Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die lewe is soos ‘n eenrigtingstraat. Dit maak nie saak hoeveel ompaaie jy neem nie, nie een van hulle lei terug nie. Ons beweeg altyd vorentoe. Van een ding kan ons baie seker wees en dit is dat ons lewe ‘n einde gaan kry.
BRIEWE AAN CHARLES (SLOT)
Gerhard Viviers
Lees reeks by Beste Charles... Van Gerhard
Blyke van waardering
Die aand met jou uittrede as sekretaris van die Suid-Afrikaanse Krieketunie was dit vir my 'n besondere voorreg en eer toe ek gevra is om ook 'n toespraak by die sprankelfunksie te maak. Daar was oor ’n duisend gaste teenwoordig en die gasspreker was regter Cecil Margo. Dit was 'n deftige aandpak-affêre. Ek kon nie glo dat die aandpak wat ek in 1965 vir ons kriekettoer na Engeland gekoop het, twintig jaar later nog nommerpas sou wees nie.
Ek het uit die hart gepraat en was seker ’n bietjie emosioneel in my huldeblyk aan jou. Ek het, soos jy, ’n knop in die keel en ’n nattigheid onder die oë gekry. Dit was goeie jare wat ons saam gehad het op ver paaie in Frankryk, Engeland, Spanje, Portugal en Duitsland en die talle sportvelde in die mooi land van ons.
Jy het my altyd “mate” genoem omdat jy nie die “G” in my voornaam kon uitspreek nie. Op my beurt kon ek weer nooit vir jou op jou voornaam noem nie want ek is geleer om respek te betoon aan my meerderes. Die ou volkie van my het die gewoonte om vir iemand wat tien jaar ouer is as hulle “oom" te sê. Julle Engelse hou nie daarvan nie en dus was “uncle Charles” uit. Ek wou jou ook nie “Mr Fortune" noem nie want ons twee was goeie vriende. Dus het ek jou nooit iets spesifiek genoem nie. Ek het die dinge die aand in my toespraak genoem en dit was vir my wonderlik toe jy in jou bedanking gesê het: “Speakarish, I now insist you call me Charles.” Dit was die eerste keer ooit dat jy my bynaam gebruik het. Ek het dadelik gedink aan ons vriend Louis Duffus, gevierde sportskrywer van The Star, wat my “Liquorice” genoem het. Die ou is ook nie meer met ons nie. Ek dink nou sommer met nostalgie terug aan die klompie kere wat ek saam met hom op sportpaaie oorsee was. Hy was nog ’n waardige Engelsman wat om die een of ander rede aanklank by my as Boertjie gevind het.
Ná daardie aand met jou afskeidsfunksie het ons eintlik net verder telefonies kontak gehad. Jy het baie minder radiokommentaar begin lewer en ek is nie meer daarvoor gebruik nie. Ek het my laaste radio-uitsending ’n week ná my uittrede met vroeë pensioen in 1981 gedoen. Dit was my 51 ste uitsending van 'n rugbytoetswedstryd. Dié dag het die Springbokke die lere geklop op King’s Park in Durban, daar waar ek veertien jaar gelede my eerste toets uitgesaai het. Vir my was dit 'n hartseer oomblik, maar die troos was darem daar. Met my afskeid by die SAUK is aan my gesê: "Jy is darem ’n gelukkige blikskottel. Nou kan jy gaan boer en nog gereeld vir ons sport uitsaai.” Soos jy weet, Charles, is ek nooit weer toegelaat om agter 'n radiomikrofoon in te skuif nie. Ek het wel ’n klompie rugbywedstryde oor TV behartig. Ek het net die vreemde medium op ’n plan begin bemeester toe my vlerkies ook hier geknip is. Al die dinge was vir my 'n groter hartseer terugslag as die verlies van my stem. Vandag is ek seker vir niemand op die gebied van uitsaai meer ’n bedreiging nie. Ook nie meer die slagoffer van professionele jaloesie nie. Ek sit op die kantlyn en is nie meer die skyf van onbekwame amptenare nie. Ek wil net graag die aangename oomblikke en ware vriende soos jy onthou. Ek verlustig my lankal nie meer in die terugslae van hoofrolspelers in die onnodig onaangename sy van my verbintenis met ons geliefde ou SAUK nie.
