WATERBOBBEJAAN (14)

Ben Venter 

Lees reeks by Waterbobbejaan

"Vang die perde en haal die saals af!" beveel die boer. Die drie perde is moeg en hulle is op 'n terrein wat hulle ken en tussen mense wat hulle altyd goed behandel het. Dit duur nogtans 'n tydjie om hulle tot bedaring te bring.

"Saal vir ons drie ander perde op. En julle twee kom saam met my. Laat haal gou julle knopkieries by die statte." Terwyl die Bantoes die perde opsaal, gaan haal hulle seuns die enigste wapens wat hulle toegelaat is om op die plaas te dra. Hulle moet iets hê om hulle mee te verdedig in die bos.

“Watter koers gaan jy inslaan, Kootjie?"

"Ons sal maar agter die rantjies om ry. Ek het hulle belet om naby Waterbobbejaan se grot te kom en hulle het nie vir my gesê dat hulle van plan is om daar naby verby te ry nie. Ek raai ook maar."

Hulle het net so gemaak soos ek gewoonlik doen, dink die Alleenloper. Mens weet nie wat hulle plan is nie. Hy het lus en skop die seuns as by hulle ooit weer sien.

Hy gaan kombuishoek toe en vat sy Krag-Jorgensengeweer. Hierdie geweer is akkurater as sy Steyr op die eerste paar honderd tree. Die roer het ook 'n groter slaankrag op 'n kort afstand. Hy is vasberade om die luiperd op kort afstand te skiet. Hy moet hom eens en vir altyd van die gras afmaak. Hy gaan hom ook nie bekruip nie, hy gaan hom met oopvisier skiet.

Sakamatlakobata voel hulpeloos sonder sy honde. Hulle sou vir hom spoor kon sny. Dis ook maar 'n skrale troos: hulle het nog nooit getoon dat hulle dit goed kan doen nie.

"Sit kerse in al die vensters. Dis 'n stil nag; hulle sal nie doodwaai nie. Miskien verdwaal die seuns. Dit sal hulle help om die opstal te vind. Beter nog, laat die werkers 'n groot vuur op die werf maak, sommer baie groot en hou hom die hele nag deur aan die brand."

Toe vertrek hy en sy Bantoes in 'n suidwestelike koers om agter die rantjies te kom wat in 'n halfmaan suid van sy woning geleë is.

Hy brand van haastigheid, maar as hy aanhoudend vinnig ry, dan sal dit sy doel verydel. Elke paar honderd treë trek hulle die perde in en dan skiet die boer 'n skoot in die lug af en luister 'n paar minute lank.

Wat hom moedeloos maak, is die feit dat hy nie weet of die seuns sommer deur die veld gery het en of hulle met die beespaadjies langs gegaan het nie. Hy besluit om die paadjies te volg. Dis 'n donker nag en hy wil nie graag verdwaal nie. Hy het geen vertroue in die Bantoes nie, want hy het lankal vasgestel dat die storie dat hulle nie kan verdwaal nie en dat hulle die bos uit hulle koppe ken, sommer bog is. 'n Witmens wat oplettend is, is baie koersvaster as enige Bantoe. Boonop ken hy sy sterre terwyl hulle net altyd op die grond kyk. In 'n donker nag is hulle so min werd soos 'n gansmannetjie.

Hy gee sy perd taamlik vrye teuels en hy sien dat die perd mooi al om die rantjies koers kry.

Sakamatlakobata hou nietemin die Suiderkruis kort-kort dop. Hy wil weet waar hy hom bevind. Na 'n uur laat by die perde blaas. Hy staan mismoedig langs sy perd en steek sy pyp op.

As hulle maar net vuurhoutjies gehad het , dan kon hulle die roofdiere met 'n vuur weghou," dink hy hardop. "Hulle het vuurhoutjies, Oubaas," sê Abel.

"Hoe weet jy dit?"

"Ek het gesien die ounooi sit vuurhoutjies in baas Piet se sak. "

"Wanneer het jy dit gesien?"

"Toe ek vuurmaakhout kombuis toe gebring het, Oubaas."

Dankie Vader, dink by.

"Kyk vir 'n vuur," beveel by toe hy vinnig op sy perd spring.

Maar sê nou hulle ry om die rantjies en kom weer by die opstal uit en sien geen vuur nie? Dan moet hy die ergste verwag.

Hy het nogtans nuwe hoop gekry.

Daardie vervlakste patrone. Waarom het hy die goed nie weggegooi nie? Dis omdat hy van kleins af geleer is om niks weg te gooi nie. "Bêre elke stukkie metaal wat jy sien rondlê," het die oumense altyd gesê. "Mens weet nooit nie. Voordat jy dit sewe jaar lank gebêre het, kry jy dit nodig."

Dis ook sommer bog, dink hy. Ek leef nie meer in die tyd van die Groot Trek nie. En kyk watter ellende het dit nou vir my meegebring.

Agter die waterval spring die boer se perd sonder enige waarskuwing weg na die regterkant. As Sakamatlakobata nie 'n bedrewe ruiter was nie, sou hy links op die grond beland het. Maar toe die perd regs wegspring, gooi hy sy gewig ook regs en skop baie styf in sy linkerkantste stiebeuel vas.

