CHRISTENE MEES VERVOLGDE GROEP TER WÊRELD!

Politieke korrektheid dra grootliks by tot wêreldwye anti-Christelike sentimente en vyandskap wat kommerwekkend is. Dit baan die weg vir terroriste wat daarop uit is om die Christendom uit te wis. Só het ’n kundige op die gebied van godsdienstige vervolging aan Fox News gesê.

Volgens die webtuiste van Fox News, dui die tussentydse bevindinge in ’n verslag wat in April bekendgemaak en deur die Britse minister van buitelandse sake, Jeremy Hunt, aangevra is, daarop dat vyandelikheid nie net geografies aan die toeneem is nie, maar ook in intensiteit. In sommige gebiede is dit so erg dat dit aan die internasionale definisie vir volksmoord grens.

Die onlangse massamoord oor Paasnaweek op Christene in Sri-Lanka beklemtoon die feit dat die vervolging van Christene wêreldwyd besig is om toe te neem. Juliana Taimoorazy, president van die Iraqi Christian Relief Council en senior kollega by die Philos Project, het aan America’s News HQ gesê dat ISIS met volksmoord besig is. Sy meen daar behoort baie meer gedoen te word om hierdie vervolging te keer:

I believe the death of most people suffering today is truly because of political correctness, because the world turns a blind eye to this, and when we are politically correct, we are sympathizing with those terrorists that are destroying communities and erasing history, aldus Taimoorazy.

Die verslag is uitgebring kort ná die aanvalle in Sri-Lanka waartydens Islamitiese ekstremiste kerke en hotelle geteiken en 250 mense gedood en meer as 500 gewond het. Volgens Hunt het dit as ’n enorme skok gekom. Hy meen dat ons vir te lank aan die slaap was wanneer dit kom by die vervolging van Christene.

Dit is ontstellend wanneer besef word dat Christene die slagoffers is van 80% van alle godsdienstige vervolging wêreldwyd. Volgens Geopende Deure VSA is een uit elke nege Christene wêreldwyd ’n slagoffer van vervolging.

Volgens ’n verslag deur die Pew Research Centre oor die toestand van godsdiensvryheid wêreldwyd, word China aangedui as die land met die grootste teenkanting van regeringskant teenoor die Christendom. Die aanlynaankope van Bybels is byvoorbeeld kort voor Paasfees 2018 in China verhoed. Alles in ’n poging om Christelike simbole uit huishoudings te verwyder.

Volgens Geopende Deure VSA is die tien lande waarin Christene die meeste vervolg word:

1) Noord-Korea,

2) Afganistan,

3) Somalië,

4) Soedan,

5) Pakistan,

6) Eritrea,

7) Libië,

8) Irak,

9) Jemen en

10) Iran.

Buiten vir Noord-Korea en Eritrea, is hierdie lande oorwegend Moslem-lande.

Ten spyte van hierdie toestand, berig die webtuiste DesiringGod dat die Christelike kerk in Iran geweldige groei getoon het.

Sedert die Islamitiese revolusie wat in 1979 in Iran plaasgevind het, het die Christendom van ’n skamele 500 bekeerlinge vanuit ’n Moslemagtergrond, tot meer as 300 000 aangegroei (sommige meen selfs meer as ’n miljoen). Die vier belangrikste redes vir hierdie groei, is mense se ontnugtering met Islam, die vervolging van Christene, die verstrooiing van Iranse Christene oor die wêreld en die gebruik van die media en laastens die verspreiding van Bybels.

Met dank aan Die Boodskapper