GEESTE EN GEDAANTES (4)

Lees reeks by Geeste en Gedaantes

Spookstories “Vir die Waarheid” (SLOT)

Die moord op Donkerhoek

Die ou dokter sit eers so ‘n rukkie stil en bekyk sy vriende waarvan nou altwee voldoen het aan die ooreenkoms om te vertel van hulle eie persoonlike ontmoeting met die bonatuurlike. Hy, wat oorspronklik die voorstel gemaak het, kom volgens die uitspraak van die lootjies wat hulle moes trek, derde aan die beurt. Die ander drie wag nou belangstellend op hom.

“Wat ek julle gaan vertel is iets wat ek nooit sou geglo het nie. As ‘n ander mens dit aan my moes vertel, sou ek hom eenvoudig uitgelag het en hom beskuldig van ‘n sieklike verbeelding. Ek, as wetenskaplike man, mag my nie aan sulke stories steur nie... en tog, my eie oë en sintuie moet ek tog ten minste glo, nie waar nie?

“Dit was kort nadat ek afstudeer het in die medisyne, dat ek vir ‘n ander dokter op die dorpie Rietpoort plaasvervanger gaan speel het terwyl hy drie maande vakansie gaan hou het.

Die wêreld daarlangs was vir my onbekend, maar die mense was vriendelike en gasvry en die paar maande daar sou altyd vir my van die aangenaamste herinnerings in my hele lewe wees – wat dit nie vir daardie een gebeurtenis wat onuitwisbaar op my geheue gegrif staan en vir my so onverklaarbaar is dat ek dit aan die groot en onverstaanbare bonatuurlike moet toeskrywe, want ons kan waarneem, maar nie deurgrond nie. Maar laat my nou tot die vertelling kom.

“Een middag laat word ek uitgeroep na die plaas Donkerhoek, nie te ver van die dorp af nie, en daar ek baie lief was vir perdry, het ek te perd daarheen gegaan, om sommer tegelykertyd ‘n bietjie heerlike oefening te kry. Op die plaas gekom, het die eienaar my na ‘n buitekamertjie op die werf geneem en daar het ek ‘n ou man aangetref wat blykbaar baie ernstig siek was. Mnr Viljoen, die eienaar van die plaas vertel my toe dat dit ‘n ou man is wat sowat ‘n week gelede daar aangeloop gekom en om herberg gevra het. Die arme ou skepsel was uitgehonger en swak, en hulle het hom toe maar die ou buitekamertjie gegee om in te slaap en hom goed gevoed. Maar die ou se kragte het bly afneem en soms was hy heeltemal ylhoofdig en dan kon hy sulke deurmekaar goeters praat, soms baie wreedaardig te kere gaan en ander tye lê die armsalige ou vreeslik droewig en snik en huil as hy weer van die ylhoofdigheid regkom. Mnr Viljoen en sy gesin was natuurlik opgeskeep met die ou siel maar uit jammerhartigheid het hulle hom maar goed versorg en toe dit die aand blyk dat hy ernstig siek is, het hulle besluit om maar die nuwe jong dokter te laat roep om tog maar die lyding effens te versag.

“Toe ek die sieke ondersoek, het ek dadelik gemerk dat die einde naby was, want die lewensdraadjie was maar baie tingerig. ‘n Mens kon sien dat hy baie verwaarloos was en die spore van verdriet en swaarkry was duidelik sigbaar. Die droewige gesig, met yl bos baard, deurmekaar lang hare, wilderige oë en vervalle wange, was een wat ‘n mens nie gou sou vergeet nie. Ek het gedoen wat ek kon vir die ou en lank by sy sterfbed gestaan. Dit was vir my al of hy met my wil praat en my iets vertel ; so ‘n gevoel het ek gehad; maar hy was blykbaar meer deurmekaar as iets anders en het so tussenin allerhande deurmekaar dinge gepraat, wat ek maar geduldig gestaan en aanhoor het. Wat hy gepraat het, het later van belang geblyk te wees.

“ ‘Dit is my plaas hierdie ...’ het hy telkens uitgeroep. ‘Myne, myne, myne... ek is baas hier... julle moet weg! Waar is Truitjie?... Truitjie! ... ek draai sy nek om... Nou het ek jou...’

“Dan gee hy ‘n gil en word weer effens reg en gaan aan huil dat dit ‘n naarheid is.

