CANTO LAMENTOSO IN A

Hierdie klaaggedig van A G Visser  kom uit sy pelgrimsjare uit.  Dis nie te sê dat hy nie van mooi musiek en sang gehou het nie, maar ons stem met hom saam dat wat te erg is, darem nou eenmaal te erg is!  Geniet dit saam met ons:

Ek verdien ‘n martelaar se kroon
Na al my folteringe:
Die dametjie wat bo my woon
- Miskien ook my verdiende loon -,
Leer net Musiek en Singe.

Vertwyfeld sug ek menigmaal:
“Erbarm U,”- maar in vano
“Ag, handel sag met die pedaal;
“Speel die vermaledyde skaal
“Eén liewe maal piano.

Die sleutel van die tempeldeur
Het sy nie – cruda sorte.
Al is die toonsoort ook majeur,
Haar soort van toon bly steeds mineur –
Nee, sing is nie haar forte.

Ek verduur die liewe, lange dag
Mozart, Beethoven, Handel;
Etudes, morceaux tot in die nag;
Maar ek sal – één fuga weer van Bach –
My bed opneem en wandel!

Nooit rus die Russe –ski en off;
Al het sy min besef-ski
- Wat nou? - ,  sy speel Rachmáninoff.
Tchaikowski, Rimski-Korsakov . . . .
O skim van Paderewski!

Ek het die virtuoos verwens
Met watte in my ore:
“Geen musikaal-begaafde mens”
- Ek erken die onbeskaafde wens –
“Word weer op aard gebore!”

Nou stilte na die storm.  So rus
Dan eind’lik, ruwe Nore:
Grieg, Palmgren en Sibelius.
Slaap kom in my moeë oë kus . . . .
Da Capo . . . . weer vanvore!

Kon ek net vir ‘n week of twee
Klavier speel soos Busoni,
Sforzando sempre speel – ja née -,
Ek sou my gevoelens uiting gee
Con gran espressione!

Ek dink al in solfeggio,
In frase en nuance;
Ek droom al in arpeggio
Die note dans prestissimo
Macabre
dodedanse.

Kon dit wel erger?  Ek vrees dit kon.
Sy kon my skoon verdwaas het;
Sy kon die grote bombardon,
Sy kon die mond-melodion,
Die doedelsak geblaas het!

En dan is daar ‘n ander ding,
Dink ek by my alleentjies:
Kon sy soos ‘n kanarie sing,
Had tien teen één die stomme(?) ding
Ook nog kanariebeentjies.

Ek verneem. . . . nog net drie maande meer,
Dan doen sy haar eksamen;
Dan gaan sy arme kleingoed leer –
En dié  sal haar weer tormenteer . . . .
Lof, Halleluja, Amen!