AFTAKELDAG ̶ VALSHEDE

Johan Dorfling

Verdraaide bewerings wat op 27 April (Aftakeldag) verkondig word, moet voortdurend besweer word. Vyandiges maak talle ongegronde bewerings teen die Afrikaners sonder enige bewyse of betroubare verwysings. Verlede jaar se betrokke persone se name word nie hier genoem nie omdat dit verkeerd sou wees om aandag op hulle te vestig wat dit nie verdien nie. Valsheid is verwerplik.

Daar is gesê dat dr. Verwoerd geen waarde kon sien om ‘n swart kind in wiskunde of wetenskap te onderrig nie omdat hulle dit nooit nodig sal kry nie. Waar is enige getuienis dat hierdie bewering waar is?  Hy het juis voorgehou dat elke landgenoot sy eie toekoms moet skep. Landgenote sluit alle bevolkingsgroepe in en nie net volksgenote nie.

Ook is gesê dat apartheid ‘n gemors nagelaat het sonder dat daarop uitgebrei word. Dit is ‘n wilde bewering asof dit ‘n feit is terwyl dit vals is.

Fopnuus is mos ‘n sterk neiging by mense wat geen saak het om te stel nie. Terselfdertyd is beweer dat apartheid ontwerp was om blankes te bevoordeel  – ja, in blanke grondgebied, en swartes in hulle eie uitgebreide grondgebiede.

‘n ANC raadslid vir Pretoria het in 2013 kenne gegee dat Jan van Riebeeck aan Pretoria sy naam gegee het sonder om uit te vind aan wie die grond behoort. Valshede!

Hoe klink die volgende:-  “Swartes het glo nou dieselfde regte en vryheid (as die blankes), maar die gehalte van hul lewens is glo steeds minderwaardig.”  Hulle eie leiers was die afgelope 24 jaar verantwoordelik vir hul lewenstandaard!  Dit is net verdagmaking. Blankes was glo verbied op enige voordele in die tuislande. Wat daarvan?  Dit was mos reg net soos swartes se voordele in hulle tuislande vir hulle voorbehou was.

Daar is gesê die dag gaan oor terugblik van hoe ver die ANC gevorder het. Suid-Afrika was in 2017 glo ‘n oneindig beter plek om in te leef as wat dit in 1994 was. Dit bots met die paragraaf hierbo. Wat van die huidige oorvol tronke, talle meer ernstige misdade, verswakte (rand)geldstelsel, afgradering van finansiële betroubaarheid, duurder lewenskoste, groter werkloosheid, ontwrigting van opvoedkundige instellings, en nog veel meer.

Daar is ook gesê dat die swartes nooit verskoning moet maak vir die regstel van wat onder apartheid verkeerd gedoen was nie. Daar word egter na niks verwys om die verkeerd van apartheid te bevestig nie, behalwe valshede. Sodanige bewerings wat in die lug hang dra ‘n vals boodskap van verkeerdhede wat nie bestaan nie.

Aanhoudende bewerings dat ‘n minderheid blankes tot 1994 in Suid-Afrika regeer het, skep ook ‘n wanindruk. Groot eie gebiede was vir die onderskeie volke binne Suid-Afrika se grense voorsien, naamlik Lebowa, Bophuthatswana, KwaZulu, Transkei, Ciskei, KaNgwane, Gazankulu, Venda en KwaNdebele. Dit is hulle hartlande.

Die blankes was slegs voogde totdat die onderskeie volke hulself waardig en met vertroue kon regeer. Dr. Verwoerd het op 5 Desember 1950 al verklaar die blanke glo in heerskappy (baasskap) in sy eie gebied en glo aan heerskappy (baasskap) van die Bantoe in sy gebiede.

Apartheid behels regverdige behandeling. Uiteraard is apartheid ingeweef in elke volk se onafhanklikheid. Dit bevat geen rassemeerderwaardigheid soos kwaadwilliges probeer voorgee nie. Ook nie onderdrukking van enigeen nie. Dit is juis erkenning van elke volk se regte en die skepping van ruimte om daardie regte te beoefen en ongehinderd uit te leef. Daar is geen rassehaat of rassisme aan apartheid te koppel nie. Digene wat rassisme aanhaal, probeer oproer bewerkstellig en moet ophou om self rassiste te wees. Wie is verantwoordelik vir die geweld en opstand wat tans landwyd voorkom. Geen ondersteuner van apartheid nie.

Kyk na die waarheid. 27 April word bestempel as vryheiddag, dog dit was die dag waarop ons blankes en die Transkei en Boputhatswana hulle vryheid van regering verloor het. Die ander swart tuislande wat goed op pad na onafhanklikheid was, het ook dit wat reeds bereik was, verloor. Aldus behoort 27 April eerder Aftakeldag genoem te word. Volke is hul vryheid ontneem, selfs met geweld en deur deelname van ‘n blanke president wat geen gevoel vir sy volkgenote het nie.

Wat egter ‘n feit is, ons volk sal weer ons vryheid ontvang, want ons het steeds die daadkrag van ons stoere ouers en voorouers; met apartheid as die beste regeerstelsel..