OORLOG KAN TRUMP RED

Soos ons weet is die VSA en Iran al jare lank met ‘n skadu-oorlog besig. Die grootste rede hiervoor is die poging van beide die lande om die sterkste beheer en invloed op die Irakese regering uit te oefen. Amerika is veral onsteld oor die rol wat Iranese militante ondersteuners soos Khaitab Hezbollah speel. Laasgenoemde is verantwoordelik vir ‘n reeks aanvalle op die VSA-basisse in Irak waartydens verskeie Amerikaners gedood en talle gewond is. Dit het Trump natuurlik aangespoor om nog groter militêre operasies op die been te bring om Khaitab Hezbollah te probeer vernietig. Dit sluit moontlik ook aanvalle op Iran in wat kan lei tot die omvergooi van die Iranese regering.

Intussen het die inperking as gevolg van Covid-19 Amerika sleg getref wat die olieprys betref.

Daar word miljoene vate olie per dag geproduseer wat nie verkoop kan word nie terwyl die res teen ‘n laer prys as gewoonlik verkoop moet word. Daar is selfs al so baie gestoor dat Trump nie meer weet waar om dit te stoor nie; daarby soek hy nou na ‘n manier om die olieprys te herstel want Amerika se ekonomie lyk net soos baie ander lande s’n, nie juis rooskleurig nie.

Verlede week het omtrent ‘n dosyn Iranese “Revolutionary Guard Corps Navy (IRGCN)“ skepe ‘n vloot Amerikaanse skepe in die noordelike Persiese Golf op internationale waters geteister deur met groot spoed gevaarlike draaie om die Amerikaanse skepe te bly jaag. Hierdie is ‘n bekende gesig op daardie waters waar die twee lande mekaar al dikwels oor die jare met soortgelyke taktiek geteister het maar altyd kort voor werklike konfrontasie begin, dit stopsit.

Hierdie keer het Trump die moontlikheid ingesien om die olieprys te laat styg en het hy die Woensdag ‘n boodskap op Twitter geplaas waarin die VSA-Vloot opdrag gekry het om te skiet en elke Iranese skip op see te vernietig indien hulle weer so ‘n toertjie uithaal.

Onmiddellik na Trump se Twitterboodskap het die prys van olie gestyg. Normaalweg sou die oorsaak-en-effek-balans tussen die oorlogsdreigement en die styging in oliepryse nie veel uitwerking gehad het nie, maar hierdie is nie normale tye nie...

Daarom het Majoor-generaal Hossein Salami van Iran Donderdag op Trump se boodskap gereageer: ““I have ordered our naval forces to destroy any American naval force in the Persian Gulf that threatens the security of Iran’s military or non-military ships”.

Iran sal nie huiwer om terug te veg indien Amerika die Iranese skepe aanval nie. Die spanning tussen die twee lande het sedert Januarie reeds begin eskaleer nadat een van Iran se top militêre manne, Majoor-generaal Qassem Soleimani, in ‘n aanval deur die VSA op Irak gesterf het. Trump het toe ook gewaarsku dat die Pentagon 52 teikens op Iranese grond gemerk het wat sal deurloop indien Iran enige Amerikaanse burgers of besittings teiken. Hierop het Iran geantwoord dat hulle op enige aanval van die VSA met ‘n terugaanval sal reageer.

Daar is dus nie veel geduld oor tussen hierdie twee lande nie en soos ons die koddige Trump ken sal hy baie ver gaan om sy eie beeld te probeer ophef met groot vertoon, selfs al kos dit ‘n oorlog – maar darem ‘n oorlog wat sy olieprys sal laat styg...