KAN AMERIKA SINK?

Gaan die virus Amerika op sy knieë bring?

Teen 30 April 2020 het die Covid-19 virus reeds 61 500 Amerikaner s se sterftes veroorsaak. Dis nou as mens in aanmerking neem dat derduisende sterfgevalle aan die virus toegeskryf word wat beslis nie die geval was nie. Hoe dit ookal sy, Amerika het ook hier die “wêreldleier”geword, iets wat hy nie werklik wou wees nie.

Dit het ook die ergste ekonomiese insinking in Amerika veroorsaak sedert die Groot Depressie bykans 90 jaar gelede. Trouens, meer as 30 miljoen Amerikaners is reeds binne net 6 weke werkloos en die einde is nog nie in sig nie.

Die Spaanse Griep van 100 jaar gelede het 500 miljoen mense getref en tussen 20 en 50 miljoen sterftes veroorsaak waarvan 675 000 Amerikaners. Volgens Roger McGrath van Chronicles:

“Adjusting for the difference in the size of the American population then and now, that number will be equivalent to two million deaths today.”

Met die Spaanse Griep is Amerika nie gesluit soos nou nie, so mens sidder as mens dink waar hierdie tragedie gaan draai. En dis onwaarskynlik dat die hopelose Trump dit sal oorleef. Probleem is net dat die Demokrate se kandidaat, Joe Biden nog treuriger is as Trump. Mens kan nie dink dat Amerika twee sulke paloekas as presidentskandidate in Desember gaan stel nie. Heel moontlik sal Biden, weens onder meer die seksuele klagtes teen hom, dit nie maak nie en kan Hillary Clinton (Satan in vrouegewaad), weer haar verskyning maak.

Tydens die Groot Griep van destyds was Amerika boonop vasgevang in ‘n Wêreldoorlog en het hulle die griep eenvoudig geïgnoreer ten einde hulle stempel op die wêreld af te dwing. Die Groot Depressie het, soos ons weet nie vir weke en maande geduur nie, maar vir baie jare – vanaf 1929 tot aan die vooraand van die Tweede Wêreldoorlog in 1939. Dus so om en by 10 jaar. Besef u wat op ons wag?

Ekonomiesgesproke het die Groot Depressie verwoesting aangerig, ook hier in ons eie land en het ons eie ouers daarvan getuig. Mense was baie arm. Brandarm. Interessant genoeg het onsNuwe Groot Depressie reeds die Groot Depressie, wat betref werkloosheid, verbygesteek. Tydens die Groot Depressie egter het die Amerikaanse effektebeurs 90% van sy waarde verloor. Hier by ons en in die VSA is effektebeurse al erg geraak, maar lê die ergste waarskynlik nog voor.

President Franklin Roosevelt ensy Demokrate het beide die Huis van Verteenwoordigers en die Kongres in die VSA beheer vanaf 1930 tot 1946. Roosevelt is nie minder as vier keer gekies en herkies nie en het in 1936 slegs 2 van die 48 state (destyds) verloor. Die oorlog was sy redding en daarom kan ons glo dat Trump oorlog sal maak om homself te red, alhoewel dit verdere verdriet vir Amerikaners gaan veroorsaak, want daar sal geld vir wapens wees, maar nie vir kos nie.

Meer mense gaan hulle lewens verloor weens die ekonomiese impak van Covid-19 as weens die virus self. En in Amerika gaan die Republikeine die spit daarvoor moet afbyt tensy ‘n oorlog hulle red. Maar ‘n oorlog teen wie? Teen Sjina? Nie maklik nie. Sjina is nie Irak of Afghanistan nie en die Amerikaners sal baie dom wees om Sjina op die grond (op land) te probeer aanval. En Iran? Wel, ja, deur lugaanvalle, maar eweneens sal Amerika twee keer moet dink om “voetsoldate” daar in te stuur. En as Iran skepe kelder in die Straat van Hormuz het Saoedi-Arabië, Amerika se grootste bondgenoot in die Midde-Ooste, geen manier om sy olie uit te voer nie.

Maar Amerika het nog altyd oorlog gemaak om homself polities te laat geld. En hierdie keer sal dit nie anders wees nie. Of dit die Republikeine gaan red sal mens maar moet sien. Hulle is juis uit die kussings gelig vir 16 jaar na die Groot Depressie en mag die geskiedenis homself dalk weer herhaal.

Die Amerikaanse ryk is egter innnerlik verdeeld tot by ‘n punt waar die gewone Republikein op straat sy Demokratiese buurman haat (danksy Fox) en die Demokraat sy Republikeinse landgenoot as ‘n uitwerpsel (“deplorable”) aansien (danksy CNN). Die VSA is ‘n nasie in homself verdeeld. Dit is Amerika vandag. Die ideale resep vir die verdwyng van die Amerikaanse ryk, net soos dit was in Rome en Jerusalem duisend jare gelede. Innerlike verdeeldheid was nog altyd die rede vir ‘n ryk (en ‘n volk) se val. Dit kan dalk weer die geval wees.

Die virus gaan Amerika baie hard slaan. En in plaas daarvan dat dit hulle tot eenheid dwing het dit duidelik die teenoorgestelde uitwerking. Toe Jeruslaem in 70 n.C.onderbeleg was (en Jesus se voorspelling vervul is), het die Jode (terwyl hulle die dood in die gesig gestaar het) ondermekaar baklei. Van saamwerk en eenheid was daar geen sprake nie. So het hulle hulle lot verseël.

Hoe gaan Amerika hierdie krisis oorleef as hulle (te midde van die moontlik naderende einde van die Amerikaanse ryk) mekaar aan die kele beet het?