Ek het van jongsaf die pragtige gedigte wat Jan Celliers ‘n honderd jaar gelede geskrywe het, baie geniet. Sommige daarvan se bekoring lê in die eenvoud daarvan, wat die dieper betekenis duidelik verbeeld. Ons gaan nou drie van hulle saam geniet:
WAGHONDJIES
Ek is hier, en ma is hier,
ons twee lê op baas se baadjie.
Wie is jy?
Kom, loop verby!
anders word ons knor ‘n daadjie –
kry jou bene dalk ‘n hap,
kry jou broekspyp dalk ‘n gaatjie.
Mooipraat? Nee, ons ken jou nie.
Weg jou hand, en raak ons nie!
“Oppas,” het die baas gesê,
“tot ek weerkom, hier bly lê!”
Op ons pootjes lê ons kop,
maar ons hou jou darem dop,
toe-oog slaap ons op die baadjie,
maar ons loer nog deur ‘n gaatjie –
één oor plat, en een oor op,
pas-op!
MA EN PIETJIE
Dis moeder Makou en haar kleine Piet.
As jy nader kom, dat sy dit siet,
dan lig sy haar kop en kyk vir jou
asof sy vra: “Wat is dit nou?
“Wil jy Pietjie hê, wil jy Pietjie steel –
“my liewe klein bolletjie goud-ferweel?”
En sy sê met haar omdraai al skuddend haar stert:
“Nee, die hele wêreld is Pietjie nie werd!
“Kom ons loop.” En hy volg haar in trippeldraf klein
op sy sagte voetjies van geel satyn.
STILLE WERKERS
Oúbaas sit oordwars op ou Geduld
Met nek omlaag, en oë op die grond,
so dra hy oubaas huistoe, stap vir stap.
Oúbaas pof ‘n rokie uit sy pyp,
so nou en dan, teen rooi van awendlug
en praat ‘n woordjie met sy goeie ou maat.
Daar’s goudlig in sy baard; en die aandson gee
die ou perd ‘n laaste rapsie oor sy kruis.
En stil is hul oor dagtaak afgedaan,
en stil sal hulle môre weer begin –
tot eendag ook oor hul die velde swyg.
(In ‘n volgende aflewering gaan ons vir u ‘n paar van sy pragtige vaderlandse gedigte gee om te geniet).