“Wel, so het dit ‘n hele tydjie geduur totdat ek naderhand sien die dood tree nou vinnig in. Sover mediese hulp dit kon doen, het ek sy laaste uur vir hom probeer verlig want die arme siel was duidelik nie net in liggaamlike pyn nie maar het ook ‘n hewige sielesmart deurgemaak. Ek kon daar natuurlik geen kop of stert van uitmaak nie en het dit maar aan pure waansin toegeskryf. Toe ek hom eindelik die laaste diens bewys, sy arms oor sy bors vou en sy oë toedruk, was ek ook taamlik afgemat want nooit vir een oomblik het ek van hom af weggegaan nie.

“Daarna het ek nie lank versuim nie. Ek het mnr Viljoen gaan meedeel dat die ou man dood is en, nadat ek met hom, sy vrou en dogter saam ‘n koppie koffie geniet het, laat ek weer my perd opsaal om dorp toe te ry want dit het al begin donker word. Aan die vriendelike uitnodiging om eers aandete te gebruik, kon ek nie voldoen nie, daar ek bemerk het dat die weer dik en die weerlig skerp was en ‘n storm gedreig het. Toe wou ek maar liewers seker maak om die aand nog die dorp te haal, want daar was ‘n hele paar gevalle wat ek moes gaan besoek.

“Op ‘n stywe galop ry ek weg van mnr Viljoen se huis met die pad wat deur ‘n kloof tussen twee rante gaan. Ek steek maar spore in want die weer kom aan en ek is sonder jas. Ek was nog maar jonk daardie dae en nie so gehard teen siekte en sterfgevalle as wat ek later gedurende ‘n leeftyd se praktyk as dokter geword het nie. Gevolglik was dit heeltemal natuurlik dat ek my gedagte nou maar eenmaal nie kon laat afwyk van daardie arme ou sterweling wie se oë ek vanaand daar moes toedruk nie. Ek het gewonder wat die arme ou drommel in sy leeftyd moes deurgemaak het en wat sy geskiedenis was. Ons het nie eers sy naam geweet of waarhy vandaan kom nie. En wat sou daardie praatjies van hom beteken? Was dit sommer die waansinnige praatjies van ‘n ylhoofdige of was daar iets wat hy graag aan my wou vertel voordat hy die aarde verlaat? Ek kan maar nie daardie uitdrukking op sy gesig vergeet nie! Ek kon nie anders as om te voel dat hy my ‘n boodskap wou gee of my iets wou meedeel nie; maar daarvoor was hy toe al te swak en ylhoofdig.

“So sit ek ingedagte toe my perd deur die ander end van die poort uitgalop. Nou blits dit dat dit ‘n naarheid is en die gedreun van ‘n storm kom al nader. Ek druk weer spore in die ponie se sy. Maar meteens steek die perd vas en spring skuins weg, sodat ek moes vasklou of ek val van sy rug af. Ek gee hom ‘n vinnige raps, maar die perd wil nie vorentoe, gaan staan op sy agterpote en gaan aan snork en blaas.

“Ek kyk voor in die pad en skrik my byna lam want daar voor in die pad, omtrent tien treek van my af, aan die kant van die pad staan ‘n wit, menslike gedaante. En ek hoor ‘n geween en gekerm wat my yskoud laat voel.

“’Kom help... help...   my man vermoor hom...   o tog maak gou...   hy word vermoor... kom help!’ kom die gille en gekerm in ‘n vrouestem wat ‘n vreeslike angs verraai. Die vrou draai om en hardloop tussen die bosse deur, met die aanhoudende gegil en geroep van ‘Kom help... help...!’

“Ek was verskriklik onthuts maar darem nog nie so dat ek verbouereerd was nie. Ek ruk die perd in sy bek om agter die vrou aan te jaag om te sien wat dan aan die gang is maar die perd weier ten enemale om ‘n tree te versit en bly maar agterop spring met ‘n geblaas en gesnork. Ek spring van die perd af en maak hom gou vas aan ‘n boomstam aan die kant van die pad en slaan voet al agter die vrou aan. Ek hoor haar nog huil en skree en volg toe maar die rigting van die geluide. Meteens flikker daar ‘n helder blits en kon ek haar sien vooruithardloop in die rigting van ‘n verlate huisie teen ‘n hoogte anderkant die bosse.


Die vervalle huisie het ek die middag met my koms opgemerk. Ek hardloop toe so hard as wat ek kan agter die vrou aan en sien haar deur die ingang van die huis verdwyn en ek agterna. Dis natuurlik baie donker maar die blitse gee my kort-kort ‘n kans om alles mooi te sien. Ek spring ook by die deur in. Ek gewaar ‘n verskriklike lawaai daarbinne. Aan die een kant hoor ek die vrouestem aanhoudend gil: Asseblief tog, moet hom nie doodmaak nie!... help... help! Jy vermoor hom!’ En by die flikker van die blitse sien ek twee mans worstel. Die een het die ander aan die keel beet en verwurg hom. Die bloedstollende geroggel en gewurg is aaklig.