Hulle bring die perde tot bedaring. Toe laat hy Abel sy perd vashou en hy begin vuurhoutjies trek. Dis soos hy vermoed het: tierspore, bloed en diep ingetrapte perdespore.

"Abel, hou vas ons perde. Trappies, bring hout nader dat ons hier 'n vuur kan maak." Intussen staan hy met 'n oorgehaalde geweer.

Abel hou die perde vas, wind op van die spore en bloed.

Sakamatlakobata skiet 'n paar skote met gereelde tussenpose. Hy weet dit sal nie veel help nie, want die waterval druis hard na die groot reën van 'n paar dae gelede.

Hier bly ek tot dagbreek, besluit hy. Hulle was laaste nog hier gewees. Kort-kort vat hy 'n stomp wat mooi brand, en loop in verskillende rigtings totdat die vlam doodgaan.

Dis vir hom half bemoedigend dat hy absoluut niks van die kinders gewaar nie. Die luiperd sal miskien een kan wegdra, maar nie al drie nie. En as hy vir Piet in die hande gekry het, sal die geweer nie ver van die vuur af lê nie. As mens met 'n nuttelose geweer niks kan doen nie, sal jy hom so gou moontlik los en ‘n ander wapen gryp, al is dit net 'n stok of klip. Dit was die mens se eerste wapens.

Waar is Waterbobbejaan? Hy wonder die hele nag deur. Dis vir hom byna 'n groter bekommernis as die luiperd. As hy skape vang en eet, sal hy 'n kind nie ontsien nie. Veral na die aand in die boord.

Hy staan nou daar soos 'n hulpelose by die luiperd se spore en slegs twee honderd tree van Waterbobbejaan se grot af.

Toe dit begin lig word, is Sakamatlakobata lam van spanning. As iemand my nou skrikmaak, dink hy, spring ek oor 'n boom. Hy het ook nie tyd gehad om aan honger of dors te dink nie.

Die boer staan met sy rug na die waterval. Die rotslaag bokant die waterval is so gelyk soos 'n tafel se blad. Dit lê ook presies horisontaal.

Trappies staan oorkant die vuur en kyk toevallig na die plat rots.

Hy sien 'n kop wat stadig agter die rots uitkom. "Oubaas! Kyk agter jou!" Hy wys na die waterval se kant. Toe Sakamatlakobata omkyk, is die skouers ook al besig om uit te kom.

Hy skrik so dat sy pyp uit sy mond val.

Toe Willem en Koos vaak word, sê Piet: "Gaan slaap maar. Ek sal hier sit en wag hou totdat ek vaak is, dan sal ek een van julle wakker maak om verder wag te hou. As hy vaak is, moet die ander een weer kom sit. So sal ons beurte maak tot die dag breek."

Koos en Willem het baie gou vas aan die slaap geraak. Die honde slaap lankal. Hulle lê lank uitgestrek met hulle pense na die vuur.

Piet wil so lank as moontlik sit sodat die ander twee goed kan uitslaap. Hulle is darem nog jonk.

Hy is doodgerus. Die geweer is onder sy regterarm, oorgehaal en die veiligheidsknip is af. Hy kan onmiddellik skiet.

Die seun gooi kort-kort hout op die vuur.

Hy kyk aandagtig na die bek van die grot. Maar terwyl hy kyk, word daar na hom gekyk. Hy wag; iets anders wag ook.

Kleinvannaggie, net voor die son opkom, snork Piet soos hy slaap. Hy het nie eers een van die ander wakker gemaak nie. Die spanning, die vuur en die geruis van die waterval het hom bekruip.

Waterbobbejaan klim stilletjies van sy lysie af. Al sou daar nie 'n waterval gewees het nie, sou niemand hom in elk geval gehoor het nie.

Prins kap onrustig met sy een poot in die lug rond. Waterbobbejaan staan doodstil. Prins draai op sy pens om en slaap voort.

Waterbobbejaan kom nader. Hy kom by Willem en sit sy hand op sy kop. Hy voel aan die seun se hare. Dit voel soos syne. Hy gaan staan regop en bekyk die drie seuns.

Toe buk by vooroor en voel aan Koos se velbroek en sis-hemp. Dis die eerste keer dat hy met so iets kennis maak. Hy stryk liggies daaroor.

Terwyl Sakamatlakobata met 'n oopmond kyk, kom 'n tweede en 'n derde kop te voorskyn en toe twee honde. Hy kan nie 'n woord uitkry nie. Hulle kom uit Waterbobbejaan se grot uit!

Die boer gee 'n skreeu, maar hy is so hees dat hy feitlik geen geluid uitkry nie en boonop raas die waterval te hard vir hulle om hom te hoor. Hy sien hoe hulle gras en takkies op 'n brandende stomp gooi.

Toe gryp hy sy geweer en begin hardloop. Die seuns staan na die plaaswoning en kyk en skrik hulle lam toe hulle pa tussen hulle instorm.

Vir die eerste keer sedert hy groot is, huil die Alleenloper onbeskaamd. Hy soen hulle weer en weer. Hy kan nie praat nie. Hy streel die honde en soen die kinders weer.

Hy beheers homself en sê kortaf: "Bring groen gras en gooi dit op die vuur!" Hulle staan op die krans en waai na die opstal. Na 'n paar minute sien hulle hoe die hele Blanke-en Bantoebevolking voor die voordeur staan en terugwaai.