Op die aand van 24 April 1991 het ’n groot verrassing op my gewag. Ek is genooi vir ’n funksie by die Polisiekollege in Pretoria. Toe ek daar aankom, het 'n horde sportmanne uit alle oorde op my gewag en ek moes hoor dat die funksie ter ere van my gereël is. Daar was ’n groot wit rugbybal met die woorde "Sport bring hulde aan Spiekeries" daarop. Almal wat opgedaag het, moes dit teken.
Ek wou dadelik by die gasheer weet of jy genooi is en of jy kom. Jy kon nie daar wees nie en jou verskoning is aan my oorgedra. Aan tafel is 'n netjiese gedrukte program aan almal teenwoordig oorhandig. Op een van die binneblaaie was daar ’n geskrewe huldeblyk van jou. Dit het weer die knop in die keel en 'n traan in die oog gebring. Ek het elke woord en jou goeie wense net soveel waardeer as die teenwoordigheid van baie van die groot sportmanne met wie ons saam getoer het. Ali Bacher het so ’n mooi toespraak gemaak en verwys na ons besondere vriendskap en hoe hulle dit geniet het om saam met ons te toer. Saam met hom was daar onder andere Graeme Pollock, Tiger Lance en Denis Lindsay. Onder die talle rugbymanne die aand was Frik du Preez, Jan Ellis en Syd Nomis.
Dit is nog ’n aand in my lewe wat ek nooit sal vergeet nie. Die SAUK se geskenk aan my was ’n groot skildery van myself geskilder deur Ivor van Rensburg. Dit, saam met die program, getekende bal en ander aandenkings is vir my kosbare besittings wat bewaar word.
Ek dink so baie keer terug aan daardie dag op die vlug tussen Spanje en Duitsland toe jy van my wou weet waarom ’n volbloed-Engelsman soos jy van my hou. Op ’n kol het ons oor sneeubedekte berge in helder sonlig gevlieg. Dit was skilderagtig mooi. Ek het die opmerking gemaak dat ek my voorstel dat die hiernamaals so sal lyk. Jou woorde was: “I wonder, when they cover up Charles Fortune, if it won't be final.”
Charles, mag ek nou sê, jy was so 'n goeie mens dat jy nooit oor so iets hoef te getwyfel het nie.
Ses jaar sedert my operasie is nou verby. Ek moet dit as genadejare beskou. Verlede maand is daar ’n biopsie geneem van 'n lastige knoppie aan my keelvel. Die dokter kon nie verstaan dat die ding met die grend naam van “plaveiselkarsinoom” weer gediagnoseer is nie. Dit is dieselfde soort kanker wat my oorspronklik beetgepak het. As gevolg van ’n gebrek aan weefsel in die omgewing van die groeisel sal dit ’n baie moeilike en delikate operasie verg om dit te verwyder. Daar is dertig bestralings met neutron op my uitgevoer. Dit is glo baie meer effektief as die oorspronklike kobaltbestraling wat ek byna sewe jaar gelede gehad het.
Miskien gaan dit werk. Ek het in ieder geval lankal vrede gemaak met die situasie en geleer om te aanvaar wat ek nie kan verander nie.
My vriend, ek het op 18 November 1995 met jou begin gesels en herinneringe opgediep. Ek hoop jy het dit geniet, al klink dit soms ietwat deurmekaar. Maar nouja, soos so baie dinge in die ou lewe het ’n mens mos nie beheer oor jou gedagtes nie.
Dit het tyd geword om vir oulaas te sê: “Goodbye, Charles”, en tot daardie ander dag aanbreek: “Hallo, ou seun en baie dankie!”
Groete vir oulaas,
Gerhard.