ONS VOLKSLIED

Voordat ons dié pragtige, besielende woorde in al vier die strofes wat Langenhoven vir ons geskryf het heeltemal vergeet omdat ons dit nie meer sing nie want die Afrikaanse weergawe is nie deel van die volkslied van die huidige kommunistiese bedeling in Suid-Afrika nie, plaas ons weer hierdie besielende gedig en gebed van Langenhoven; eers so bietjie agtergrond daaroor:

Die woorde van ons Volkslied wat vandag nog, selfs onder die hiel van 'n swart kommunistiese regime, deur reggeaarde Afrikaners gehuldig en geëer en as enigste volkslied van ons volk beskou word, is geskryf deur ons onvergeetlike CJ Langenhoven en wel op 31 Mei 1918 in die eetkamer van 'Arbeidsgenot', sy woning op Oudsthoorn, terwyl sy vrou "soos gewoonlik aan die eenkant van die tafel haar werkies gesit en verrig het". In sy eerste poging het hy slegs die eerste drie verse voltooi.

Toe die drie verse kort daarna in 'Die Burger' verskyn onder die skuilnaam 'KNR' – letters geneem uit 'Kerneels', 'n geliefde skuilnaam van hom – het hulle dadelik groot byval gevind en in een van die briewe wat die gedig verwelkom het, is gepleit:

"Die Afrikaner is 'n godsdienstige volk; sal die digter nie 'n vers bysit wat ook aan hierdie gevoel uiting gee nie?" Gestreel en aangemoedig deur hierdie versoek het Langenhoven dadelik die pragtige vierde vers geskryf.

Wat die musiek van ons volkslied betref, het dit nie so maklik gegaan nie en het baie jare verby gegly voordat die volk tevrede gestel kon word dat die pragtige woorde van die digter tot hulle reg kom op die maat van 'n pakkende, waardige en verhewe komposisie wat ons in staat stel om uit volle bors, met trots en met geesdrif, uiting te gee aan ons gewilligheid om ons lewens op die altaar te plaas wanneer die stem van ons geliefde vaderland roep.

Gelyktydig met die opstel van die eerste drie verse het Langenhoven ook sy komposisie vir die musiek bygevoeg. Sy wysie het egter nie byval gevind nie, en daar was 'n geroep van alle kante dat komponiste uitgenooi moes word om paslike musiek vir die woorde te verskaf.

Onder andere het ds ML de Villiers, destyds predikant van die Nederduits
Gereformeerde gemeente van Simonstad, die taak aangepak. Sy eerste poging het nie geslaag nie. In Mei 1919 was hy een dag besig met doopseëls. Terwyl hy hulle sit en uitskrywe flits daar 'n gepaste wysie deur sy brein. Hy gryp 'n stuk papier, trek vlugtig vyf ewewydige lyne daarop en plaas 'n paar note op die lyne om te verhoed dat hy die wysie vergeet. Hy het voor die klavier gaan sit om die nuwe wysie uit te toets. Dit het pragtig by die woorde gepas, en nadat hy dit bietjie uitgebou en oor en oor uitgetoets het, roep hy uit: "Ou vrou, ek dink ek het nou die regte wysie vir Die Stem!"

Langenhoven het van hierdie wysie gehou en dit is gepubliseer sodat die volk sy uitspraak kon gee. Jare lank is dit egter saam met ander toonsettings gebruik.

In 1932 het die pasgestige Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniging (FAK) 'n wedstryd uitgeskryf vir sowel die woorde as die musiek van 'n volkslied. Vyf en veertig gedige het ingekom en veertig toonsettings. Die gedig van Langenhoven en die toonsetting van ds ML de Villiers is eenparig deur die keurkomitee van die FAK in 1936 aanvaar.

Op 2 Mei 1957 het die Regering 'Die Stem van Suid-Afrika' tot die enigste volkslied van die Unie verhef. Suid-Afrika was gelukkig om 'n volkslied te besit waarop hy regmatig trots kan wees. Dit gee uiting aan edele en kragtige gewaarwordinge wanneer dit gesing word, en daarby stem dit tot toewyding aan ons vaderland en tot gereedheid om te sterwe as hy roep.

Mag ons land en volk sodanig herstel dat ons weer hierdie kragtige lied as enigste volkslied terugneem en dit met trots uit volle bors kan saamsing.

DIE STEM VAN SUID-AFRIKA

Uit die blou van onse hemel, uit die diepte van ons see,
Oor ons ewige gebergtes waar die kranse antwoord gee,
Deur ons vér verlate vlaktes met die kreun van ossewa –
Ruis die stem van ons geliefde, van ons land Suid-Afrika.
Ons sal antwoord op jou roepstem, ons sal offer wat jy vra:
Ons sal lewe, ons sal sterwe – ons vir jou, Suid-Afrika.

In die merg van ons gebeente, ins ons hart en siel en gees.
In ons roem op ons verlede, in ons hoop op wat sal wees.
In ons wil en werk en wandel, van ons wieg tot aan ons graf
deel geen ander land ons liefde, trek geen ander trou ons af.
Vaderland ons sal die adel van jou naam met ere dra:
Waar en trou as Afrikaners, kinders van Suid-Afrika.

In die songloed van ons somer, in ons winternag se kou,
In die lente van ons liefde, in die lanfer van ons rou,
By die klink van huw’liksklokkies, by die kluitklap op die kis –
Streel jou stem ons nooit verniet nie, weet jy waar jou kinders is.
Op jou roep sê ons nooit nee nie, sê ons altyd, altyd ja:
Om te lewe, om te sterwe – ja ons kom, Suid-Afrika.

Op u Almag vas vertrouend het ons vadere gebou:
Skenk ook ons die krag, o Here, om te handhaaf en te hou –
Dat die erwe van ons vaad're vir ons kinders erwe bly:
Knegte van die Allerhoogste, teen die hele wêreld vry.
Soos ons vadere vertrou het, leer ook ons vertrou, o Heer:
Met ons land en met ons nasie sal dit wel wees, God regeer.