“Ek wil byspring om die twee van mekaar afte ruk maar in die donker ontduik hulle my altyd en ek kan geen vat aan hulle kry nie. Of ek gepraat of geskree het, weet ek nie want ek was toe al in so ‘n toestand dat ek nie presies geweet het wat ek doen nie. Net maar as die blitse lig in die vertrek werp, kan ek die vreeslike toneel vir ‘n oogwink aanskou. Nog altyd die afskuwelike verwurgery en geroggel, onderwyl die vroumens onophoudelik skree om hulp en soebat.

“Eensklaps verlig die blitse weer die kamer, en ek sien die twee stoeiendes reg voor my en kyk in die gesig van die man wat die ander een verwurg. My bloed staan stil, my hare rys op my kop en ek voel my arms en bene word lam en slap. Die gesig van die man is dieselfde as dié van die dooie man wat ek kort tevore in die buitekamer op Donkerhoek gelaat het.

Die ou dokter bly effens stil , vee sy voorhoof af en sit in diep gepeins onderwyl sy maats afwagtend na hom sit en kyk.

“Is dit vir my nodig om my gewaarwordings te beskryf? My keel slaan toe en ek kan geen geluid uit nie. My liggaam voel verlam en ek kan geen stap vooruit of agteruit doen nie. Ek staan maar net in groot skrik en benoudheid die vreemde en onaardse toneel aan te staar en die geluide en gekerm aan te hoor. Watter vreemde verskynsel is dit ? Minder as ‘n uur gelede het ek self die oë van daardie lyk toegedruk; self was ek by toe die laaste asem uitgeblaas is, en hier voor my is dieselfde mens besig om ‘n ander te verwurg! Was ek beroof van my sinne?

Die aaklige gewurg hou meteens op en vir ‘n oomblik hoor ek net die jammerlike gekerm van die vrouestem maar dis pikdonker en ek sien niks nie. Buitekant dreun die donker en die elemente gaan te kere. By die lig van ‘n bliksemslag sien ek die vrou met ‘n doodse benoudheid op haar gelaat teen die muur wegdeins, wydversperde, wilde oë wat vol angs staar na die man wat nou stadigaan na haar kant toe kom. Hy is nie meer as ‘n tree van my af nie en weer herken ek die gedaante van daardie man wat daar in die buitekamertjie doodlê. Ek sien die wrede uitdrukking op sy gesig terwyl hy stadig, met uitgestrekte hande, in die rigting van die beangste vrouewese teen die muur gaan. Ek hoor die vrou verskriklik hard gil en daarna hoor ek wurg, wurg, wurg – die geroggel van die naderende dood...

“Wat toe gebeur het, kan ek nie vertel nie – ek weet eenvoudig nie. Toe ek tot besinning kom, hardloop ek so hard as wat ek kan die hoogte af na die pad se kant. Ek bereik my perd en met groot moeite en gesukkel beklim ek hom en swaai hom om, terug na mnr Viljoen se woonhuis. Ek steek net spore in en die perd loop soos ‘n dwarrelwind deur wind, reën, donker en blits, terwyl ek aan die maanhaar en saalboom vasklou.

“Soos ek later moes verneem, het mnr Viljoen my bewusteloos voor sy deur opgetel. De geklap van perdepote het hom die huis uitgebring en hy was net betyds om my van die saal te sien afrol. Hulle het my glo die huis ingedra en toe ek weer regkom, was hy en sy vrou die dokters en ek die pasiënt. Ek was egter gou weer by my sinne. Ek het mnr Viljoen eenkant geneem en hom so goed ek kon die vreemde ondervinding van die aand vertel. Onderwyl ek so vertel, bemerk ek dat hy baie ernstig sit en luister, nie ‘n woord tussen-in gesê nie en naderhand bleek geword. Dit was vir my vreemd, maar ek gaan aan met my verhaal. Toe ek klaar was, sit hy ‘n oomblikkie stil en vra my naderhand:

“ ‘Dokter, sê my, op jou erewoord, het iemand jou al enigiets omtrent hierdie plaas vertel?’

