. En hy verkoop alles vroeg-voormiddag nog. En hy ry trug winkel toe om sy ma te gaan oplaai.

En daar loop hy en die prokureur van die dorp se seun mekaar voor die winkel raak.

Dié vra vir hom in watter skool hy dan is lat hulle mekaar nie ken nie.

Nee, hy is nie in die skool nie, vertel Klein-Joof. Hy het sy eie besigheid.

Nou, wat se besigheid?

Ja, hy verkoop hout.

En daar begin spot die prokureur se seun met hom, en ou tan’ Gollie kom op die spulletjie af— net mooi om te hoor hoe die vreemde seun vir Klein-Joof sê dat hy natuurlik nie kan lees en skryf nie.

Dit was vir haar eens-teveel, en sy het die twee die winkel daar in. Binne reël sy ’n kompetisie. Elkeen kry ’n vel papier en ’n potlood en hulle moet die eerste versie van die Bybel neerskryf. Die een wat dit reg kan skryf, en die mooiste handskrif het, die is die wenner.

Klawinski, die winkelier, is die beoordelaar.

Daar ken die prokureur se seun nie die eerste versie van die Bybel nie, en geen ander een wil hom ook byval nie. “Nou skryf jou naam, lat ek sien of jy dit kan spelle,” grom tan’ Gollie vir hom.

Teen die tyd het al wat in die winkel was, natuurlik al nader gestaan om te sien wat word. En dit was vir tan’ Gollie te lekker.

“Kyk hoe simpel skryf hy, en dan spot hy met my kind,” sê sy, en hou die papier vir die mense om te sien. “Dit lyk soos waar ’n vlie wat in die inkpot geval het, oor die pampier geloop het.”

En sy wys ook wat Klein-Joof kon regkry. Die wen natuurlik.

En daar’s die prokureur se seun druipstert na sy belangrike pa toe om te gaan vertel van die houtverkoper en die vernedering.

Die prokureur sweer wraak.

Ná die sukses besluit Klein-Joof en Paulus Cornelius om sommer die volgende week ’n vol vrag hout op die wa te laai. Want om geld te hê, was lekker, en Ou-Joof was buitendien so bly oor sy sjieling wat so gou trugbetaal is, en omdat dit glad nie meer vir hom na ’n waagstuk gelyk het om Klein-Joof sy eie kop te laat volg nie, dat hy met die haastigheid ingestem het.

Sommer met die inry in die dorp in skree Klein-Joof toe hulle regoor die eerste groot huis kom: “Hout om te verkoop!” Want hy sien daar’s sommer baie lewe in die huis.

Toevallig is dit toe die prokureur se plek met ’n hele klomp vername gaste en kliënte op die stoep, want die prokureur se kantoor was in die een stoepkamer ingerig. En die prokureur sien deur die venster die wa vol hout, en aan die beskrywing wat sy seun gegee het, eien hy vir Klein-Joof. En hy spring op en hardloop tot op die stoep. “Hoeveel wil jy vir die hele vrag hê?” skree hy terug.

“ ’n Pond, Oom.”

“Nou, laai maar af hier agter die huis en dan kom haal jy jou pond hier in my kantoor,” skree hy weer.

En toe hy dink Klein-Joof is haas klaar met die aflaaiery, nooi hy die mense van die stoep af in sy kantoor in, en hy vertel hulle wat met sy seun gebeur het. En nou wil hy hê hulle moet die spaas geniet as die houtverkopertjie met hom deurmekaarloop.

En daar kom Klein-Joof met die hoed in die hand die kantoor in.

Die prokureur haal twee pondnote uit sy sak en sit hulle op die tafel neer.

“Jy ken mos die Bybel so goed,” sê die prokureur. “Ek gaan jou nou een vraag vra, en as jy vir my die antwoord kan gee, vat jy altwee ponde. Maar as jy verkeerd antwoord, dan is hulle myne.”

Klein-Joof bly maar stil, want wie is hy dan nou om teë te praat?

En die prokureur dink aan die moeilikste Bybelvraag wat hy uit sy kinderdae kan onthou.

“Wie was Moses se pa en ma?”

“Amram en Jogebed,” se Klein-Joof sommer sonder om eintlik te dink, en hy gryp die twee pondnote.

Hy staan so ’n rukkie daarmee in sy hand en toe sit hy hulle weer op die tafel neer. Hy wil vir die oom ook ’n vraag vra, sê hy, maar dan moet die ook twee pondnote daar neersit. En die wenner kry al die geld.

Die prokureur het toe nie bra veel van ’n keuse nie. Klein-Joof sê: “Oom het vir my ’n vraag gevra van doer baie lank trug af, en ek het vir Oom die antwoord gegee. Ek wil vir Oom ’n vraag hier uit ons eie tyd vra.”

“Ja,” sê die prokureur, “vra maar.” Want hy dag die mense kry seker kwalik ’n koerant. Wat sal hulle dan nou juis weet van wat daar in die wêreld aangaan?

“Oom het gevra wat Moses se pa en ma se name was, maar nou wil ek van Oom weet wat my pa en ma se volle name is. Hulle is mos mense van nou-se-dae,” sê Klein-Joof.

Die prokureur staan nog verslae oor die onkantvraag, toe gryp Klein-Joof die vier note en steek hulle in sy sak. “Kyk, Oom,” sê hy, “as ek weer aan Oom hout verkoop, dan vra Oom vir my net een vraag: Wat is die prys? En ek sal die regte antwoord gee.”