DIE DIGTER A D KEET

 Dr  A D Keet was in die vroeë jare van die vorige eeu feitlik langer in Holland woonagtig as in Suid-Afrika, maar hier in sy vaderland is hy telkens betower deur die wonderlike atmosfeer wat hy ervaar het teen skemeraand op die stoep van ’n boereplaas:

 

AWENDMYMERING

Dis stil ...
Geen blaartjie roer
En die hele werf
Rus sag in die skoot van diepe vergetelheid.
Die dag is dood
En lê begrawe  -
Stil.


Net soos op Sabbat-môrens ‘n tortelduif
Die stilte in die lug nog stiller maak,
Deur af  en toe te koer en dan te swyg –
So kan jy hoor
Daar onder by die voor,
Waar nou net modder van vroeëre strome vertel,
Hoe die paddatjies die ontsaglike stilte verstoor.
Hulle kwik en kwek en kwaak,
Dat dit kraak!
Om dan weer almal op te hou –
Ineens!
Maar nie vir lank nie;
Ontevrede bid
En soebat hul vir reën  -
Hulle ween,
En gaan dan slaap, vermoeid en uitgeput.

Ver
In die veld
Gaan ‘n skreeuende kiewiet te keer
Hy vlieg op en neer,
Heen en weer,
Verskrik
Deur ‘n jakkals wat tjank in sy buurt ...
Dis roerloos stil.

En die sterre,
O God, die sterre!
Hoe mooi
Is die firmament versier
En uitgetooi,
Asof daar altyd feeste word gevier
Daar bo in die hemel,
Ver  -
Ver van hier !