“Ek verseker hom dat niemand nog ooit vir my ‘n woord gerep het van hierdie omtrek nie; dit is trouens die eerste keer dat ek hier kom en ek is totaal onkundig omtrent enige sonderlinge geskiedenis van die plek of omtrek. Toe begin hy my vertel:

“ ‘ Hierdie plaas het jare gelede aan ‘n man met die naam van Karl Bosken behoort. Hy was bekend as ‘n temperamentvolle persoon wat ‘n baie kwaai humeur gehad het. Hy was ‘n Skandinawiër en is hier met ‘n Afrikaanse meisie getroud, maar sy huwelikslewe was nie gelukkig nie. Hy was uitermate jaloers en het hom altyd glo verbeel dat sy vrou nie getrou aan hom sal wees nie, hoewel hy skynbaar geen rede daartoe gehad het nie. Maar hy het haar naarstiglik opgepas en soms selfs toegesluit in die huis Daardie vervalle ou huisie waar jy vanaand was, was sy woonhuis. Daar was baie sprake onder die bure dat hy sy vrou mishandel het, want sy het daar altyd so treurig en mismoedig uitgesien. Die wat haar geken het, vertel dat sy ‘n edele vrou was en vir hom ‘n eersteklas lewensmaat sou wees as daardie duiwel van ongeregverdige jaloesie hom nie beetgepak het nie.

“Daar was ‘n jongkêrel in die nabyheid wat ‘n ou vriend van haar was, en dié het af en toe by hulle gaan kuier, maar dit word verseker dat hy geen bybedoelings gehad het nie. Hy het hom natuurlik naderhand oor haar toestand bekommer en meer dikwels daar gekom om haar te probeer troos en ander geselskap te gee as wat die ewig-agterdogtige man haar kon verskaf. Wat toe eintlik gebeur het, kan nie met juistheid vasgestel word nie maar dit blyk dat die jaloerse man een dag van die huis weg moes gewees het en toe hy die middag laat tuiskom, kry hy die jongkêrel daar met sy vrou sit en gesels – altans dit is die gissing – en toe het daar ‘n lelike treurspel plaasgevind. Bosken het in ‘n vreeslike woede geraak...   en die uitslag was dat mense ‘n paar dae later twee lyke in die voorhuis kry lê het: dié van die vrou én van die jong vriend. Dit was duidelik dat albei verwurg was. Karl Bosken het spoorloos verdwyn en niemand het hom ooit weer gesien nie; die gedagte was dat hy na Midde-Afrika gegaan het om die gevolge van sy misdaad te ontvlug. Uit daardie geweste daartoe gemagtig het ‘n agent later aan my vader hierdie plaas verkoop en ek het dit van my vader geërwe.

“Maar wat het hierdie ou rondloper wat daarbuite dood lê, dan met die saak te doen?” vra ek hom.

“Ek het sy gesig duidelik gesien, dit was hy, of sy gedaante!”

“Mnr Viljoen sit ‘n paar oomblikke stil en vertel my toe, nadat ek weg is, hy na die lyk gegaan het om te sien of hy nie iets oor die afgestorwene kon uitvind nie, wie hy is en waar hy vandaan kom. In die oorledene se baadjie het hy ‘n pakkie papiere gevind – weggesteek tussen die voering en die kleed, wat onbetwisbare bewys lewer dat dié man Karl Bosken self was, wat na jare van rondswerwe teruggedwaal het om op Donkerhoek te kom sterf, digby die toneel van die afgryslike moord op sy vrou en haar vriend.

“En wat ek daardie aand daar in die vervalle ou huisie moes gadeslaan, was net ‘n herhaling, op ‘n onverklaarbare en bonatuurlike wyse, van die treurspel wat veertig jaar gelede daarin afgespeel het – en dit ‘n halfuur na ou Karl Bosken se dood.”

Die dokter bly stil. Die vier ou maats sit mekaar en aankyk, sonder om ‘n woord te uiter. Die deur gaan oop en ‘n vrouestem sê:

“Ou man, ek dink dis nou lankal tyd vir jou om te kom slaap.” Dis sy vrou wat binnegekom het: ‘n waardige, gryshoofdige moeder.

“Waaroor gesels julle vier so lank en ernstig vanaand?”

“Die dokter vertel ons nou so ‘n stukkie wonderlike geskiedenis, mevrou, dat ons heeltemal verbyster is daaroor,” antwoord die dominee.

“Seker van die moord op Donkerhoek, ne? Maar hy het julle seker nie vertel hoe baie hy daarna weer op Donkerhoek kom kuier het nie; dat ek die nooientjie was wat hom daardie aand help lawe het en dat ons hom die ander dag met moeite van die plaas kon wegkry, omdat hy net gedurig om my gedraai het,” lag sy skelmpies.

“Ja, ou vrou,” sê die dokter, “was dit nie vir daardie vreemde gebeurtenis wat my die aand na julle huis teruggejaag het nie, sou jy nie so ‘n goeie man gekry niet nie. Kom ons gaan slaap.”

EINDE